Slagoffers van plaasmoorde met ‘lewende monument’ vereer

Chris van Zyl, van TLU SA spit die eerste grond in by die koraalboom wat by die Voortrekkermonument geplant is. (Foto: Verskaf)

Slagoffers van landelike geweld is Woensdag deur TLU SA, die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting vereer met die plant van ʼn “lewende monument” in die nuut opgeknapte trekroetetuin.

Twee kareebome en ʼn koraalboom is geplant met die graaf wat die eerste sooi vir die TLU SA-gebou in 1972 gespit het. Volgens Bennie van Zyl, besturende direkteur van TLU SA, is dié bome ʼn simbool van groei en hoop vir die toekoms, ongeag die veiligheidsomstandighede waaronder Suid-Afrika se boere gebuk gaan. “Ons is elke dag besig om dit te verbeter en te stabiliseer en deur aksies soos vandag bewusmaking te kweek oor dié enorme probleem,” sê van Zyl.

TLU se mees onlangse statistieke oor plaasmoorde, wat strek tot Januarie vanjaar, dui daarop dat 2 171 plaasmoorde en 6 015 aanvalle in landelike gebiede sedert 1 Januarie 1990 plaasgevind het.

Die bome is juis ook op 16 Februarie geplant om óók hulde te bring aan die 185 kinders, 56 vroue, 40 mans en 250 werkers wat tussen 16 en 17 Februarie 1838 tydens die Bloukransmoorde, wat as die grootste slagting van die Voortrekkers tydens die Groot Trek beskou word, gesterf het.

Die Voortrekkermonument het ’n bord onthul in die trekroetetuin met die name van die persone wat by dié massamoord hul lewens verloor het.

’n Bord is onthul in die trekroetetuin met die name van die persone wat by Bloukrans gesterf het. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig dat dié historiese trekroetetuin, wat besoekers al sedert 1963 betower, onlangs ʼn nuwe baadjie aangetrek het en verskeie replikas van monumente opgerig het waar veldslae tydens die Groot Trek plaasgevind het.

Die drie organisasies het  ʼn gedeelde belang in die bewaring van die geskiedenis en het daarom ook ’n ooreenkoms onderteken wat volgens ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die Voortrekkermonument, kontoere lê vir toekomstige samewerkingsgeleenthede.

“Die plant van die bome op die datum van Bloukrans, waar TLU besonders gemoeid is met die probleem van plaasmoorde, sê vir ons ons is geanker in hierdie bodem en dit simboliseer groei en die bou van ’n toekoms ondanks aanslagte teen ons. Daarom is dit treffend dat die boom in die trekroetetuin juis by Bloukrans staan,” sê Aucamp.

Volgens Van Zyl het genl.maj. Chris van Zyl, wat na 20 jaar in diens van TLU SA binnekort aftree, se bywoning die geleentheid nog meer besonders gemaak. “Die idee van ʼn lewende monument het van Chris gekom en daarom is dit so ongelooflik spesiaal om hom ook hier te hê vandag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grond ·

Wat doen die “groot” AgriSA of is hierdie soort sake te nietig vir hulle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.