Skryfnet, ’n splinternuwe Afrikaanse skryfskool, is hier!

Jy loop al lank met ʼn storie in jou kop. Maar wanneer jy gaan sit om dit te skryf, wil die karakters nie vorm aanneem nie en die dialoog klink krom en skeef.

Goeie nuus: Skryfnet is hier om jou te help om te woeker met die woorde wat jy wil skryf, maar wat nie op papier gestalte wil kry nie. Dié projek, wat gesamentlik deur Maroela Media en Akademia aangepak word, het ten doel om jou te help om jou woorde te slyp – of dit nou ʼn storie, ʼn mediaverklaring, ʼn toespraak of ʼn biografie is wat jy wil neerpen.

Skryfnet word op Donderdag, 25 Februarie aanlyn bekend gestel, en skop reeds op 1 April af met ’n eerste kursus, Inleiding tot Kreatiewe Skryfkuns. Registrasies vir hierdie kursus open ook op Donderdag, 25 Februarie. Dié kursus se lesings word aangebied deur prof. Hans du Plessis, bekroonde skrywer en emeritus-professor van die Noordwes-Universiteit.

Praktiese leiding aan kursusgangers word gefasiliteer deur François Bloemhof, bekroonde skrywer van “iewers oor die honderd” boeke vir volwasse, tiener- en jeuglesers. Hy is ook ʼn vryskut-taalpraktisyn en -redakteur en was al verhaleredakteur by Sarie en boekeredakteur by Die Burger. François sal alle kursusgangers se skryfwerk evalueer en tydens die kursus terugvoer oor hul werk gee.

Die skryfskool se kursusse sal hoofsaaklik digitaal aangebied word, en steun sterk op Maroela Media en Akademia se gevestigde aanlyn aanbod. By geleentheid sal sommige van die kort kursusse ook as kontakkursusse aangebied word. ʼn Kursus in toespraakskryf (gerig op skoolkinders wat aan redenaarskompetisies deelneem en hul onderwysers/afrigters), asook ʼn kursus in die skryf van mediaverklarings volg kort op die hakke van die eerste kursus.

Nog ʼn stukkie goeie nuus is dat ʼn gebaretaaltolk by die bekendstellingsgeleentheid beskikbaar sal wees. Ons inleidende kursus sal ook in gebaretaal beskikbaar wees om die videosessies toeganglik te maak. Dit is ʼn proeflopie om vas te stel of ons daardeur die gehoorgestremde gemeenskap ook by die kursus kan betrek.

Deel gerus saam in die bekendstelling met die onderstaande video van die geleentheid. Ons gaan gesels oor die onderwerp: Hoe gaan dit met die Afrikaanse boek? Die besprekingspaneel bestaan uit prof. du Plessis, joernalis en skrywer Ilse Salzwedel, bekende radiopersoonlikheid Elsje van Jaarsveld, Henk Viljoen van NB Uitgewers en die uitvoerende hoof van Maroela Media Susan Lombaard.

(*Die gesprek begin by 1:35)

Wil jy skryf? Skryfnet is hier!

Kom deel saam met ons in die regstreekse bekendstelling van Skryfnet, ʼn splinternuwe slypskool vir almal wat in Afrikaans met woorde wil woeker. Skryfnet is ’n projek van Maroela Media en Akademia.Kom sluit aanlyn by ons aan en gesels saam oor die onderwerp: Hoe gaan dit met die Afrikaanse boek? Bekroonde skrywer prof. Hans du Plessis, joernalis en skrywer Ilze Salzwedel, bekende radiopersoonlikheid Elsje van Jaarsveld, Henk Viljoen van NB Uitgewers, en die uitvoerende hoof van Maroela Media Susan Lombaard vorm die paneel tydens die bekendstellingsgeleentheid.

Posted by Skryfnet on Tuesday, February 23, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stof ·

Seker een van die mees verblydende inisiatiewe. As die woordsmokkel-gogga eers aangesteek het, kan geen antibiotika dit tem nie.
Ek spreek dus guns en seën oor hierdie gewaardeerde inisiatief en vertrou om binnekort te verneem dat dit met rasse skrede groei en vele kreatiewe mense bemagtig om hulle talente ten volle te ontwikkel.

Eend Bessinger ·

Miskien is dit net wat die dokter voorgeskryf het vir die kunssinniges onder ons.

Daniel ·

Wonderlik saam met gebaretaaltolk!!! Dit is skaars soos hoendertande om gebaretaaltolk saam met Afrikaanse video te hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.