Skryfnet bied eerste kreatiewe kursus vir skoliere aan

skryfnet-skole-werkswinkel-01.jpeg

Skryfnet het gister die eerste werkswinkel in kreatiewe skryfkuns vir skoliere aangebied op Akademia se Centurion-kampus. Op die foto is van links die aanbieder Christien Neser, Maxine Murray, Janke Vogel, Christiaan Beyers, Isabella Tobler, Gustav Hauptfleisch en Marthinus Dippenaar.

Altesaam 19 leerders – sommige van sover as Bethlehem en Piet Retief – het Saterdag aan Skryfnet se eerste werkswinkel oor Kreatiewe Skryfkuns vir Skoliere deelgeneem. Die werkswinkel is op Akademia se kampus in Centurion aangebied deur die geliefde jeugverhaalskrywer Christien Neser.

Christien het die deelnemers se kreatiewe skryfspiere behoorlik laat werk en hulle begelei om ‘n storie-idee en interessante karakters te skep deur al hul sintuie, stimuli uit die omgewing en hul eie lewenservaring te gebruik. Die deelnemers het deurentyd die geleentheid gekry om te skryf en hulle idees aan mekaar voor te lees.

Christien was baie beïndruk met die gehalte van die deelnemers se storie-idees en skryfwerk. “Geen grootmens sou hierdie karakters kon uitdink nie,” het sy van die deelnemers se dierekarakters met bonatuurlike kragte gesê. “Julle het dit reggekry om goud uit strooi te spin!” Sy het die leerders aangemoedig om hulle karakters en idees te ontwikkel tot volwaardige stories.

“Hier is soveel talent onder die deelnemers,” sê sy.

Henk Viljoen, NB-Uitgewers se verteenwoordiger in Gauteng wat die skolemark bedien, het ook ‘n draai gemaak en die leerders gemotiveer om boekresensies te skryf en saam met hom aan ‘n nuwe boekklub vir jong lesers te bou.

skryfnet-skole-werkswinkel-02.jpeg

Henk Viljoen van NB-Uitgewers aan die woord.

Christiaan Beyers (14), ‘n leerder aan die Duitse Internasionale Skool in Pretoria, sê die dag was ‘n goeie ervaring en hy het baie nuwe dinge geleer.

Sy suster, Marjan (11), sê dit was vir haar lekker om te sien hoe goed ‘n mens kan skryf en om meer te leer oor skryf. “Dit was regtig baie lekker en ek sal dit aanbeveel.”

“Ek het baie van Christien Neser gehou, want sy’s entoesiasties en opgewek en ek het baie daarvan gehou om met haar saam te werk,” sê Marjan.

Volgens dr. Alé Steyn, departementshoof van Tale en Kultuurstudies by Akademia, droom die Skryfnet-span – en in die besonder Susan Lombaard, die uitvoerende hoof van Maroela Media – al lank van ‘n kreatiewe skryf-werkswinkel vir skoliere. “Dit was vir ons só lekker om uiteindelik so ‘n oulike jong klomp bymekaar te hê en ons hoop ons kan hierdie kursus binnekort weer aanbied.”

Christien is ‘n deeltydse spraakterapeut van Sandton en die skrywer van onder meer Amper Einstein, Pienk is nie vir sissies nie en die niefiksie boek Help! My kind is anders. Sy is ook die skrywer van die Elle-reeks en ‘n nuwe reeks verskyn binnekort uit haar pen. Haar boeke word deur Lapa en NB-Uitgewers uitgegee.

Skryfnet is ‘n projek van Maroela Media en Akademia. Die volgende kursus, “Inleiding tot Kreatiewe Skryfkuns”, is ‘n agt week lange aanlyn kursus wat op volwassenes gemik is en reeds op 6 September begin. Besoek www.skryfnet.co.za om vir dié kursus te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.