Skare stroom na Geloftediens by Voortrekkermonument

Geloftediens-2017

(Foto: Verskaf)

Die jaarlikse Geloftediens wat Saterdag by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou is, het volgens die bestuur van die monument duisende mense gelok.

Hierdie diens word elke jaar deur die bestuur van die monument, in samewerking met Die Voortrekkers, aangebied om die gelofte te gedenk wat voor die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 deur die voortrekkers afgelê is.

Celia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, het in ʼn verklaring gesê dominee Cassie Aucamp het tydens die geleentheid ʼn positiewe boodskap gelewer. “Die Gelofte is deurgetrek na ons situasie in Suid-Afrika vandag en ook na elkeen se persoonlike lewe,” het sy gesê.

Die skare het na afloop van die Geloftediens in die Voortrekkermonument bymekaar gekom om die sonstraal op die senotaaf om 12:00 waar te neem – ʼn belewenis wat slegs op dié dag en tyd gewaar kan word.

Die argitek, Gerard Moerdijk, het tydens die beplanning van die gebou ʼn skaalmodel gebruik om die posisie van die son tydens die opening van die monument op 16 Desember 1949 te bepaal, en in wese funksioneer die monument as ʼn groot sonwyser. Volgens Kruger is die sonstraal simbolies van God se seën wat op die werk en strewe van die voortrekkers gerus het.

Diegene wat nie die Geloftediens kon bywoon nie, kan na ʼn opname van die diens op die Voortrekkermonument se webwerf kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Wat n welkome artikel na die hordes Nasrec publisiteit.
Wat n pragtige gesig om my ou volkie so te sien die geloftedag eerbiedig. Verruklik mooi!

jaco ·

daardie amfiteater by die voortrekkermonument kan meer as 200 000 mense vat EN dit was al vol in die verlede. So ‘n paar duisend mense by laas Saterdag se geloftediens is maar swak.

Chrisjan ·

Jaco,Die Gelofte Fees diens in Swartruggens was bygewoon deur byna 2000 mense.Baie moes buite in die son sit want die groot Landbousaal was eenvoudig te klein vir die’ horde mense.Onthou net Swartruggens het ongeveer net 300 blanke inwoners.Die atmosfeer was absoluut elektries!

jaco ·

Hoe was daar dan 250 000 by die Voortrekkermonument se inwyding in 1949? Daar was toe maklik 1 miljoen plus MINDER Afrikaners as vandag. En hoe was daar dan 150 000 of meer by ‘n Republiekdagviering by die Monument in 1991 (ek was self daar).
Ons mense is gou om oor klomp goed te kla, maar as daar raad gegee word met goed soos bid, gaan kerk toe, STEM in verkiesings, woon Geloftedagbyeenkomste by, is daar grootskaalse onbetrokkenheid én ook kritiek wat soms selfs Godslasterlik is. ONS EIE MENSE help eintlik maar net om ons eie graf te grawe.
My syfers hierbo is dalk debateerbaar, maar my volgende syfers is definitief korrek:
Amper 1 miljoen nee-stemme in 1992 se referendum is net 2 jaar later in 1994 af na skaars 425 000 vir die Vryheidsfront. En daardie selfde party het in 2014 maar net omtrent 160 000 stemme gekry. Nou wonder ek waar het omtrent 800 000 stemme dan heen verdwyn? Is almal dood, of almal by die DA of almal in Australië? Ek twyfel. Die 3 Afrikaanse susterkerke raak ook al hoe kleiner. Meeste van ons eie mense stel eenvoudig nie meer belang nie. So voor Zuma en die ANC bloot die skuld vir alles kry, kan ons eers kyk hoe ons meer betrokke kan raak by die welsyn van ons eie mense.

Gerrit ·

Vir meer agtergrond oor die Voortrekkermonument lees gerus die boek deur Denise Woods met die titel : Oes die Stormwind (ook in Engels beskikbaar). Dit gee ‘n diep Bybelse agtergrond vir die tyd van ontstaan van die V.monument en hoe dit vandag se politieke situasie beinvloed het. Die bevolkingsgroep in beheer van SA vir die grootste deel van die 20ste eeu moes die politieke mag af staan. Die Bybel is duidelik dat regerings deur God aangestel is (nogal moeilik om te verstaan en te aanvaar). Waarom sou God toelaat dat mag van sekere groepe weg geneem word en aan goddelose magte oorgedra word ? Laat mens dink aan die geskiedenis van Israel en hoe hulle weg gevoer is in ballingskap. Lees die boek vir agtergrond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.