Skaaphondjie op wiele laat hom nie stuit

Skalla die skaaphond (Foto: Verskaf)

Op 27 Mei verlede jaar het Monica Loubser (29) en haar 10 weke oue skaaphondjie, Skalla, se lewens handomkeer verander toe hulle saam in ʼn motorongeluk was. Die pad na herstel was lank en hulle het albei in ʼn stadium om hul lewens geveg.

Loubser, wat ʼn trouvenue en gastehuis op hul plaas by Darling in die Wes-Kaap bestuur, het die plaaswerkers dorp toe geneem en was op pad terug, sowat 3 km van hul plaas af, toe die ongeluk gebeur het.

“Ek is steeds nie 100% seker wat gebeur het nie, maar ek het hierdie pad al duisende kere gery. Ek weet net dit het gereën in daardie tyd, so die pad was nat. Skalla het langs my op die passasiersitplek gesit met sy kombersie en speelgoed.

“Die bakkie se wiel het die grondpad se wal getref en die stuurwiel het begin swaai. Ek het teen die stuurwiel terugbaklei, wat ek eintlik nie moes doen nie,” vertel sy.

Loubser se bakkie het sewe of agt keer gerol en sy is in die proses uit die bakkie geslinger en het op haar maag langs die pad wakker geword.

Monica Loubser (Foto: Tiffany Smit/Facebook)

“Ek het dadelik vir Skalla begin roep toe ek wakker word, maar ek kon hom nie sien of hoor nie. Ek het myself rondgesleep om iemand te kry wat my kan help om hom te soek. My eerste gedagte was om vir Skalla te kry.”

Loubser het haar nek in die ongeluk gebreek, haar pelvis is vergruis, haar borsbeen gekraak en vyf ribbes gebreek. Haar blaas was stukkend as gevolg van haar pelvis wat daarin gesteek het en haar longe het platgeval nadat haar ribbes dit binnegedring het.

Skalla het uit die bakkie geval en het sy ruggie gebreek. ʼn Voorman van een van die plase in die omgewing wat verby die ongelukstoneel gery het, het gestop om hulle te help. Toe hy ʼn getjank hoor, het hy op Skalla afgekom.

“Hy het my familie gebel en vir Skalla in komberse toegedraai, maar hy het blykbaar baie pyn gehad.”

Omdat Skalla nog so klein was, kon die veearts nie aan hom opereer nie. Hulle het voorgestel dat Skalla uitgesit word omdat dit so ʼn moeilike pad vorentoe sou wees vir ʼn hondjie in sy toestand.

Loubser se pa, wat na Skalla omgesien het terwyl Loubser self in die hospitaal was, het geweier dat hy uitgesit word en gevra dat hulle doen wat hulle kan.

Monica en Skalla na die ongeluk (Foto: Verskaf)

“My pa het geweet ek gaan myself blameer as Skalla dit nie sou maak nie. Ek is baie dankbaar hy het geveg vir hom,” sê Loubser.

“Die dokters het toe sy ruggie gelaser sodat dit weer kon heg. Maar hy was baie woelig in sy hokkie, so sy rug het toe skeef aangegroei.”

Loubser was self 40 dae lank in die hospitaal en Skalla twee weke langer.

Loubser het goed herstel sedert sy in intensiewe sorg was.

Sy was eers in ʼn rolstoel en later op krukke, maar vandag kan sy sonder ondersteuning rondloop en bestuur sy weer die gastehuis en funksies op hul plaas. Sy sê haar lewe is nie heeltemal soos dit voorheen was nie, en sy ervaar gereeld nog pyn, maar dat sy dankbaar is vir haar herstel sover.

Toe Skalla gereed was om huis toe te gaan, het die veearts voorgestel sy kry vir hom wieletjies omdat sy stert en agterbene nie beweeg het nie.

Loubser sê dit was die beste ding wat sy vir hom kon doen.

Deesdae is Skalla se gunstelingding om te doen om so vinnig soos hy kan met sy reënboogwiele die skape en ander plaasdiere rond te jaag. Hy hardloop ook graag op die strand rond en stel homself voor aan enigeen wat verbyloop.

Skalla se gunstelingding om te doen is om sy skape te jaag (Foto: Verskaf)

“Partykeer hardloop hy so vinnig en kap hy esse dat hy vashaak en omdop. Maar dan wag hy net vir my tot ek hom optel en reg neersit en dan gaan hy weer aan. Hy is ʼn baie gelukkige, energieke hond. Daar is vir hom niks lekkerder as om by ‘sy’ diere te wees nie.”

Loubser sê Skalla is daagliks vir haar ʼn inspirasie en dat sy nie weet hoe haar eie herstel sou gaan as sy nie vir Skalla aan haar sy gehad het nie.

“Al kan hy nie loop nie, is hy altyd bly. Hy is nooit negatief of hartseer nie. Hy is ʼn groot voorbeeld vir my om net dankbaar te wees dat mens nog lewe. In die proses om te herstel was hy baie goed vir my sielkundige gesondheid.”

Skalla op die strand (Foto: Verskaf)

Loubser sê Skalla kry baie aandag as sy met hom op Yzerfontein se strand gaan stap en dat mense haar altyd uitvra oor wat gebeur het.

“Skalla wil net hê mense moet aan hom vat en vir hom liefde gee. Hy is mal daaroor as mense vir hom aandag gee.”

“Dit is vir my baie sleg as mense vra hoekom ek hom nie eerder uitgesit het nie. Daardie mense weet nie die pad wat ek en hy saamgestap het nie. Vir die meeste mense is dit beter om net die hond uit te sit, want hulle wil nie elke dag sukkel nie, maar ek sou myself nooit vergewe het nie.”

Loubser haal elke aand Skalla se wiele af en hy slaap by haar in die kamer. Sy moet ook vir hom ʼn doek aansit vir ingeval hy ʼn glips kry in die nag. As sy partykeer te lank vat om wakker te word, blaf hy vir haar sodat sy weer sy wiele kan aansit en hy kan laat waai.

“Ek moet hom elke dag skoonmaak en ek moet hom help as sy wiele iewers vashaak. Dis partykeer frustrerend, maar hy is die moeite werd.”

“Sy wil om te lewe is vir my sterker as die deursnee mens s’n. Ons is so vinnig om te kla oor pyn en goed wat nie gaan soos jy dit wou hê nie. Maar as Skalla pyn het gaan hy net aan, hy is altyd positief en hy kry homself nie jammer nie.”

Loubser sê sy doen getrou fisioterapie oefeninge met Skalla se agterbene en dat dit ál sterker word. Sy is van plan om hom weer veearts toe te vat wanneer hy bietjie ouer is, sodat hulle hom dan hopelik kan opereer.

Loubser sê sy glo dat Skalla eendag weer sal kan loop en sónder sy reënboogwiele agter sy geliefde diere kan aanhardloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MF23 ·

Dankie vir die inspirerende storie. Nou is ek weer positief om nie weer te vinnig te kla nie.

Pandora ·

Beste storie van die jaar!! Skalla, jy is ‘n yster man. Dis so wonderlik dat haar pa ‘n goeie keuse gemaak het en dat sy nou vir Skalla het om haar te inspireer – ‘n inspirasie vir ons almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.