Skep ’n kalm, veilige ruimte vir jou kind in chaos

(Foto: Jordan Whitt/Unsplash)

Deur Naomi Holdt

“Mamma wat as die brander nader kom? Wat as hulle nie ophou nie?”

“Sal die slegte mense tronk toe gaan? Hoe lank gaan hulle tronk toe? Wie sal hulle tronk toe neem en hoe doen hulle dit?”

“Waarom brand hierdie mense dinge, Ma?”

Gisteraand om die etenstafel vra ek my kinders of hulle vrae het. Ek het hulle gevra hoe hulle voel oor alles wat hulle gedurende die dag ervaar het.

Hulle het vrae gehad, baie daarvan, maar die antwoord het nie regtig saak gemaak nie. Wat wel saakgemaak het, en dit is eintlik wat altyd vir ons kinders belangrik is, is dat hulle weet ons verstaan.

Hierdie wete is gewoonlik genoeg om hulle bekommernisse te stil.

Miskien het jy vandag nie al die antwoorde op jou kinders se vrae nie, en dit is ook OK. Onthou het dat in tye van onsekerheid en chaos voel ons almal veiliger by die mense vir wie ons lief is.

Ek gebruik gewoonlik hierdie stappe om met my kinders te gesels in moeilike tye en ek deel dit graag met jou sodat jy vir jou kinders ʼn kalm omgewing kan skep waarin hulle veiliger kan voel:

  1. Kyk jou kind in die oë, sak af op jou hurke sodat jy op of selfs onder ooghoogte met hulle kan gesels. Dit help jou om ʼn werklike konneksie te maak en nie net ʼn stem van gesag te wees nie.
  2. Maak seker jy begryp hulle bekommernis. Vra byvoorbeeld: “Jy wonder wat sal gebeur as die brande nader aan ons huis kom, reg?”
  3. Weerspieël die emosie agter die vraag: “Jy voel regtig bang/bekommerd/angstig?” Gebruik jou ouerskapsinstink vir die woordeskat. Gelukkig sal jou kind jou vinnig vertel as jy nie hulle emosie reg verstaan het nie of die verkeerde woord gebruik.
  4. Weerspieël hulle emosie met jou liggaamstaal, gesigsuitdrukkings en stemtoon terwyl jy die woorde hierbo sê. ʼn Persoon sal nie voel ʼn mens verstaan hulle regtig as hulle emosies slegs mondelings weerkaats word met ʼn neutrale gesig nie.
  5. Staan vir ʼn paar oomblikke stil op hierdie punt.
  6. Normaliseer jou kind se emosie. “Dit is normaal om in ʼn tyd soos hierdie bang/hartseer/bekommerd/verward te voel. Ons almal voel nou ʼn bietjie so.” Al hierdie emosies het gisteraand by ons etenstafel opgekom.
  7. Antwoord eerlik, feitelik en toepaslik volgens jou kinders se ouderdomme op hulle vrae. Weet ook dit is heeltemal aanvaarbaar om nie oor al die antwoorde dit beskik nie en dit vir jou kind te sê. Gebruik ʼn neutrale, kalm en ondersteunende stem. Herinner hulle dat daar altyd mense is wat probeer help in ʼn gemeenskap en wat ook sal help om hulle veilig te hou. Antwoord byvoorbeeld: “Ek weet nie presies waar die brande gaan stop nie, my liefie, maar ek weet dat ons baie mense het wat alles in hulle vermoë doen om te keer dat dit nie naby ons kom nie. Ons het polisiemanne en -vroue, die weermag en gemeenskapslede wat ons almal help.”
  8. Onthou dat jy as ouer nie alles altyd kan regmaak nie; dit is ook nie jou taak as ʼn ouer om dit te doen nie. Ons kinders het nie regmakers nodig nie en hulle hoef ook nie reggemaak te word nie. Die belangrikste is eerder dat hulle voel hulle word verstaan. ʼn Gevoel van hegtheid is die produk van begrip en veiligheid is die produk van daardie hegtheid tussen ons en ons kinders, en ons almal het nou ʼn gevoel van veiligheid nodig.

Daar was soveel vrae gisteraand en ek het gedink my kinders gaan die hele nag lank wakker lê daaroor, maar na ons oor nog ʼn paar van hulle vrae gesels het, was hulle in die bed etlike minute later en vas aan die slaap. Dit het my as ouer geleer ʼn mens moenie bang wees vir vrae nie en jy hoef beslis nie al die antwoorde te hê nie want ʼn ouer moet net die emosies agter die vrae verstaan. Jy as ouer moet net verstaan.

  • Naomi Holdt is ʼn ma, opvoedkundige sielkundige en spreker met meer as twintig jaar se ondervinding met kinders en gesinne. Volg haar op Facebook vir meer oor ouerskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.