Slegs spesiale kelners vir dié restaurant

Die kelners skep die borde op om te bedien. Foto: www.browniesanddownies.co.co.za

Die kelners skep die borde op om te bedien. Foto: www.browniesanddownies.co.za

ʼn Restaurant en koffiewinkel in Kaapstad lok wyd positiewe reaksie uit slegs ʼn week ná hy sy deure oopgemaak het. Dié restaurant, met verskeie personeellede met Downsindroom, probeer om die personeel op te hef deur onderrig te bied in die restaurant- en gasvryheidsbedryf.

Brownies and Downies, die restaurant in Langstraat, Kaapstad, se deure is slegs ʼn rapsie langer as ʼn week oop, maar dié restaurant het reeds baie aandag onder Kapenaars en die media geniet.

Wade Schultz, mede-eienaar en bestuurder van Brownies and Downies, sê die doel van dié restaurant is om mense met Downsindroom op te hef en onderrig te bied. “Ons personeel kry nie gewoonlik dieselfde geleenthede as mense wat dit nie het nie. Hier lei ons hulle op as baristas, kombuispersoneel en kelners. Ons bied ook vir hulle ʼn veilige omgewing waar hulle kan leer,” het Schultz gesê.

Die restaurant probeer ook om die publiek in te lig oor Downsindroom. “Ons wil die publiek inlig oor mense met spesiale behoeftes. Mense sal sien dat hulle dalk net anders vir hulle moet verduidelik as vir ander mense, maar dat hulle in staat is om presies dieselfde te doen en te vermag.”

Brownies and Downies, wat oorspronklik in Nederland begin het, het ook al vordering gesien in van sy personeellede. “Dit is slegs ʼn week en ons kan klaar sien hoe die personeel se interaksie met mense verbeter. Hul werk is van topgehalte en die sukses van die restaurant tot dusver spreek boekdele.”

Schultz sê mense heg egter te vinnig ʼn negatiewe konnotasie aan die naam van die restaurant. “Ons het oor die algemeen slegs positiewe reaksie gehad. Daar is natuurlik mense wat sê die naam is verkleinerend. Brownies and Downies is gekies deur die ouers van Downsindroom-kinders in Nederland. Ons lei hulle op en bied ʼn veilige omgewing.”

Die doel met die opleiding is om die Downsindroom-lyers gereed te maak vir ʼn loopbaan in die restaurant- of gasvryheidsbedryf. “Die plan is om ons personeel vir ʼn jaar op te lei. ʼn Onafhanklike maatskappy sal hulle dan plaas by ʼn onderneming waar hulle kan blom, sodat ons weer ander mense kan oplei.”

Die restaurant funksioneer as deel van die nie-winsgewende organisasie Our Second Home. Besoek ook Brownies and Downies se webwerf of Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Amanda ·

Dit is die mooiste berig wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Die trane wil sommer loop. Dit is fantasties dat ‘n werkgewer bereid is om so ‘n kans te bied aan mense vir wie deure meermale maar toe bly. Julle is tops en wanneer ek eendag weer in die Kaap kom, is dit my eerste stop!

Fransie ·

Wade en partner – ek is verstom oor wat ek hier lees oor julle restaurant. Julle sal mildelik geseen word en wanneer ek weer in die Kaap kom MOET ek jul kom ondersteun. Wel gedaan.

Japie Mostert ·

Ek is self die trotse ouer van n DS dogtertjie. Sy is n absolute vreugde. Ek kan verstaan baie mense, oningeligtes let wel, sal n probleem he met die naam, Ek self dink dit is briljant. Dit is n great verwysing na sulke kinders, en ek verkies dit voor iemand my kind as n IDIOOT of BREINDOOD, of GESTREMD uitskel. Knap gedaan julle

Johannatjie ·

Dis soooo lekker om in die tyd van voortdurende slegte nuus so iets positiefs te lees! Voorspoed met die mooi projek!

Eliza-beth ·

Wonderlik, wonderlik, WONDERLIK! Ek het nie genoeg byvoeglike naamwoorde om hierdie restaurant mee toe te juig nie. Ek wens ek het in die Kaap gebly en sou jul sommer daagliks ondersteun – klink of daar lekker brownies kan wees en wie het nie ELKE dag ‘n Brownie nodig nie? Steur jul nie aan die ewige negatiewes mbt jul naam; hou dit so, daar is NIKS verkeerd daarmee om ‘n “downie” te wees nie – laat die naam TROTS vertoon word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.