Skool gaan die speke laat sing vir boere

Die leerders van Hoërskool Outeniqua wat aan die fietstoer gaan deelneem (Foto: Verskaf)

Die leerlinge van Hoërskool Outeniqua wat aan die fietstoer gaan deelneem (Foto: Verskaf)

Die Hoërskool Outeniqua, in George in die Wes-Kaap, gaan van 25 tot 30 Junie ʼn fietstoer aanbied waarin 19 leerders van die skool meer as 500 km gaan aflê om geld vir boere in droogtegeteisterde gebiede in te samel.

Elandi Rautenbach, ʼn onderwyser by die skool, sê die skool het verskeie portefeuljes wat leerders help om ʼn bydra tot die samelewing te maak. Een van dié portefeuljes, Impak, ondersteun maatskaplike kwessies.

“Ons het vroeër vanjaar meer as R28 000 vir Kansa ingesamel. Toe ons ʼn nuwe projek moes identifiseer, was die droogte die eenvoudige antwoord omdat dit so ʼn groot kwessie in Suid-Afrika is,” het Rautenbach gesê.

Negentien leerders, wat almal betrokke is by die Impak-portefeulje, gaan tussen 25 en 30 Junie met hul fietse tussen George en Kaapstad ry.  “Ons hoop om op pad ook geld in te samel, maar ons gaan bandjies en penne ook verkoop om die fondse bymekaar te kry.”

Hulle beplan om deur Bredasdorp, Caledon en Villiersdorp te ry. ʼn Bussie gaan ook op die N2 saamry om verder bewusmaking te bewerkstellig.

“Baie van ons word persoonlik deur die droogte geraak. My ouers boer self en ek kan sien wat die gevolge van die droogte is,” het sy bygevoeg.

Hoërskool Outeniqua werk nou saam met die nie-regeringsorganisasie Caring Daisies, wat gaan verseker die geld word onder die mees behoeftige boere versprei as deel van die Manna vir die Boere-projek. Die fietstoer het ook goedkeuring van die Nasionale Verkeersdepartement gekry.

“Dit is ʼn klein projek en is in die groter geheelbeeld net ʼn druppel aan die emmer, maar dis ons poging om die boere te help en by te staan wanneer hulle dit broodnodig het.”

Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos aan [email protected] of besoek Impak se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.