Sewe keer amper dood, nou kan hy leef

Caylum Willemse (Foto: Facebook)

Caylum Willemse (Foto: Facebook)

Caylum Willemse, die 11-maande oue babaseuntjie wat al sewe keer by die dood omgedraai het weens ʼn seldsame geboortedefek, het nou die vooruitsig van ʼn “normale lewe”.

Sowat R7 miljoen was nodig om ʼn lewensnoodsaaklike operasie te doen. Toe gebeur die “wonderwerk” – dit was die grootste gebaar van liefde wat die Willemse-gesin nóg beleef het: Talle weldoeners het verseker dat Caylum dié operasie in Boston in die VSA kon kry.

Dié operasie is die afgelope naweek suksesvol uitgevoer en Samantha, Caylum se ma, het vir die eerste keer in maande hoop dat haar seuntjie ʼn “normale lewe” kan lei.

Caylum  is gebore met seldsame trageoesofageale fistel (TOF) en esofageale atresie, ʼn toestand wat verband hou met die slukderm wat voor geboorte nie behoorlik met die maag geheg het nie. Die liggaam probeer dan as’t ware die fout regstel deur ander verbindings te maak. In Caylum se geval het die lugpyp met die slukderm sowel as die maag geheg.

Caylum Willemse (Foto: Facebook)

Caylum saam met sy pa (Foto: Facebook)

Sy lugpyp val ook heeltyd plat en die verbindings wat die lugpyp gemaak het, veroorsaak dat vloeistof wat hy inkry, soos melk, op sy longe gaan lê.

Hy het in Augustus vanjaar nog net drie weke by die huis deurgebring weens dié defek. Die gesin is deur diep waters en het al hul “knieë stukkend gebid”.

In Oktober vanjaar kon hulle vir die eerste keer lig aan die einde van die tonnel sien. Nadat mense van heinde en ver betrokke geraak het om dié gesin met geld by te staan, het hulle ʼn somtotaal van R7,2 miljoen ingesamel.

Samantha het die afgelope naweek op Facebook gesê die operasie, wat langer as sewe uur geduur het, het goed afgeloop. “Caylum sal nou vir die eerste keer in sy lewe ʼn oop lugweg hê. Om die waarheid te sê, dit gaan só goed met hom dat hy heeltemal van die ventilator af is. Hy is nou op baie sterk pynmedikasie, maar dokters sê die operasie was ʼn sukses. Dankie, Here, dat U ons seun beskerm het en dankie vir almal se gebede,” het sy gesê.

Sy het voorheen gesê sy is dankbaar vir elkeen wat dié operasie moontlik gemaak het.

“Ons moes al soveel keer vir sy lewe smeek. Ek het voorheen gesê hy verdien om te lewe, nes elke ander jong kind wat deur moeilike tye gaan. Nou kan hy leef. Danksy mense wat hul harte oopgemaak het, kry my seun ʼn kans om te lewe,” sê Samantha.

Vir meer inligting en of om op die hoogte te bly van sy vordering besoek The Caylum Willemse Foundation op Facebook.

Besoek ook Caylum se Back-a-buddy skarefinansieringswebwerf vir meer inligting oor skenkings en hoe om betrokke te raak.

Lees meer oor Caylum op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jean ·

BAIE DANKIE aan AL die persone wat geld geskenk het om hierdie seuntjie ‘n kans op die lewe te gee. Sterkte aan sy ouers en dankie vir julle vasbyt en deursettingsvermoë. Ons hoop werklik dat alles van nou af net goed sal gaan en hy ‘n pragtige jong man eendag word met ‘n blink toekoms. Ek wens dit so toe vir alle kinders met dieselfde aangebore defek.

Denise ·

Dit is n pragtige seuntjie so bly vir sy ouers nou kan hulle hom bederf met baie liefde !!!!

Barmhartig ·

Dankie Heer vir U grootse liefde, sorg, krag en wysheid wat U verleen aan hierdie kleine Wonderwerkie van U. Deur U Gees het mensies hul harte en seeninge oop gemaak om vir Caylum n lewe te kan bied. Prys U Grote naam. Samantha en Pappa, ons is baie bly vir julle.

Van ·

Mag die ou klein seuntjie 100% herstel en ‘n lang gesonde lewe he… hy lyk na so vriendelike babatjie, elke foto wat mens van hom sien het hy ‘n laggie op sy gesiggie gehad…dis so goed om te sien hoe daar nog mense is wat omgee en bygedra het tot sy operasie, seen almal van julle wat vir hom gebid het en vir hom ‘n geldjie bygedra het en sterkte vir die ouers ook wat deur hierdie hel met hom moes gaan en sterk gebly het vir hom.

J> ·

Gooi maar klippe ,Hoekom moet dit so duur wees kan die Dr. nie met hulle pryse af kom nie dis tog ‘n lewe en nie ‘n kar of ‘n huis nie.Baie sterkte mag hy geseen wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.