Siekte eis seun; tweede kans vir sussie

Die eerste gesinsfoto wat saam met Niqi in die hospitaal geneem is (Foto: Verskaf)

Die eerste gesinsfoto wat saam met NiQi in die hospitaal geneem is (Foto: Verskaf)

Sy was ʼn skrale ses maande oue weggooilam toe die verpleegsters haar babawiegie op ʼn dag in dié van hul seuntjie se hospitaalkamer ingeskuif het.

Klein NiQi (ʼn bynaam vir Nicolene) het aan sistiese fibrose gely – dieselfde siektetoestand, gekenmerk deur ʼn uiters lae longkapasiteit, wat veroorsaak het dat hul seuntjie in dieselfde hospitaal om sy lewe moes veg.

Dalk het die dokters gehoop hulle raak verlief op haar, vertel Suzanne Lucas. NiQi sou moes terug weeshuis toe as die verpleegsters nie voogouers vir haar kon opspoor nie, en by dié weeshuis sou sy nie oorleef nie.

Dit was in daardie einste hospitaalkamer wat sy in hulle én hul seuntjie se hart ingekruip het. Hy het aanvanklik gesê sy mag nie saam teruggaan huis toe nie, maar een oggend het hy Suzanne en haar man, Johan, direk in die oë gekyk en gesê: “As julle wil hê sy moet saam huis toe kom, is dit oukei.”

Daardie dag is NiQi saam huis toe en het sy ʼn sussie vir Mark en Matthew geword.

Jare later, op negejarige ouderdom, is Mark aan dié tragiese siekte oorlede, maar NiQi is vanjaar 26 jaar oud en het minder as ʼn maand gelede ʼn longoorplanting gehad.

“Dit was baie jare gelede – maar ons gesin was gebroke gewees,” vertel Suzanne. “Hy was so jonk en ons kon dit nie verstaan nie. NiQi het ook deel van ons familie geword. Van daardie dag dat die verpleegsters haar in dieselfde kamer as my seun gesit het, het ons op haar verlief geraak. Ons het van die begin af geweet sy ly ook aan sistiese fibrose en dat ons dalk weer deur die seer sou moes gaan. Maar ons het bly hoop en glo.”

Sy vertel hoewel ʼn ouer nooit heeltemal genees ná die afsterwe van ʼn kind nie, is die gesin dankbaar dat NiQi vandag op ʼn herstelpad is.

“Dit was ʼn lang wag gewees. Sy was langer as twee jaar op die lys vir longe en moes baie hard werk om dié operasie te kon kry. Haar longkapasiteit moes onder meer opskuif na 30% van 20% af.

Matthew, Ma Suzanne, Niqi en pa Johan (Foto: Verskaf)

Matthew, Ma Suzanne, NiQi en pa Johan (Foto: Verskaf)

“Die dag toe ons na die hospitaal gery het vir die oorplanting, was ook bittersoet. Ons het baie troeteldiere, waaronder perde, en my man het geen ander keuse gehad as om by die huis te bly nie. Toe hy haar daardie dag groet, het hy geweet daar is ʼn kans van 50% dat hy haar nie weer sal sien nie,” vertel sy.

Daar was verskeie komplikasie tydens die operasie en NiQi was drie keer in die teater weens erge bloeding en ʼn bloedklont.

Vandag is sy egter sterker as ooit vantevore, al is die herstelpad nog baie lank.

“Sy moet weekliks terug hospitaal toe sodat die dokters kan sorg dat die herstelproses na wense verloop. Maar vandag is ons dankbaar dat sy ʼn tweede kans op lewe gekry het; en dat ons ʼn tweede kans gekry het om vir haar lief te bly.”

Vir meer inligting oor die gesin, besoek Fabulous and Fighting CF op Facebook.

NiQi en haar gesin wil hul dankbaarheid vir die skenker en die skenker se gesin beklemtoon vir die “ongelooflike geskenk van lewe”. Hulle wil hê dié storie moet mense beywer om orgaanskenkers te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ina ·

dankie vir die mooi storie en vir die hoop vir so baie mense. ek wil graag ‘n orgaanskenker word. wie kontak ek Maroela asb?

Leana ·

Wat ‘n inspirasie! Ek haal my hoed af vir Suzanne en Johan vir hul onbaatsugtige liefde!

HEB ·

Ag hoe heerlik om bietjie ‘n ligte en positiewe (in relatiewe terme natuurlik, sistiese fibrose is ‘n verskriklike siekte) storie te lees! My hart gaan uit na hierdie gesin wat ‘n dogter ryker geword het in ‘n donker tyd en dat hulle kans gesien het om lief te he, nie omdat hulle daaruit iets kon kry nie, maar net omdat hulle kon. Mag God vir NiQi en haar mensies seen en lank vir mekaar gespaar hou, ek glo in Sy Meesterplan het Hy dit ook
reeds voorsien!!!

adriana ·

Ai ek is so bly daar is herstel oppad. Wat ‘n pragtige jong dame met sielvolle oe. Dankie aan die ouers wat so ‘n mooi voorbeeld stel. Dit laat my nederig voel.

Pop ·

Ek ken die gesin persoonlik. Hulle is voorwaar n wonderlike ouer paar. Ek het Niqi nog nooit hoor kla nie. Altyd n pragtige glimlag en n vriendelike geaardheid. Ons almal is baie trots op hulle. Sterkte Nix ons is dankbaar vir jou hetstel.

surina ·

Niqi eks so bly jy kan nou lekker asem haal.cf warrior en n goeie mensie.ekt self cf en ek weet hoe niqi elke dag gevoel het.

Patrys ·

Sterk staan Niqi, alles gaan verder goed verloop jy sal sien .Bly net positief. Ek is ook n cf warrior” en word 31 Maart 61 jaar. Jy t reg gelees een en sestig jaar. Ek suffer ook maar in silence soos ons almal maar begin elke dag net weer opnuut met hoop. en liefde in my hart !

Amanda ·

Baie sterkte vir julle gesin. Min mense verstaan regtig waardeur so gesin gaan. My seuntjieme Sistiese Fibrose oorlede op 20 maande. Sou 20 Mei 30 jaa oud gewees het. My broer se dogter het ook sistiese fibrose en di gaan ook nie altyd goed nie. Sy word April 21. Sterkte aan almal wat CF lyers is. Orgaanskenking is so nodig. Daar word hopeloos te min gedoen om mense van orgaanskenking bewys te maak. Ek gaan nou een van my niere vir vriende se dogter skenk en almal wat dit hoor se maar wat van jou gesondheid. Hulle doen baie toetse en sal nie orgaan verwyder as dit tot nadeel van jouself is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.