Sinkhuisie word skoonheidsalon: ‘Ek is dankbaar’

Thaini Masakane (Foto: Facebook)

Thaini Masakane (28), ʼn skoonheidsterapeut van Hoopstad in die Vrystaat, het onlangs aandag op sosiale media getrek nadat foto’s van haar salon op Facebook gedeel is.

Sy het ʼn sinkplaathuisie in haar dorp omskep in ʼn skoonheidsalon, en mense op sosiale media het haar geloof vir haar sakevernuf en gesê dat sy ʼn inspirasie en voorbeeld is vir mense wat die beste van hul situasie maak.

Masakane het grootgeword in Hoopstad, waar haar ma se suster haar grootgemaak het. Sy het van jongs af ʼn aanvoeling vir besigheid gehad omdat haar tannie, wat haar grootgemaak het, ook haar eie onderneming bestuur het.

“Sy het ʼn pluimvee-onderneming gehad en ook lekkergoed, koeke en neute verkoop. Ek het as tiener begin om plastiekbakke te verkoop, so ek dink ek was nog altyd blootgestel aan besigheid,” het Masakane aan Maroela Media gesê.

Masakane het haar kwalifikasie in Somatologie in 2013 by Motheo TVET-kollege in Bloemfontein verwerf en daarna begin ondervinding opdoen in die veld.

Thaini Masakane het ‘n sinkhuisie in ‘n skoonheidsalon verander (Foto: Facebook)

“Ek het nou al vyf jaar ondervinding in die skoonheidsbedryf, en ek was blootgestel aan talle verskillende salonne. Deur in al die salonne te werk, het ek begin belangstel daarin om my eie salon te hê, vir my eie gemeenskap. Daar is nie baie plekke soos dié in my dorp, Botshabelo, nie, maar dit het my gedryf om dit ʼn werklikheid te maak.”

“Ek is mal oor my beroep en geniet dit verskriklik baie. Ek het gevoel dat ek lank genoeg vir iemand anders gewerk het, en dat die tyd reg was om al die ondervinding wat ek opgedoen het in my eie onderneming te belê,” het sy gesê.

Masakane het ʼn eenjarige seuntjie, Tlohlo, en beskryf haarself as ʼn trotse, passievolle jong vrou wat nie toegelaat het dat haar omstandighede haar onderkry nie.

“Ek het nie toegelaat dat die feit dat ek ʼn weeskind is, my ondergang beteken nie. Met die hulp van my suster, Dikeledi, as mentor, was dit nie vir my té moeilik om my eie onderneming te begin nie,” het sy gesê.

Thaini Masakane het ‘n sinkhuisie in ‘n skoonheidsalon verander (Foto: Facebook)

Masakane se groot droom is om haar onderneming uit te brei tot ʼn groot maatskappy wat werkskepping kan bied vir mense wat werkloos is, en om vir jongmense hoop te bied dat hulle enigiets kan doen wat hulle wil as hulle hard werk.

“Ek wens en droom daarvan dat my handelsmerk ander landelike gebiede kan aanraak. Ek wil uiteindelik klasse aanbied vir mense in die gemeenskap wat wil leer hoe om naels, grimering, masserings en meer te doen,” het sy gesê.

Die Facebook-plasing wat die aandag na Masakane se salon, Victory Body & Nail Studio, getrek het se onderskrif lui: “Wees geïnspireer deur hierdie … In plaas daarvan om op jou drome te sit en wag vir ʼn belegger, begin klein op jou eie.” Dié plasing is al meer as 11 000 keer gedeel en is oorstroom met positiewe kommentaar.

Masakane het glad nie dié reaksie verwag nie, en is “verstom en gelukkig” oor almal se kommentaar.

Thaini Masakane het ‘n sinkhuisie in ‘n skoonheidsalon verander (Foto: Facebook)

“Die terugvoer wat ek ontvang het, het my verstom! Ek is steeds terselfdertyd geskok en verbaas. Ek voel regtig baie nederig oor die positiewe terugvoer, afkomend van mense in my gemeenskap tot mense buite die Vrystaat! Ek het dit regtig nie verwag nie, maar ek is so dankbaar en voel geëerd oor wat mense sê,” het sy gesê.

“Nou moet ek werk daaraan om my uiteindelike droom te verwesenlik, dit sal nie maklik wees nie, maar ek sal dit vir seker laat werk met al die ondersteuning wat ek nou kry. Ek gaan nou fokus daarop om die onderneming stadig maar seker te laat groei. Ek gaan ook meer opleiding ontvang om myself beter in staat te stel om ʼn unieke diens te kan lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

belinda ·

dit wil gedoen word, gaan groot met jou doel en jy sal ‘sukses behaal

izette ·

Wys jou net…waar daar n wil is…is daar n weg….
Good for you ……
Strongs

Yankee ·

Mooi. Maar as die son die sinkhokkie gaan pak, en n antie le daar met n gesigmasker, gaan die vonke spat.

tg ·

nou kom ons sponsor isolation vir die plek. die vrou het n wil, maak mens trots

Hannelie ·

WOW !!!! Well done. Ek is baie trots op jou en jou plekkie lyk pragtig.

IK ·

Sy is dus die ‘hoop’ van Hoopstad wat haar besigheid in Botshabelo bedryf. Sy behoort ‘n inspirasie te wees selfs vir diegene wat werk soek maar elke dag ook ‘hoop’ om dit nie te kry!! Wys mens net soos die engelse sê: ‘The sky is the limit’.

Sannie ·

Ek wil se “well done” ons vrouens maak nie planne nue, Ons HET planne, mag jy geseend wees in jou besigheid.

Valerie ·

Sy verdien (op meriete) ‘n ordentlike winkel en ‘n paar borge. Dit lyk sommer lekker; ek sal soontoe gaan met ‘n smile.

Mrs.B ·

You go girl!!! Pragtige plekkie. Alle sukses met jou besigheid. Local is lekker.

Uvonka ·

Fantastic Thaini, you go girl! Wishing you all the best is all your business endeavours.

Bridget ·

Baie geluk Thaini! Alle voorspoed en sterkte met jou besigheid….dit wys net niks is onmoontlik as jy ‘n droom het.

Meraai ·

How inspiring is this! I raise my hat to you young lady! All the best for business- you are someone to look up to!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.