Skatte uit Strijdom-huis nou deur Erfenisstigting bewaar

Die Strijdom-huis in Modimolle, Limpopo. (Foto: Verskaf)

Die Strijdom-huis in Modimolle, Limpopo, se erfenisskatte word nou amptelik deur die Voortrekkermonument se Erfenisstigting bewaar.

Adv. JG Strijdom was van 1954 tot 1958 die vyfde eerste minister van die Unie van Suid-Afrika en sy familiewoning is in 1976 tot museum verklaar.

Die afgelope paar jaar het die museum egter agteruitgegaan, dermate dat termiete die dakbalke begin opvreet het. Die grootste deel van die plafon is ook reeds opgevreet.

Aangesien dit nie meer veilig is om die erfenisskatte daar te hou nie, het plaaslike owerhede en die Erfenisstigting besluit om hande te vat om die kosbare geskiedenis vir die volgende geslag te bewaar.

Dié stigting het ʼn bruikleenooreenkoms met die Limpopo- provinsiale departement van sport, kuns en kultuur, asook die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit aangegaan.

Adv. JG Strijdom se studeerkamer. (Foto: Verskaf)

Personeel van die Erfenisstigting het Woensdag begin om die museum se skatte op te pak en te vervoer.

Dirk de Wit, die adjunkdirekteur van museums by die provinsiale departement van sport, kuns en kultuur, sê dit is vir hom van sleutelbelang dat dié skatte bewaar word.

“Toe Marlene van Staden, burgemeester van die munisipaliteit, my ingelig het oor die kwessie by die Strijdom-huis het ek dadelik gaan kyk. Ek kon nie glo hoe vinnig die huis agteruitgegaan het nie. Ons het net besef ons moet iets doen om die waardevolle items te beskerm en bewaar en het dus besluit om die Erfenisstigting te nader.”

Verskeie van die artefakte, soos skilderye, portrette, Strijdom se tikmasjien, ʼn familiebybel en selfs pres. Paul Kruger se pyp, sal nou deur die Erfenisstigting ingeneem, nagegaan en gerestoureer word, sou dit nodig wees.

“Ons sal ondersoek instel oor hoe ons die museum kan herstel. Covid-19 het die sektor geldelik onder enorme druk geplaas en ons sal moet kyk hoe ons finansiering kan kry om die huis te herstel. Ons kan nie genoeg dankie sê vir die moeite wat die Erfenisstigting hier doen nie,” sê De Wit.

Jaco Cilliers besig om skoon te maak in adv. JG Strijdom se studeerkamer. (Foto: Verskaf)

Van Staden sê sy is net bly daar word daadwerklik iets gedoen aan die bewaring van dié erfenisstukke.

“Dit is baie hartseer dat die museum nou toemaak, maar geskiedenis is iets wat bewaar moet word. Ons is tog net so bly dat ons en die Erfenisstigting kon saamwerk om die kosbare goed in die huis te bewaar. Ons hoop dat ons dit kan regkry om die museum weer te herstel en eendag weer vir die mense die wonderlike uitstalling hier op ons dorp te kan wys.”

Van die artefakte sal ook binnekort by die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument uitgestal word.

Strijdom se sterfdagherdenking was Dinsdag 24 Augustus. Hy is in 1958 in die ouderdom van 65 oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.