Skooltassieprojek se Tassie-toer skop weer af

skooltassie 3

Margolé Riekert en Sorina Erasmus deel ‘n grappie. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Solidariteit Helpende Hand het Maandag uit Pretoria weggespring met die jaarlikse Skooltassieprojek se Tassie-toer, waartydens skooltasse, wat skryfbehoeftes ter waarde van R380 elk bevat, aan behoeftige kinders landwyd uitgedeel word.

Sorina Erasmus, beter bekend as Die Flooze, is die amptelike ambassadeur van die Skooltassieprojek, en het die verrigtinge gelei. Sy het die gehoor vermaak met haar gewilde snitte “Hoezit my tjomma?” en “Die Tennis Tune”.

Meyer le Roux van Buffelsfontein-baardolie-faam en die gewilde sanger Adam Tas is ook verteenwoordigers van dié projek.

Volgens Margolé Riekert, bestuurder van die Skooltassieprojek, lê die sewe motorfietse en twee bussies, wat deel is van die Tassie-toer-konvooi, ongeveer 1 300 km af. “Ons deel tassies uit in onder meer Bothaville, Orania, Hoopstad, Potchefstroom en Klerksdorp en beplan om Donderdag weer terug te wees in Pretoria.”

skooltassie 4

Die Flooze begroet vir Meyer le Roux op sy motorfiets. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

4 600 tassies, met onder meer uitdraaikryte, ʼn legkaart, inkleurpotlode, grys potlode, ʼn liniaal, ʼn skerpmaker, ʼn skêr, ʼn uitveër, gom, pennesakkies en ʼn witbord met penne, word vanjaar uitgedeel. Meer as 170 skole reg oor die land het aansoek gedoen om tassies.

Volgens Riekert gaan daar buiten Bybelleesboekies ook addisionele leesboeke uitgedeel word tydens die Tassie-toer. “Navorsing wat ons gedoen het toon dat soveel as 55% van graadeens in Afrikaanse skole nie hul eie leesboeke het nie.”

Ondersteun die Skooltassieprojek deur die woord “Tassie” na 42266 te SMS. ’n SMS kos R30. Of besoek die webwerf by www.tassie.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tammy ·

Ek sou beslis rojaal bydra as ek weet wie deur my bevoordeel sal word van tassies, maar daar word teen Afrikaanse wit skole gediskrimineer en ons taal word vernietig so…. ek sal slegs n borgskap doen vir wit Afrikaanssprekende kinders, punt!!

Die Leeu ·

Tammy. Pleks jou “opinie” in die lyn van JC sin was. Of werklik n antwoord was, op die vraag van hoe mens meer kan help. Want as jy enige lees werk gedoen het sou jy weet wat Helpende Hand doen. “Ons fokus is om ʼn antwoord op die Afrikaner-armoedekrisis te vind”-HH. Ek neem aan die strek tot skoolkinders ook. Maar ek glo dit verg n persoon soos u meer moeite om jouself blind te staar aan wat die Afrikaner tans vir mekaar doen via die Solidariteit beweging, as om werklik skouer aan die wiel te sit soos wat die manne en dames hier gedoen het. Ek daag jou uit vir n oplossing. Of minstens n bydrae te lewer meer as as die opinie wat jy sopas uitgelewer het.

E.K. die eerste ·

Ja-nee kyk, die snediges is altyd met ons. Moenie vergeet daar is hope bruin en swart leerlinge wat AFrikaans praat sommige wat grootword met Afrikaans as eerste taal. Dis hoe mens die taal laat groei deur ALMAL lief te maak daarvoor en te help. Kom met beter (werkende) voorstelle as jy kan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.