Skool spog met grootste gr. 1-klas nóg

Bo: 15 swanger vroue in die plaasgemeenskap rondom Laerskool Gamtoosvallei het jare terug saam ʼn foto geneem.
Onder: Vandag vorm hul kinders deel van die laerskool se grootste gr. 1-klas nóg. (foto’s: verskaf)

Die Laerskool Gamtoosvallei naby Patensie in die Oos-Kaap spog vanjaar met sy grootste gr. 1-klas nóg.

ʼn Paar jaar gelede het ʼn handjievol swanger vroue ʼn foto saamgeneem. Dié foto is vandeesweek uit die argief gekrap en gedeel deur die plaaslike laerskool, aangesien die babas in daardie foto nou deel vorm van die Gamtoosvallei se grootste gr. 1-klas in die geskiedenis.

“Ons is ʼn klein plaasgemeenskap, ons skool het nog nooit regtig meer leerders as 250 gehad nie. Ons het een klas per graad, en het vanjaar 31 graadeentjies – vir ons is dit ʼn groot klas,” het Christelle McCabe, hoof van die Laerskool Gamtoosvallei, gesê.

“Ons het ʼn jong gemeenskap, jong ouers. Die oumas en oupas het nou afgetrek Jeffreysbaai toe en daar gaan aftree. Hier is ʼn klomp jong boere en die babatjies kom nou – dis so lekker.”

Sy het skertsend opgemerk dat iemand navorsing oor die skielike geboorte-groeikoers kom doen het, en dat die alomteenwoordige beurtkrag dalk die oorsaak daarvoor is.

Die kleinste gr. 1-klas wat die skool al gehad het, was maar ʼn skamele 15 leerders.

“Ek is nou sewe jaar hier, maar die skool is vanjaar 119 jaar oud, dis ʼn baie ou skool. Ek kan nou nie regtig praat oor die beginjare van die skool nie. Maar in die tyd wat ek al hier is, was ons kleinste klas nie meer as 15 of 16 nie.”

Omdat die skool ʼn plaasgemeenskap is, moes daar planne gemaak word toe die inperking destyds aangebreek het.

“Ons het vraestel-‘ubers’ gehad. Sommige mammas het rondgery en vraestelle afgelaai by die verskillende plase, die kinders het dit voltooi en dieselfde mammas het dit weer gaan oplaai. Ons het ook besef dat nie elke huishouding ʼn drukker of ink vir ʼn drukker het nie. Ons het ook nie ʼn drukwinkel naby nie – so ons het sekere plekke in die dorp gehad waar die skool opdragte en papiere kon aflaai.”

McCabe, wat self nog klas vir die gr. 4’s en gr. 7’s gee, het met trots van die skool en dié se personeel vertel. “Dis ʼn voorreg om hier te wees, die personeel is ongelooflik en baie passievol oor die skool en die kinders.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

madels ·

So oulik, lyk my hier gaan n besonderse band wees tussen ouers en gr eentjies

Chantel ·

Onderwysers met ‘n passie vir kinders om hulle te help. Dis wonderlik. Welgedaan
So baie sien ons dat onderwysers net nie meer dieselfde passie het nie. Bitter min onderwysers het vandag meer daai selfde liefde vir kinders soos vroeër jare. Ek sien dit daagliks. Dis hartseer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.