Solidariteit Helpende Hand bied vanjaar weer die jaarlikse nasionale Silwerkroon-toekenning aan om mense te vereer wat moontlik oud in jare is, maar steeds jonk van gees en goud van hart.
Volgens Helpende Hand lewer baie mense ouer as 60 steeds ʼn noemenswaardige bydrae tot hul gemeenskappe, hetsy deur liefdadigheidsorganisasies of deur ʼn helpende hand na individue in nood uit te steek.
Volgens René du Preez, projekbestuurder vir die Silwerkroon-projek, kan enigiemand ouer as 60 vir hierdie toekenning genomineer word. “Die toekenning is bedoel vir gewone mense wat ʼn bydrae in hul plaaslike gemeenskappe lewer deur die opheffing van die jeug, deelname aan opleidingsinisiatiewe, bydraes tot ekonomiese sake, werkskeppingsprojekte, voedselvoorsiening of -verbouing, die lewering van bystand in noodsituasies, of die ondersteuning van menseregte-projekte,” verduidelik Du Preez.
Mense kan self vir die toekenning inskryf of iemand anders kan hulle nomineer vir onbaatsugtige dade soos die loodsing van projekte om ander help, die maak van ʼn aktiewe verskil in die kerklike gemeenskap of die bystand van iemand in nood soos om mense rond te ry wat self nie meer kan bestuur nie. Geen diens is te groot of te klein om in aanmerking te kom nie.
Inskrywings sal deur ʼn paneel oorweeg voordat die top vyf finaliste aangewys word. Te danke aan verskeie borge, is daar groot pryse op die spel soos ʼn vakansie vir vier en ʼn kontantprys.
Genomineerdes moet:
- 60 jaar of ouer wees (deelnemers moet reeds minstens 60 jaar oud wees ten tyde van die buitengewone diens);
- gedurende die afgelope vyf jaar ander in hul gemeenskap eenmalig of voortdurend versterk en ondersteun het;
- ʼn onbaatsugtige diens as lid van die liggaam van Christus lewer; en
- werklik ʼn helpende hand in hul gemeenskap wees.
Inskrywingsvorms kan afgelaai word by www.silwerkroon.co.za, of kontak Helpende Hand by 012 644 4390 en ʼn inskrywingsvorm kan gepos of gefaks word. Inskrywings sluit 16 Junie 2015.