Skakel in vir RSG se Kersdagprogramme

Argieffoto (Foto: Islem Benzegouta/Pixabay)

RSG-luisteraars kan vanjaar uitsien na ʼn verskeidenheid van vermaak op dié radiostasie se Kersdagprogram. Van ʼn Klassieke Kerskonsert en ʼn Kersdrama uit die pen van NP van Wyk Louw, tot ʼn spesiale poësieprogram, versoeke, gospelmusiek en ʼn aanbieding oor engele en Kersfees.

Esté Gross begin die oggend met Kersstemming, ʼn keur uit bekende en nuwe uitreikings van ligte klassieke musiek, en Magdaleen Kruger skuif oudergewoonte om 08:00 reg vir Loof die Here op Kersdag. Kruger se program is saamgestel uit gewyde musiek met kore, soliste en orkeste van oor die wêreld wat hierby ingesluit word.

Kersversoeke vir 90 jaar en ouer volg om 09:40 en luisteraars kan vooraf hul versoeke e-pos na [email protected].

Salon Music se Klassieke Kerskonsert, met Marieke de Koker (sopraan) en Danie Verster (bariton), word om 13:00 uitgesaai. Die konsert is in samewerking met die Gauteng Filharmoniese Orkes onder leiding van die dirigent Eddie Clayton aangepak en dit word deur die Rupert-musiekstigting geborg.

Die program sluit gunstelinge in soos “Stille nag”, Koos du Plessis se “Somerkersfees”, “Oh holy night”, “Hark the herald angels”, “Jingle bells”, Clayton se “Kersfees Overture”, en werke van Vivaldi, Bach en Handel.

Hierdie konsert is in die SAUK se M1-ateljee in Auckland Park opgeneem met Frikkie Wallis as die klankregisseur.

Die drie Kompas-aanbieders – Athina Jansen, Francois van der Merwe en Chrislynn Sias – neem luisteraars om 19:30 op ʼn nostalgiese rit deur Kersfees en hulle deel ʼn paar jong mense se gunstelingherinneringe van hierdie spesiale feesdag. Kerskaskenades bevat ook luisteraars se sienings oor Kersdag en die Kompas-span verras met hul eie Kerssang en kitaarspel.

U eie keuse, met Willem Pelser as aanbieder, val vanjaar op Kersdag en word om 20:00 uitgesaai. Dit is die oudste program op Suid-Afrikaanse radio en word sedert 1945 elke week ononderbroke uitgesaai. Pelser sal vanjaar spesiaal Kersliedere by sy musiekaanbod voeg.

Besoek RSG se webwerf vir Kersdag se volledige programskedule en om op die hoogte van enige veranderinge te bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.