Skoolhoof se inisiatief vul honger magies

Deur Phillip Bruwer

Van links is Janine van Rooyen (onderwyser), Sonja Roos (onderhoof), Frik Greyling (skoolhoof) en Anschel Pieterson (maatskaplike werker). Foto: Verskaf

Byna 14 jaar gelede het Frik Greyling, skoolhoof van Laerskool Pierneef in Pretoria se Moot-omgewing, leisels by dié skool oorgeneem en sy passie vir liefdadigheid by sy vorige skool in ʼn behoeftige omgewing, by sy nuwe skool voortgesit.

Vandag sorg Laerskool Pierneef vir behoeftige gesinne in die omgewing en help die onderwysers, ouers en voogde om te sorg dat minstens 22 behoeftige gesinne weekliks genoeg kos kry om in moeilike omstandighede te oorleef.

“Ek skerts altyd dat die nood my uit die weste van Pretoria, waar ek voorheen skool gegee het, na die Moot gevolg het. Maar nood is oral en dit is hartroerend om te sien hoe ons onderwysers en gemeenskap saamstaan om vir mekaar te sorg met die basiese behoeftes,” sê Greyling.

Toe Greyling 14 jaar gelede met die inisiatief begin het, het hy ouers versoek om indien dit vir hulle moontlik is skenkings van onder meer nie-bederfbare kos en toiletware te maak. Die skool het dan pakkies opgemaak om ná kantoorure aan die behoeftige kinders se ouers uit te deel, sodat die leerders nie geïdentifiseer kan word nie.

“Ons het ook begin om elke pouse broodjies te maak wat ons uit ʼn lokaal bedien en waarvan enige leerder kan kom haal om te eet. Niemand word uitgesonder nie, tog word die magies gevul,” verduidelik hy.

Sonja Roos, onderhoof van Laerskool Pierneef, het kort nadat die poging van stapel gestuur is, lank die administrasie daarvan oorgeneem. Vir die afgelope vier jaar is die projek in die hande van juffrou Janine van Rooyen, wat nou sorg dat, met die hulp van die gemeenskap, nagenoeg 22 behoeftige gesinne weekliks ʼn kospakkie ontvang.

Volgens Greyling het Laerskool Pierneef ʼn voltydse maatskaplike werker, Anschel Pieterson, aangestel wat ʼn wakende oog oor die behoeftige gesinne se omstandighede hou en seker maak dat die kos en voorraad wat geskenk word, behoorlik gebruik word.

“Dit is aandoenlik om te sien hoe ʼn gemeenskap bewus is van sekere ouers se nood en saamstaan om hulle tot ʼn mate ‘aan te neem’. Die kinders se welstand word ook voortdurend dopgehou,” sê Greyling.

Solidariteit Helpende Hand het van Laerskool Pierneef se jare lange inisiatief gehoor en dadelik hul steun aan die inisiatief toegesê.

“Liefdadigheid begin by die huis en as almal saam hande vat kan die gemeenskap saam met Helpende Hand help om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom. Die publiek ken ons as Helpende Hand. Dit is presies wat ons wil wees. ʼn Hand wat help in ons gemeenskappe.

Saam ontwikkel ons, ons gemeenskap en sodoende ook die land,” sê Hannes Noëth, besturende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.

Noëth benadruk dat verskeie welsynsorganisasies, behoeftiges en ouetehuise tydens die Kersseisoen oorval word met skenkings van weldoeners. “Dit word natuurlik met ope arms verwelkom en ten volle waardeer. Ons wil egter die publiek daarvan bewus maak dat al die skenkings en kos teen Januarie opgebruik is, en dit is dán eintlik wanneer die grootste behoefte by die meeste instansies bestaan. Helpende Hand sorg dat daar deurlopend en maandeliks aan alle hulpbehoewende mense, veral bejaardes, kleuters en gestremdes, se behoeftes voldoen word. Ons kan dit net met die hulp van die gemeenskap en maandelikse ondersteuners doen,” voeg hy by.

Besoek www.helpendehand.co.za vir meer inligting of om skenkings te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.