Seuntjie red vrou toe bul haar storm

Wilson saam met die brahmaanbul (Foto: Facebook)

Myra Marais, ʼn veearts in Limpopo, is vandeesweek wonderbaarlik deur ʼn jong seuntjie gered toe ʼn brahmaanbul op haar afgestorm het.

Marais (26) is ontbied na ʼn plaas in ʼn afgeleë gebied in Muthale, in die noorde van Limpopo, om ʼn siek brahmaankalfie te ondersoek. Die kalfie het hartwater, ʼn siekte wat deur bosluise versprei word, opgedoen.

Marais het ʼn inskrywing op Facebook gemaak om te verduidelik hoe die buleienaar se seuntjie, Wilson, haar lewe gered het.

“Dit het verskriklik gereën in die omgewing die afgelope tyd, en terwyl ek die kalfie so ondersoek in kniediep modder en skouerlengte gras, het die eienaar en sy seun die kalfie se baie beskermende ma in toom probeer hou. Die bul het toe skielik besluit dat hy genoeg gehad het van my. Dié brahmaanbul, met ʼn gewig van 650 kg, begin toe op my afstorm. En soos die meeste mense weet, is brahmane nie diere om mee skoor te soek nie!

“Uit die hoek van my oog sien ek toe ʼn klein lyfie wat uitgehardloop kom en reg voor my kom staan, tussen my en die bul. Ek het vir hom geskree om uit die pad uit te kom, maar hy het net daar gestaan, totaal en al vol selfvertroue met een klein handjie in die lug uitgesteek. Soos in die flieks, het die bul toe in sy spore gestop en voor die seuntjie gekniel.”

Marais kon nie glo wat sy sien nie. “Dit was wonderlik. Dit wys net die totale geloof en respek wat die bul vir Wilson het. Ek het die volgende dag teruggegaan en die foto geneem, toe dinge ʼn bietjie rustiger was,” het Marais gesê.

Selfs Wilson se pa, Paulo, kan volgens Marais nie die bul soos Wilson beheer nie. “Wilson het saam met die bul grootgeword, so hulle het ʼn baie sterk band. Mense sal verbaas wees as hulle die hegte band sien wat die mense in sulke afgeleë plekke met hul diere het; baie ander veeartse sal ook daarvan kan getuig. Die diere is só geheg aan hul eienaars, en hulle het die wonderlikste verhoudings met mekaar.”

Toe Marais die volgende dag teruggegaan het om ʼn foto te neem en dankie te sê, het Wilson ook gemaklik by die bul gaan staan, hom gevryf en vir die kamera geglimlag. “Paulo was baie trots, nie omdat die seun die bul gekeer het nie – vir hulle was dit ʼn baie onbelangrike gebeurtenis – maar eerder oor die hegte verhouding en vertroue wat Wilson en die bul deel.”

Marais het vir Wilson ʼn geskenkpak gegee waarin sy kruideniersware en lekkers gesit het.

“Ek het nie woorde gehad nie. Die geskenkpak is saamgestel uit baie basiese goed wat ek gedink het hulle nodig het, en dan ʼn paar lekkers vir Wilson,” het sy gesê.

Marais en Wilson praat nie mekaar se taal nie en kan mekaar daarom nie verstaan nie. Hulle het meestal in handgebare gekommunikeer. “Toe ek die geskenkpak vir hom gee, het sy klein ogies behoorlik opgehelder. Hy het op sy knieë voor my gegaan om sy dankbaarheid te wys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Theresa ·

Wow! dapper knapie. Voorwaar ‘n besondere band met die kolos van 650 kg. Dankbaar dat als goed afgeloop het – sjoe.

Hennie ·

Dis soooo nice om iets positiefs weer te lees!! Maar ek moet ook se daai seuntjie het wel groot geword saam daai bul maar hy bly maar braaf om voor hom te gaan staan en met een handjie daai dier te laat stop!! Well done Wilson!!!!!!

Dan ·

Hoe kosbaar is dit nie.. Bewyse dat daar wel nog goeie harte(tjies) in die wereld oor is. Mag ons almal hieruit leer!!

Wenner ·

Jinne wat n pragtige berig om te lees! Dis net die Here wat so iets kan laat gebeur! Alle eer aan Hom!

Landi ·

Dit is regtig n baie mooi storie. Ek weet wat dit is om n band met diere te hê, ek het ook my my bul van “baba” dae af grootgemaak en hy het eendag gaan moeilikheid soek met die bure se bul en ons buurman het uitgestorm met sy geweer wat mens kan bulle nie maklik uitmekaar kry nie…volgens hom… Ek het ook ingestap en my bul op sy boud geklap en hom huis toe gejaag, die mense was ook baie verstom oor die voorval, maar dit gebeur as jy n besonderse band het met diere. Wilson jy is n awesome seuntjie

Andrea ·

Wat n fantastiese verhaal. Mooi so klein Wilson! Nie net is jy n dapper knaap nie, jy het ook n hart en daarom n aanvoeling v diere. Wens daar was miljoene meer mense soos jy.

Gesiggie ·

Dit klink soos n verhaal uit n storie boek… te dierbaar, wys jou net weer n dier kan n mens se beste vriend word, en omdat die seun en Brahmaanbul al so lank mekaar ken, het die dier sy respek betoon…. en geluister ,,, te oulik en lekker om sulke stories te kan lees

Thea ·

Al het ek self hierdie storie gedeel op Facebook, begin dit aan my knaag hoe waar dit is. Dis aaklig dat mens deesdae alle feite moet nagaan en verifieer! Maar twee goed van die prentjie saam met die berig lyk nie reg nie. Eerstens, die ouderdom van die kind. Tweedens … waar is daai bul se voorbene? En skielik betwyfel ek die hele storie net omdat ek die feite op die foto in twyfel trek. Ek wil so graag die positiewe lees, die goeie stories wat mens se hart warm laar klop. Maar dan wonder ek skielik hoe waar dit is.
Maroela Media, kon julle die feite verifieer?

Landi Slatter ·

Dagsê Thea

Dankie vir jou kommentaar. Ons kan jou die versekering gee dat die storie waar is, ons het self met Myra gesels. As gevolg van die feit dat Myra en Paulo mekaar nie behoorlik kon verstaan nie, het ons ‘jong’ seun gebruik. Volgens Paulo is Wilson drie. Die foto is ook deur ‘n venster geneem (deur Myra) omdat die bul baie agressief was.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.