Skakel dan in vir ’n boodskap van hoop

hannes-noeth-hh

Hannes Noëth is die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. Foto: Verskaf.

Maroela Media se lesers kan Woensdag om 18:00 op die webwerf inskakel vir ʼn regstreekse uitsending van die Solidariteit Beweging se bemoedigingsboodskap vir Suid-Afrikaners.

Dit volg na pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand aangekondig het dat alle Suid-Afrikaners vanaf 23:59 op Donderdag 26 Maart vir 21 dae in hul huis moet bly in ʼn poging om die verdere verspreiding van die nuwe koronavirus (Covid-19) te bekamp. Slegs ondernemings wat noodsaaklike dienste lewer soos kruidenierswinkels, apteke en mediese sentrum, mag in dié tydperk oop bly.

Dié aankondiging het talle Suid-Afrikaners met meer vrese en vrae gelaat oor die impak van Covid-19. Hulle wonder nou ook hoe die toekoms van die land na die staat van inperking gaan lyk. Inwoners het hulle veral na sosiale media gewend om hulle vrese te lug.

Die stroom van vrae en kommentaar het die Solidariteit Beweging genoop om ʼn regstreekse uitsending op sosiale media te doen waar Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand en ʼn voormalige predikant, ʼn boodskap van hoop en vertroue op die Here sal bring.

“In nasionale krisistye soos hierdie is dit belangrik om net weer stil te word en te onthou waar ons enigste redding vandaan kom. Hier wil ek graag Psalm 121 aanhaal wat sê ‘ons hulp kom van Here af’,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Volgens Wikipedia beskryf minstens 79,8% van die Suid-Afrikaanse bevolking hulself as Christene, daarom glo Buys die meeste mense sal die boodskap verstaan, en het dit ook nou juis nodig.

“Ons moet fokus op die eienskappe wat ons as ʼn gemeenskap aan mekaar saambind,” voeg Buys by.

Hy sê die Solidariteit Beweging se boodskap was nog altyd een van bid en werk. “Ons bid want ons glo en weet alles hang van Hom af, terwyl ons binne die raamwerk van werklikhede bly werk of alles van onsself afhang.

“Almal binne die Solidariteit Beweging weet die regulasies wat nou afgekondig is, beteken dat mense nou eerstens na hulle gesinne en hulle gesondheid moet omsien. Daarna kyk ons hoe ons mense se werk en die ekonomie aan die gang kan hou, terwyl ons uitreik na ander mense wat nou in groter nood verkeer.”

Noëth sê op sy beurt dit is belangrik dat gemeenskappe in moeilike tye mekaar moet bemoedig en bystaan.

“Woensdagaand se boodskap is een van hoop en ʼn vaste vertroue op die krag van die Here. Die doel van die boodskap is om veral gesinne toe te rus met hierdie bemoediging.”

Almal word genooi om saam te luister, te dink, te praat en te bid. Die boodskap sal regstreeks uitgesaai word op die Facebook-blaaie van Solidariteit, Helpende Hand, AfriForum en Maroela Media. Luisteraars kan ook by Pretoria FM inskakel om na die boodskap te luister. Die uitsending vind 25 Maart om 18:00 plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael 1 ·

As dit nie was vir die hoop wat Afriforum en die Solidariteit beweging gee nie het ek seker al verval in negatiwiteit en moedeloosheid in hierdie land waar ons huidiglik leierloos is en ek hoop Dr Groenewald lees hierdie kommentaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.