Skrynwerker spaar sy lewe lank om studente te help

Dale Schroeder. (Skermskoot: CNN)

ʼn Skrynwerker van Iowa in die VSA het 67 jaar lank vir dieselfde onderneming gewerk en jaar na jaar sy spaargeld versigtig weggebêre – net sodat hy ná sy dood 33 studente se droom om te studeer kon verwesenlik.

Die storie van Dale Schroeder (86) se onbaatsugtige daad het pas aan die lig gekom toe die 33 studente wat hy gehelp het, bekend as “Dale’s kids”, die afgelope naweek bymekaargekom het om hul stories te deel.

Newsweek berig Schroeder het ʼn eenvoudige lewe gelei. Hy het arm grootgeword, nooit getrou of kinders gehad nie, en 67 jaar lank as skrynwerker vir dieselfde onderneming in die stad Des Moines gewerk. Hy het twee paar jeans besit en ʼn geroeste Chevrolet-bakkie gery.

Steve Nielsen, Schroeder se vriend en prokureur, vertel Schroeder het nooit die kans gekry om aan ʼn universiteit te studeer nie, maar het altyd die waarde van ʼn tersiêre kwalifikasie besef. Daarom het hy kort voor sy dood in 2005 vir Nielsen gevra om die spaargeld wat hy sy hele lewe lank bymekaar gemaak het, te gebruik om arm studente in Iowa te help om te kan studeer.

CNN berig Schroeder se spaargeld van byna $3 miljoen was genoeg om oor die jare vir 33 studente se studies te betaal. Dié studente, waarvan baie nou dokters, onderwysers en terapeute is, het die afgelope naweek, 14 jaar ná Schroeder se dood, almal bymekaargekom om die man te vereer wat hul drome waar gemaak het.

Nielsen het aan die studente gesê Schroeder se hoop was dat hulle dié goedheid weer aan ander sal uitdeel. “Julle kan nie die geld terugbetaal nie, want Dale is weg. Maar julle kan hom onthou en hom dit nadoen. Al wat ons vra is dat julle hierdie welwillendheid voortsit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Melanie ·

Daar is nog sulke mense op hierdie aarde al is hulle min gesaai. Aan hulle kan ons net sê “baie dankie”. Om te kan gee eerder as om te neem maak die hart baie bly.

Samaritaan ·

Onbaatsugtige naasteliefde. Mens kan net hoop dat die 33 wie se lewens so onherroepelik verander is deur een mens, weer elkeen op hulle beurt 33 ander se lewens sal beinvloed, en dat dit sal aanhou sneeubal. Bewys dat een mens wel ‘n verskil kan maak.

susan ·

Siestog Gerrit so sinies op ‘n Sondagmiddag. Jammer vir jou.

Tina ·

Met al die geld wat oor die jare verdwyn het uit die staats kas,kon daar gratis opleiding in enige beroep gegee word, elke liewe mens kon ‘n kar en huis besit het.

Sarel ·

Ek Lee’s van mense wat hulde bring aan ‘n formidabele mens en om eer aan hom te bewys. Sommigevmense is egter so vol negatiewe Politiek dat hulle net niks anders rasksien nie. Ek simpatiseer met julle regtig

Stephan de S ·

Dit gaan bo my begrip dat n mens so onselfsugtig kan optree. Dis hoe n ware held lyk. Dankie vir hd berig…..dit is deur en deur nuus-en -merkwaardig.

Dorothy ·

Hy het soveel gemis van sy eie lewe. Hy was seker te suinig om vir homself ‘n sjokolade te koop. Dis pateties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.