Skermswewers wil kinders se drome waar maak

Joe Pelser en Kobus Robbertze (Foto: Verskaf)

Twee entoesiastiese skermswewers van Bloemfontein sal in die nuwe jaar ’n 2 500 km lange skermsweefroete kuslangs van Alexander- tot in Kosibaai aanpak as deel van hul Fly for a Dream-inisiatief. Die projek het ten doel om kinders se drome waar te maak.

Hulle beoog om geld in te samel vir die Reach for a Dream-stigting wat kinders met lewensgevaarlike siektes se drome help verwesenlik.

Joe Pelser (45) het aan Maroela Media gesê hy en Kobus Robbertze (46) is albei pa’s en dit het hulle geïnspireer om dié inisiatief te begin.

“Ek en Kobus het albei kinders, so ons wil graag iets teruggee. Baie van die kinders se omstandighede is van so ʼn aard dat hul ouers nie vir hulle daardie drome kan waar maak nie. Dis hoekom ons dit wil doen, en sodoende ʼn verskil in die kinders se lewe wil maak,” het hy gesê.

“Baie van die kinders se drome is nie eens groot of duur nie, dit kan selfs net R2 000 kos. Party wil net ʼn skootrekenaar of ʼn pophuis hê. Vir hulle maak dit ʼn groot verskil, so ons wil dit graag vir hulle gee.”

Pelser en Robbertze was al voorheen betrokke by Reach for a Dream toe Kobus met ʼn fiets om die Vrystaat en ook om Lesotho gery het om geld vir die organisasie in te samel.

“Ons doel is om geld in te samel en drome waar te maak,” het Pelser gesê.

Die 2 500 km wat Pelser en Robbertze wil aflê, sal oor ʼn tydperk van sowat een maand plaasvind.

“Ons vertrek op 21 Maart 2019 en sal 100 km per dag kan aflê. Dit is nogal ʼn hele ent; ons moet nog al die logistieke detail uitwerk,” het Pelser gesê.

Pelser het gesê hulle het ʼn teiken van R500 000 wat hulle wil insamel vir die Reach for a Dream-stigting. Hulle het reeds R100 000 ingesamel.

Vir meer inligting of om ʼn skenking te maak vir die Fly for a Dream-inisiatief, besoek hul webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B ·

Klink na pret!
Voospoed manne, wind van agter en son van bo! ?☀

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.