Siek Hoedspruit-tiener terug in SA ná behandeling oorsee

Keira Rutherford (Foto: Verskaf)

Keira Rutherford, die 14-jarige meisie van Hoedspruit wat in Mei vanjaar opnuut weer hoop op ʼn normale lewe gegee is nadat die gemeenskap van dié dorp in Limpopo honderde duisende rand ingesamel het sodat sy behandeling vir ʼn seldsame siekte kan ontvang, het pas uit Duitsland teruggekeer ná haar behandeling.

Keira is vroeër vanjaar met fase 3 Lyme-siekte gediagnoseer nadat sy aanvanklik van griepsimptome gekla het, maar uiteindelik so verswak het dat sy heeltemal verlam geraak het in haar bene.

Sy het sowat twee weke gelede haar behandeling in Duitsland voltooi en is nou terug op Suid-Afrikaanse bodem, in haar eie bed. “Dit gaan baie goed met haar,” sê Rankin Ruterford, Keira se pa, aan Maroela Media.

“Sy kan self kort ente stap, al is sy vir lang afstande steeds in haar rolstoel, en sy kan ook weer self stort en die badkamer gebruik. Dit is vir ons as gesin ʼn wonderwerk. Ek en my vrou, Lana, kan nie glo dat iemand wat só siek was, soveel vordering gemaak het nie. Dit is ongelooflik. Ons is almal vol smiles.”

Hy vertel dat Keira ʼn oefenprogram volg saam met twee afwisselende fisioterapeute, wat daagliks sorg dat sy die regte oefeninge doen en haarself nie ooreis nie. Hy vertel die gesin is ook nou saam met Keira op ʼn streng eetplan.

Keira Rutherford vroeër tydens haar behandeling. (Foto: Verskaf)

“Sy moet kos soos suiker, suiwel en rooivleis uitsny en ons doen dit saam met haar om haar te ondersteun. Hulle sê mens moet maar versigtig wees dat daar nie nog ʼn selletjie in haar liggaam is wat vatbaar is vir die siekte nie, en rooivleis is ʼn groot sondebok, daarom sny ons dit baie streng uit.”

Keira gebruik ook glad nie meer pynmedikasie nie. “Dit was haar doodsteek – sy was 24 uur van die dag in pyn. Nou gebruik sy geen pynmedikasie nie,” sê Rankin.

Hy is vol lof vir die kliniek in Duitsland wat Keira behandel het. Keira het onder meer hipertermie-behandeling (waar die liggaamstemperatuur verhoog word onder ses ure van narkose), ligterapie en detoksifisering ondergaan.

“Keira vertel dit was met tye vir haar angswekkend, omdat sy nie geweet het wat hulle met haar gaan doen nie. Sy het party dae net op haar tande gebyt en elke dag was soos ʼn nuwe ontdekking. Hulle het ongelooflik baie toetse op haar gedoen. Sy kon darem die mooi en skoon parke buite die kliniek beleef en sê die personeel en inwoners van die land is baie vriendelik en weet wat hulle doen.”

Maroela Media het vroeër berig die gesin is deur talle dokters van bakboord na stuurboord gestuur, toe Keira vir die eerste keer siek geword het, omdat hulle gesê het dat daar nie Lyme-siekte in Suid-Afrika is nie. Lyme-siekte is ʼn siekte wat deur ʼn bakterie veroorsaak word en simptome soos hoofpyn, moegheid, spier- en gewrigspyne, geswelde limfknope en inflammasie van die brein en ruggraat tot gevolg het.

Die Rutherford-gesin het toe kontak gemaak met ʼn dokter in Bloemfontein wat hulle vertel het van ʼn Australiese vrou wat Lyme-siekte gehad het en dat ʼn dokter in Duitsland haar siekte behandel het. Sy kon daarna weer loop en normaal funksioneer.

Die Rutherford-gesin: Rankin, Lana, Keira, Lericha en Marchant. (Foto: Verskaf)

Die Rutherford-gesin: Rankin, Lana, Keira, Lericha en Marchant. (Foto: Verskaf)

Die gesin het met dié dokter in Duitsland kontak gemaak oor behandeling vir Keira. Die koste vir dié behandeling van drie weke in Duitsland het egter sowat R800 000 beloop, maar die prognose was dat sy ná die behandeling self uit die hospitaal sou kan loop.

Hoedspruit se gemeenskap het ingespring om dié skynbaar onmoontlike wens ʼn realiteit te maak en die plaaslike plaaswag het die gemeenskap aangespoor om die gesin te help met ʼn fondsinsameling. “Die koste om Keira te behandel, was astronomies duur, so ek het eintlik gedink ons sal dit nooit kan bekostig nie,” het Rankin vroeër aan Maroela Media gesê.

Teen die einde van daardie week het die gemeenskap ʼn indrukwekkende R680 000 vir Keira ingesamel. Jacaranda FM se Good Morning Angels het ook ingespring om te help en Rankin is verras met ʼn donasie van Lotto Star vir die volle R120 000 wat hulle kortgekom het.

Rankin sê hy en sy gesin sal die gemeenskap van Hoedspruit en Jacaranda FM ewig dankbaar bly vir hul bydrae tot Keira se genesingsproses. Volgens hom het die lugredery, SA Airlink, ook ʼn vlug vir Keira, haar ma en ouma vanaf die OR Tambo-lughawe na Hoedspruit geborg met haar terugkoms in Suid-Afrika.

Keira Rutherford is tuis nadat sy behandeling in Duitsland ontvang het. (Foto: Verskaf)

Keira Rutherford is tuis nadat sy behandeling in Duitsland ontvang het. (Foto: Verskaf)

“Ons wil nou meer bewusmaking doen oor Lyme-siekte, aangesien die mediese raad van Suid-Afrika steeds vasbeslote is dat die siekte nie in ons land bestaan nie. Ek het gisteraand weer ʼn oproep ontvang van ʼn vrou wie se kind al vyf jaar lank siek is en wat by ʼn groep betrokke is van sowat 40 ander mense met dieselfde siekte of simptome.

“Ons wil graag die medici van Suid-Afrika vra om ʼn kliniek in Suid-Afrika te stig wat mense hier kan behandel – nie almal sal oorsee kan gaan vir behandeling nie.”

Hy vertel dit was ʼn groot stryd vir hom en sy seun, Marchant, om alleen tuis te wees vir bykans ʼn jaar terwyl Keira saam met haar ma op en af van Hoedspruit na Pretoria gereis het vir behandeling, asook die vier weke wat sy in Duitsland deurgebring het.

“Ek en Marchant weet darem nou al hoe om lekker te kook,” skerts hy. Hy voeg by dat sy oudste dogter, Lericha, as au pair in Minneapolis in die VSA werksaam is en dat sy in Desember sal terugkeer Suid-Afrika toe.

“Sy was in die buiteland toe Keira so siek geword het en sy het nie heeltemal besef hoe ernstig dit is nie. Ons het probeer om haar te weerhou van hoe sleg dit regtig gaan, sodat sy nie daar oorkant sit en haarself doodbekommer oor haar kleinsus nie. So ons is ook opgewonde dat Keira gesond kan word en moontlik terug keer na normaal voordat haar ousus terug is,” het Rankin bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bossie ·

Keira, mag God jou volkome laat herstel. Koester die Mag van die Almagtige. Niks is vir God te groot nie. Sterkte vir jou en jou familie.

Kobus ·

Merkwaardige verhaal van moed en deursettingsvermoë en ‘n gemeenskap wat saamstaan. Alle sterkte en volkome genesing word jou toegebid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.