Slag van Vegkop met tydkapsule herdenk

Lede van die Heilbron Voortrekkerkommando, lede van die gemeenskap naby Vegkop, lede van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging se Kiewiet-tak (wat ook op die FAK se Kultuurnetwerk in Vaaldriehoek dien) en Vegkop-direksielede het die 185ste herdenking van die Slag van Vegkop bygewoon, waar ’n spesiale tydkapsule begrawe is. (Foto: Verskaf)

’n Tydkapsule is Saterdag op die terrein begrawe waar die Slag van Vegkop 185 jaar gelede plaasgevind het.

Die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het saam met die Vegkop-direksie, nabye gemeenskap, Die Voortrekkers en lede van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging die slag op dié wyse herdenk.

Die Slag van Vegkop naby Heilbron in die Vrystaat was een van die grootste militêre prestasies van die Groot Trek.

Dié veldslag het op 16 Oktober 1836 plaasgevind. Op hierdie dag het nagenoeg 6 000 Matabeles die laer van Andries Hendrik Potgieter aangeval, waarin 40 weerbare Voortrekkers met die hulp van vroue en kinders die aanval suksesvol die hoof gebied het. Al die vee is gebuit, maar met die hulp van die Barolongs het die trekgeselskap teruggetrek na Thaba Nchu van waar die Groot Trek verder ontplooi het. Hierdie veldslag, net soos die Slag by Bloedrivier, is besonder betekenisvol vir die vestiging van die Christelik-Westerse beskawing in die binneland van Suid-Afrika.

Vyftig waens is by Vegkop tussen die Renoster- en Wilgerivier (tussen die huidige Lindley en Heilbron) in ’n kring getrek en doringbosse is tussen die waens gepak. Die Matabeles het, onder aanvoering van Kalipi, die neerlaag gely teen die mans en seuns, waarskynlik onder leiding van Sarel Cilliers. Twee Voortrekkers is gedood en 14 gewond, terwyl ongeveer 430 Matabeles gedood is.

Met behulp van osse wat Moroka, opperhoof van die Barolong, en eerw. James Archbell aan hulle gestuur het, het hulle na Thaba Nchu teruggekeer. In Januarie 1837 het Hendrik Potgieter en Maritz ’n suksesvolle strafveldtog teen Silkaats by Mosega afgerond met die verhaling van die veeverliese. In 1858 het die Vrystaters ook by Vegkop teen die Basoeto gewen en in 1883 is ’n monument daar opgerig.

Die tydkapsule wat gevul is met indrukke van die gemeenskap oor Vegkop in die vorm van briewe en foto’s, asook ’n gedenkboek, ’n veldoorlewingsboek vanuit die ou weermag asook ’n 1c (mossiemunt) wat deur die FAK op ’n houtsleutelhouer gemonteer is, word deur Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat en Vegkop-direksielid, seël die tydkapsule voor dit begrawe is. (Foto: Verskaf)

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat en direksielid van Vegkop, sê daar is lank geredeneer oor hoe ons eendag vir ons kinders se kinders sal vertel van die uitdagings in 2021.

“Daar is soveel om te sê en soveel lewenswaarhede wat beslis nog sal geld oor 50 jaar. Ons wil dit oordra aan ons nageslag sodat dit behoue kan bly. Dit is iets spesiaal wat gelos word juis vir die nageslag om te weet dat ons vir hulle ook omgegee het, dat hierdie terrein van Vegkop spesiaal vir julle behoue gebly het en dat daar aan julle gedink is met elke boom, elke monument en elke stukkie gras wat hier geplant is.”

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat en Vegkop-direksielid, oorhandig die toekenning aan Quarta Pretorius. (Foto: Verskaf)

Malan vertel dat ds. JD Kestell, ’n Afrikaanse predikant, kultuurleier, taalstryder, maatskaplike werker, skrywer en Bybelvertaler, voor die Anglo-Boereoorlog gehelp het met die oordrag van die Vegkop-grond van die eienaar na die Heilbron-gemeenskap.

“Hierdie stukkie aarde behoort aan ons as die gemeenskap en moet bewaar word. Hierdie plek is ’n hoekie waar ons kultuur voluit uitgeleef kan en moet word sonder steurnis of inmenging.”

Binne-in die tydkapsule is daar foto’s van oor die jare geplaas, asook ’n gedenkboek, ’n veldoorlewingsboek vanuit die ou weermag en ’n 1c (mossiemunt) wat deur die FAK op ’n houtsleutelhouer gemonteer is.

“Dit is alles vir ons as die FAK en direksie van Vegkop spesiale artefakte. My hart swel van opgewondenheid oor môre en die dinge wat hierdie nuwe geslag jong Afrikaners nog gaan doen en regkry.”

Die tydkapsule is bestem om oor 50 jaar in 2071 oopgemaak te word.

Tannie Quarta Pretorius, jare lange direksielid van Vegkop en vriend van Die Voortrekkers, het ook ’n toekenning van die FAK vir haar onbaatsugtige bydrae tot die bewaring en behoud van Afrikanererfenis by die geleentheid ontvang.

Die gedenksteen wat opgerig is en waaronder die tydkapsule by Vegkop op 16 Oktober 2021 begrawe is. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SomeOne ·

ek hoop dit word nie beskadig en geroof soos alles wat in suid afrika gebeur nie, niks is meer veilig nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.