Shane Warne doen wéér sy deel

Shane Warne. Foto: Twitter.

Die legendariese Australiese bybreek-bouler, Shane Warne, doen weer eens sy deel om sy medelandsburgers by te staan.

In sy speeldae was Warne byna net so bekend vir sy wilde partytjies, verhoudingskandale en dieetpil-probleme as vir sy ongelooflike kriekettalent en persoonlikheid op die veld.

Hy het uiteindelik 708 toetspaaltjies vir Australië geneem en kon verskeie kolwers – onder wie Suid-Afrika se Daryll Cullinan – met die grootste gemak om sy pinkie draai.

Maar deesdae is hy een van die grootste krieket-filantrope ter wêreld. Tydens die verwoestende veldbrande vroeër vanjaar in Australië het hy sy geliefde Baggy Green-pet ten bate van die brandslagoffers opgeveil. Hy het sodoende meer as $1 miljoen ingesamel.

Foto: Twitter

Nou, te midde van die wêreldwye koronavirus-krisis, het Warne se SevenZeroEight Gin-maatskappy besluit om die jenewerproduksie vir eers te laat staan en eerder handreinigingsmiddel met ’n 70%-alkoholbasis te produseer.

Saam met sy vennote is daar besluit dat hulle twee hospitale in Wes-Australië teen kosprys van hul middel sal voorsien.

“Dit is ’n moeilike tyd en ons moet almal saaamwerk om ons gesondheidsektor by te staan sodat hulle die virus kan beveg en lewens kan red,” het Warne gesê.

“Ek is trots daarop dat SevenZeroEight aanpasbaar is en ons moedig ander ondernemings aan om dieselfde te doen.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.