Skep ’n netwerk van werk

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Die Covid-19-pandemie hou Suid-Afrika en die res van die wêreld reeds sedert Maart 2020 gyselaar. Die pandemie en die drakoniese maatreëls wat deur die Suid-Afrikaanse regering ingestel is om dit te stuit, het daartoe gelei dat derduisende Suid-Afrikaners gebuk gaan onder werkloosheid en ʼn verlies aan inkomste.

Volgens die kwartaallikse arbeidsmarkopname (QLFS) wat deur Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) bekendgestel is, staan Suid-Afrika se werkloosheidsyfer tans op 32,6%. Die situasie is aansienlik meer desperaat vir jong werksoekers, en die data toon dat werkloosheid onder Suid-Afrikaners tussen 15 en 34 jaar oud op 46,3% staan, van wie slegs 9,3% oor ʼn universiteitskwalifikasie beskik.

In dieselfde tydperk beleef Solidariteit ʼn drastiese toename in die aantal poste en CV’s wat op sy werksoekportaal, Werknet, gelaai word. Hierdie rekordgetal volg te midde van ʼn besliste styging in werksverliese oor die afgelope jaar en die ekonomie wat beduidend minder veerkrag het om die las te kan dra.

Volgens dr. Juran van den Heever, hoof van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling, het Werknet tydens die pandemie ʼn baken van hoop vir sy gemeenskap geword deurdat dié platform die Afrikaanse gemeenskap nog meer rondom werksgeleenthede organiseer en bystaan wat werk betref.

“Werknet is geskep om werksoek en die advertering van poste so maklik en toeganklik moontlik te maak. Boonop doen ons dit in Afrikaans,” sê Van den Heever.

Hy wys ook daarop dat dit veral vir kleiner ondernemings belangrik is om hul poste op Werknet te adverteer. Op hierdie wyse kom werkskeppers en werksoekers by mekaar uit en kan lede van die Afrikaanse gemeenskap mekaar help.

“Ons glo in die krag van ʼn gemeenskap. Ons het elkeen ʼn verantwoordelikheid om ons jeug te ontwikkel en te bemagtig om die werksmag te betree. Dit is juis hierdie uitdaging wat Solidariteit Jeug geïnspireer het om ʼn plan te beraam om leerders met vak-, loopbaan- en beroepskeuses te help.”

Die #Beroepstoer-inisiatief wat deur Solidariteit Jeug aangebied word, is gegrond op skaduwerk. Die tradisionele manier van skaduwerk doen in die tyd van Covid-19 is egter heelwat moeiliker. Daarom het Solidariteit Jeug ʼn nuwe plan beraam en die proses met ʼn hedendaagse aanslag benader. Solidariteit Jeug het onlangs sy skaduwerkprogram wat aan matriekleerders gebied word na ʼn aanlyn platform geskuif.

Van den Heever meen jongmense wat bewus is van wat mense in verskillende beroepe doen, het ʼn beter kans om ʼn ingeligte besluit oor hul toekoms te kan neem.

“Die pandemie het nie net die akademie ontwrig en geweldige druk op leerders geplaas nie, maar dit bemoeilik ook die toegang tot ondersteuning wat leerders op skool ten opsigte van vak- en loopbaankeuses ontvang het.

“Solidariteit Jeug besef watter uitwerking hierdie pandemie op elke ouer en kind het. Daarom maak ons dit ons werk en roeping om leerders toe te rus en om gemoedsrus aan hulle oor hul toekoms te bied.”

Dit sluit alles in – van vakkeuses en persoonlike en leierskapsontwikkeling tot beroepsvoorligting en loopbaanbepaling.

Solidariteit se netwerk van werk bied die gereedskap om betrokke te raak by die opheffing van Afrikaanse gemeenskappe en werkplekke.

“Van indiensneming en opheffing van die jeug tot deelname aan jou beroepsgemeenskap is daar ʼn plek waar jy as sakepersoon ʼn bydrae kan maak en kan deelneem.

“Ons doen dit, want werk is een van die belangrikste elemente in enigiemand se lewe. Sonder goeie werk kan ʼn mens uiteraard nie vir jou gesin sorg of vir die toekoms beplan nie. As gemeenskap kan ons mekaar in hierdie netwerk van werk help,” voeg Van den Heever by.

Vir navrae of om betrokke te raak, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.