ʼn 71-jarige vrou wat vanjaar die oudste gegradueerde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) is, sê sy hoop haar studie in godsdiens en teologie sal die talle negatiewe stereotipies rondom mense met gestremdhede ʼn nekslag toedien.
Dr. Elizabeth Martiny, wat dié week ʼn doktersgraad aan UKZN verwerf het, het aan African News Agency gesê sy is “ekstaties” om dié graad te verwerf – veral omdat dit haar geduld en deursettingsvermoë tot die uiterste getoets het.
Martiny, wat voor haar aftrede as onderwyser gewerk het, het vertel sy wou spesifiek fokus op persepsies en stereotipes rondom gestremde mense omdat sy self as kind met polio gediagnoseer is. Volgens haar het dié diagnose haar gedryf om baie navorsing te doen oor die “geestelike betekenis” van die lewe.
Sy het vertel een van die talle redes waarom sy haar PhD wou voltooi, was om sommige van haar eie geestelike ervaringe na te vors en moontlike antwoorde daarop te kry. Martiny het daarom uit ʼn teologiese en sielkundige oogpunt navorsing gedoen oor vroue met gestremdhede.
“Daar is ʼn behoefte om misleidende idees en die stigma rondom gestremdhede in die samelewing uit te daag deur middel van geloofsgemeenskappe,” het sy vertel.
“Die belangrikste van hierdie studie was dat dit baie betekenisvol was om oor myself te leer en ʼn stem te gee aan diegene wat nie voorheen die geleentheid gehad het om gehoor te word nie. Drome kan in enige stadium van die lewe ontstaan en dié droom het nou vir my ʼn werklikheid geword.”
Prof. Deresh Ramjugernath, UKZN se dekaan van navorsing, het Martiny se graad tydens ʼn gradeplegtigheidseremonie by die Royal Agricultural-skougronde in Pietermaritzburg aan haar oorhandig.
Jy is so ‘n inspirasie tannie! Baie geluk!