Siek ma inspireer seun deur self te studeer

Debbie Lombard en haar seun, Reinhardt. (Foto: Verskaf)

Debbie Lombard en haar seun, Reinhardt. (Foto: Verskaf)

Debbie Lombard, ʼn 50-jarige ma van Boksburg, wou voordat haar matriekseun universiteit toe gaan so graag vir hom ʼn voorbeeld stel van hoeveel deursettingsvermoë dit verg om agter die boeke te sit, dat sy besluit het om self in te skryf vir ʼn tersiêre kwalifikasie.

Dít ondanks die feit dat sy reeds jare lank onder die aftakelende simptome van sistemiese lupus eritematose gebuk gaan.

Lombard is tans ʼn tweedejaarstudent in BCom (ondernemingsbestuur) aan die private Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia. Nié net slaag sy die sewe vakke wat sy tans neem met vlieënde vaandels nie, maar dien ook in die studenteraad en is ʼn adviseur vir ander studente.

Tussendeur haar studie moet sy maandeliks chemoterapie ontvang vir sistemiese lupus eritematose, ʼn chroniese siekte waarmee sy in 2011 gediagnoseer is. Lombard sukkel reeds sedert haar matriekjaar met simptome soos gewrigspyne, moegheid, maagpyn, geswelde kliere, koors en mondsere.

Sy vertel aan Maroela Media haar jongste seun, Reinhardt (19), studeer tans vir ʼn BCom-graad in toerisme en rekreasievaardighede aan die Noordwes-Universiteit. Sy het besluit om verlede jaar vir haar kwalifikasie te begin studeer, sodat sy ʼn jaar voor Reinhardt kon wees om hom te kan help met rekeningkunde en statistiek indien nodig.

Debbie Lombard. (Foto: Verskaf)

Debbie Lombard. (Foto: Verskaf)

“Verlede jaar het hy gedink ek studeer hopeloos te hard, maar nou sien hy sy ma se uitslae en besef hy moet my hulp aanvaar,” skerts Lombard. “Ek het hom gewys hoe studeer ʼn mens, hoe laat jy saans en hoe vroeg jy soggens voor die boeke moet inskuif en hoe belangrik opsommings is.”

Haar man bedryf ook sy eie staalvervaardigingsonderneming, en sy het gedink dit sal hulle albei handig te pas kom as sy ʼn kwalifikasie in ondernemingsbestuur behaal sodat sy hom in sy onderneming kan bystaan.

“My man is egter nou so in sy noppies met my uitslae en dit is ook vir hom lekker dat ek hom nie meer teen 18:00 op ʼn weeksdag vra waar hy is as hy nog nie tuis is nie, want ek is nie meer verveeld nie,” lag sy. “Daarom beplan ek om my honneurs ook te doen, na gelang van hoe dit gaan met die siekte.”

Lombard vertel dit is nie noodwendig die fisieke pyn en inflammasie in haar gewrigte wat haar kniehalter tydens haar studie nie, maar eerder die dofheid in haar kop weens die lupus wat haar soms terughou. “Ek sukkel om goed te onthou en kan dus nie ʼn week vooruit studeer nie. Daarom sit ek slegs ʼn dag of twee voor ʼn toets of eksamen vir agt tot tien uur agter my lessenaar, want ek moet harder werk om goed te memoriseer.”

Volgens Lombard is sy baie selfgemotiveerd en laat sy nie toe dat haar siekte haar onderkry in haar studie nie. “Ek het vir myself ʼn doelwit gestel en ek gaan dit behaal. As ma weet jy jy is siek, maar jy weet ook jy moet aangaan. Daar is nie tyd om terug te sit en myself te bejammer nie. Ek weet ek moet werk en is baie streng op myself; daarom druk ek deur. Jy weet mos hoe is ʼn ma – ʼn ma móét en sy moet daar wees vir almal.”

Debbie en haar man, Tobie. (Foto: Verskaf)

Debbie en haar man, Tobie. (Foto: Verskaf)

Sy voeg by dat iets soos “te laat” nie in ʼn mens se woordeskat behoort te bestaan nie. “Jy kan nie bus ry as jy nie ʼn kaartjie gekoop het nie. Jy moet probeer tot die beste van jou vermoë om te doen wat jy graag wil doen. Ek sê altyd vir die ander studente jy moet klas loop, jou opsommings vooraf doen en soos die dosent praat verdere notas byvoeg, dan is jy reg vir jou toets.”

Lombard word gereeld deur ander studente genader om hulle te help. Sy vertel dat sy aanvanklik gedink het dit is omdat sy ouer is as hulle. “Ek dink hulle sien my uitslae en besef dit wat ek doen, werk. Ek dink ook hulle weet ek het lewenservaring en in baie vakke is lewenservaring juis baie belangrik.”

Sy vertel dat sy oor WhatsApp studente tot Bellville en George in die Wes-Kaap met hul studie bystaan, maar sy het ook gereeld op Sondae studente wat by haar huis kom sit en studeer. “Dan het ek die koffie en eetgoedjies reg,” lag sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries du Toit ·

Fantastiese vrou. Sterkte en voorspoed word haar toe gebid

Suzette ·

Debbie, jy is n fenominale inspirasie! Baie sterkte met jou studies!

Blikke ·

Sterkte Debbie ….. Wow….wat n voorbeeld en inspirasie!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.