Skoonheid wil wêreldrekord laat spat vir liefdadigheid

Lynné de Jager, ʼn sakevrou en Mev. Suid-Afrika 2012. (Foto: Verskaf)

ʼn Voormalige Mev. Suid-Afrika sal dié naweek op haar grimeervaardighede staatmaak wanneer sy poog om ʼn wêreldrekord te laat spat, en terselfdertyd haar deel vir liefdadigheid te doen.

Lynné de Jager, ʼn sakevrou en Mev. Suid-Afrika 2012, sal Sondag probeer om ʼn Guinness-wêreldrekord op te stel deur in net een uur vir meer as 540 vroue lipstiffie aan te wend.

De Jager jaag die huidige rekord wat in 2012 in Pretoria opgestel is toe Bertha le Roux-Wahl as deel van ʼn liefdadigheidsprojek van Revlon en Finesse 535 vroue se lippe ingekleur het.

Volgens Guinness se streng reëls moet die lipstiffie volledig en egalig aan die bo- en onderlip van elke vrou aangewend word vir dit om getel te word.

De Jager, wat die eienaar van die LJ Cosmetology-lipstiffiereeks is, sê sy is slaggereed vir die uitdaging. “As ʼn grimeringkenner en eienaar van verskeie ondernemings, is ek gewoond daaraan om onder druk te werk,” sê sy. “Hierdie geleentheid gaan beslis my vermoëns toets, maar ek is gereed. Ek kan dit doen.”

De Jager sal dié uitdaging net ʼn dag voor Internasionale Lipstiffie Dag aanpak. Sy verduidelik hoewel dié dag gewoonlik wêreldwyd gebruik word om spesiale aanbiedinge op lipstiffies bekend te stel, wou sy vanjaar iets meer betekenisvol doen.

“Ek wil hê ons as Suid-Afrikaners moet deel wees van ʼn wêreldrekordgeleentheid, maar die ware wenners van die dag sal die kinders van Operation Smile wees wie se lewens met die opbrengste van die dag verander sal word,” sê sy.

Operation Smile is ʼn organisasie wat chirurgie befonds vir behoeftige kinders wat met ʼn haaslip of gesplete verhemelte gebore is. Dié internasionale liefdadigheidsorganisasie het al meer as 340 000 operasies vir kinders met gesigsgebreke in ontwikkelende lande befonds.

De Jager verduidelik die publiek word uitgenooi om R100 te skenk om deel te neem aan die lipstiffie-uitdaging en ʼn gedeelte van die wins sal dan aan Operation Smile geskenk word.

“Dit is belangrik vir enige suksesvolle entrepreneur om terug te gee en watter beter manier om dit te doen as om ʼn kind die selfvertroue te gee om te glimlag,” sê sy.

Die geleentheid sal Sondag van 11:00 tot 13:00 by Brooklyn Mall in Pretoria plaasvind. Lede van die publiek kan vanaf 10:00 registreer om aan die wêreldrekordpoging deel te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.