Slegs drie pote, maar niks stuit dié optelhond

Leo (Foto: Verskaf)

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) is hoopvol oor hul geliefde Leo nadat hy onlangs met terapie begin het om die toekoms op slegs drie pote aan te pak.

Leo is sowat twee maande gelede deur die DBV se Waltloo-tak in Pretoria ingeneem nadat hy verwaarloos in die Erasmia-woongebied in Pretoria aangetref is. Een van sy agterpote was ernstig beseer en was met ’n enkele stuk vel aan die res van sy lyf vas. Elsa Daniels, woordvoerder van die DBV Tshwane, vermoed hy is deur ’n ander hond aangeval.

“’n Lid van die publiek, Leon Fourie, was laat die middag op pad na sy woonstel toe hy Leo in die straat opgemerk het. Hy het op drie pote rondgespring en ’n deel van sy agterpoot agterna gesleep,” vertel Daniels.

Fourie het egter met ’n motorfiets gery en kon nie vir Leo saamneem nie. Hy het dadelik begin rondbel en planne beraam om dié driepotige te red, sê Daniels. Leo is ná ’n lang reddingspoging na die DBV se Waltloo-tak geneem waar hy dadelik mediese hulp ontvang het.

Leo by Heather Whitfield tydens ‘n terapiesessie. (Foto: Verskaf)

Leo is vernoem na Fourie, die man wat so vasbeslote was om dié hond te red.

Dr. Marianna Berg, ’n veearts by die Waltloo-tak, het besluit om eerder Leo se agterpoot te amputeer aangesien dit erg beseer was. “Die operasie was ’n sukses en Leo kon ’n dag later reeds op drie pote loop,” vertel Daniels.

Heather Whitfield, eienaar van Paws-itive Paws-abilities-terapiesentrum vir diere in Centurion, het gratis terapie vir Leo aangebied. Leo het reeds in November met sy rehabilitasieprogram begin waar hy elke dag ’n kort entjie gaan stap om sy pote te versterk. Die terapie help hom ook om sy balans en koördinasie te verbeter.

Leo en dr. Floris Kruger en dr. Marianna Bergh, die veeartse by die DBV se Waltloo-tak (Foto: Verskaf)

“Leo is die dierbaarste, saggeaardste hond wat ek al ooit teëgekom het. Dit is ongelooflik hoe vinnig hy aangepas het om slegs drie pote te kan gebruik. Ek glo vas hy sal binne die volgende maand heeltemal gemaklik kan loop,” sê Whitfield.

Whitfield vertel sy het al talle opteldiere gratis met terapie gehelp. “Ek glo daaraan om te help waar jy kan en iets terug te gee in die lewe. Dit kom altyd dubbel en dwars terug na jou.”

Vir Whitfield is dit baie bevredigend om te sien hoe Leo se toestand die afgelope maand verbeter het. Sy glo hy sal volgende week al gereed wees vir aanneming.

Leo sterk by die dag aan en sy operasiewond het byna volkome genees. Die publiek kan vir Leo besoek by die DBV se Waltloo-tak in Pretoria.

Vir meer inligting oor Leo en hoe jy ’n bydra vir die DBV kan maak, besoek gerus hulle Facebook-blad of stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gert ·

Die Here seën elkeen wat hom/haar ontferm oor diere. Dit is elke mens se plig om dit te doe.

emily ·

Dankie aan almal wat die Leo gehelp het, Ek wonder net waar is die eienaars.
Sommige mense moet Glad nie diere he nie. Ek lees gereeld op FB hoe diere verlore raak ens. Kersfees kom, Hoeveel idiote gaan hulle diere net so los om bietjie te gaan vakansie hou.
Sies man, ek skaam my vir sommige diere eienaars.
Jammer ek bly in n woonstelblok, anders het ek hom gevat.
Sterkte ou Leo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.