Sjefs verander oorskietkos in maaltye vir behoeftiges

Arnold Tanzer, voorsitter van Chefs with Compassion en Ismail Ismail, besturende direkteur van Compass Insure (Foto: Verskaf)

Groot hoeveelhede kos word jaarliks in Suid-Afrika weggegooi, terwyl miljoene mense daagliks honger ly.

Die liefdadigheidsorganisasie Chefs with Compassion het hande met Nosh Food Rescue gevat om bruikbare bestanddele wat andersins weggegooi sou word, te gebruik in hul voedingskema wat mense in nood help.

Bestanddele wat nie hergebruik kan word of geskik is vir menslike inname nie (6,43% van bestanddele), word na varkboere in die gemeenskap gestuur sodat niks in die proses vermors word nie.

Chefs with Compassion is in 2020 gestig om voedsame maaltye vir behoeftige mense te verskaf terwyl die Covid-19-pandemie sy tol op duisende se inkomste en welstand geëis het.

Maroela Media het vroeër berig dat meer as 300 sjefs uit 10 stede saamgespan het om sop te maak vir behoeftiges oor die hele land, ondanks die verlammende uitwerking van die Covid-19-pandemie op die gasvryheidsbedryf.

Chefs with Compassion het pas laat hoor dat Compass Insure aan boord gekom het as nuwe borg sodat hulle vir die volgende 18 maande hul goeie werk kan volhou terwyl Suid-Afrika die tweede vlaag van Covid-19-infeksies beveg.

Dié organisasie, wat gedryf word deur die hulp van vrywilligers, het reeds meer as 1,5 miljoen maaltye van oorskietbestanddele gemaak en aan kwesbare mense bedien tydens die begin van die nasionale staat van inperking. Sedert April 2020 het Chefs with Compassion meer as 470 ton kos op só ʼn manier gered en omskep.

“Die doel van Chefs with Compassion is om voedselsekuriteit te skep en honger mense te voed. Dit is ʼn eenvoudige konsep wat ʼn merkwaardige uitkomste op ʼn deurlopende grondslag het,” sê Ismail Ismail, besturende direkteur van Compass Insure.

Vir meer inligting oor Chefs with Compassion, besoek hul webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.