Snelweg-held kry groot beloning

Kat Stott (Foto: Facebook)

ʼn Vrou wie se motor verlede Saterdag in die middel van die N1-snelweg onklaar geraak het, het haar dankbaarheid uitgespreek oor haar “beskermengel”, Godfrey Makhubela, wat haar in haar kwesbaarste oomblik gehelp het.

Godfrey het later R20 000 as beloning vir sy goeie daad gekry.

Kat Stott het in ʼn plasing op Facebook geskryf dat sy saam met haar dogter op pad was na ʼn troue toe haar motor meteens in die middel van die snelweg onklaar geraak het.

“Jy kan nie die malligheid glo wanneer jy tot stilstand kom op die snelweg waar verkeer teen 120 km/h vloei nie. Wanneer jy bestuur, is jy deel van die vloei, so jy voel nie die spoed nie. Maar wanneer jy stop, besef jy skielik hoe kwesbaar jy is.

“Dit was angswekkend om in my truspieëltjie te kyk en ʼn 16-wiel-vragmotor te sien wat op my motor afpyl net om blitsvinnig uit te swaai en my net-net te mis. Mense het hul toeters vir my geblaas, geskree en ligte geflikker asof ek regtig sal besluit om in die middelbaan van die N1 stil te hou!” het sy geskryf.

Godfrey Makhubela het vir Stott en haar dogter gehelp toe haar kar op die snelweg onklaar geraak het. (Foto: Facebook)

Stott het gesê sy weet nie hoekom haar motor onklaar geraak het nie en al wat sy kon doen, was om die waarskuwingsligte aan te sit en die handrem op te trek.

Sy het haar versekeringsmaatskappy gebel en vertel van haar situasie. Hulle het vir Stott gesê hulle is op pad, maar dat sy niks anders kan doen as om net te wag nie.

“Die volgende oomblik kyk ek weer in my truspieëltjie en sien ʼn insleepvoertuig agter my geparkeer. My eerste reaksie is: ‘Nee, ek gaan nie nou hierdie ou betaal nie, en my versekeringsmaatskappy is op pad.’

“Maar die man het net vir my gesê: ‘Ek wil nie jou geld hê nie, ek wil niks van jou af hê nie. Al wat ek wil hê, is dat julle veilig is. Iemand gaan julle raakry hier, julle is nie veilig hier nie.’”

Stott het in trane uitgebars oor Makhubela wat hom so oor hulle ontferm het. Makhubela het weerkaatsende klere aangehad, en het begin om bakens in die pad te plaas en die verkeer weg van Stott se motor af te stuur. Hy het Stott se dogter aan die hand geneem en haar veilig in sy voertuig laat sit. Hy het sy voertuig voor Stott se motor ingetrek en haar motor opgelaai. Hy het daarna vir Stott ook na die veiligheid van sy voertuig vergesel.

“Hy het ʼn paar honderd meter verder gery na ʼn groot oop terrein waar ons kon parkeer. Hy het die motor van die voertuig af gelaai en weer na my gekom. ‘Ek wou jou nie bang maak of seermaak nie. Al wat ek wou doen, is seker maak julle is veilig’, was sy woorde.”

Makhubela het toe in sy voertuig gesit en wag tot Stott se versekeringsmaatskappy opgedaag het. Hy het eers gery toe hy sien hulle is veilig.

“Net so vinnig soos wat hy opgedaag het, was hy weer weg, maar ek sal nooit sy goedheid vergeet nie. Ek is steeds oorweldig deur sy deernis, rein liefde en lig. Ek glo regtig hy het my en my dogter gered daardie dag. Hy is ʼn onbaatsugtige, goedhartige mens wat ek as niks anders as ʼn beskermengel kan klassifiseer nie,” het sy geskryf.

Godfrey Makhubela het vir Stott en haar dogter gehelp toe haar kar op die snelweg onklaar geraak het. (Foto: Facebook)

Stott se Facebook-plasing is meer as 6 700 keer gedeel en meer as 2 400 mense het al kommentaar gelewer.

“Dit is mense soos Godfrey wat ons hoop gee dat hierdie plek steeds beter kan wees. God seën jou,” skryf een kommentator. “Welgedaan, jongman! Jy is ʼn regte-lewe-superheld,” skryf ʼn ander.

Stott het ná afloop van haar plasing op Facebook ʼn skarefinansieringplatform gebruik om geld in te samel vir Godfrey “sodat hy vir hom ʼn selfoon kan koop om almal se mooi kommentare op Facebook te lees”.

Mense het saamgespan en R20 000 vir Makhubela bymekaargemaak om vir hom ʼn “Kersgeskenk” te gee as ʼn dankie vir sy goeie daad.

“As jy deur hierdie storie geraak is, moedig ons jou aan om aan te hou om goeie dade vir ander mense te doen,” het Stott geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

61 Kommentare

Bevraagteken ·

Is haar van nou Scott of Stott?? Wie proeflees berigte??

Stefaans ·

Ek gaan nie toelaat dat ‘n vingerfout ‘n goeie storie vir my bederf nie.

Tania Heyns ·

Dagsê Bevraagteken

Dankie vir jou boodskap. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

At Dippenaar ·

Het jy enige idee hoe dol dit gaan in ‘n nuuskantoor. Vingerfoute is so maklik. Waarvoor Maroela vir ‘n andersins trefferstorie kruisig? Nee man.

Stella ·

Wat ‘n pragtige storie! Dit helder sommer my dag op – vingerfout of te not….

Sanet ·

Ag. Kry ek nou sommer ‘n knop in my keel. So lekker om so storie te lees. Gee mens daardie sprankie hoop dat daar net dalk ‘n toekoms vir ons kinders in hulle geboorteland kan wees. Alle goeie dinge kom die man toe, want ek kan net dink hoe angswekkend dit in die middel van daardie snelweg was.

TP ·

@Sanet, ek sluk ook maar swaar. So ‘n mooi storie. En dankie Kat dat jy dit gedeel het

Heinrich ·

Dankie vir die lekker-kry storie, hulle is min maar daar is nog steeds goeie mense daar buite!

CS ·

Goeie storie die. Glo my, daar is baie Godfrey’s daar buite, ons sien hul net nie raak nie. Met hulle kan ons die land ‘n beter plek maak. Hou so aan Godfrey en die ander wat ons nie van hoor nie.

fg ·

Wat `n pragtige mens. Jy maak ons harte warm, Baie Dankie Godfrey. Mag ons Vader jou mildelik seen.

Sandy ·

Van alles wat jy gelees het, kon jy net die verkeerde van raaksien, regtig nou???

Die ou is ‘n ware held wat net die vrouens wou help. Het met my ook al gebeur dat my motor onklaar geraak het. Dis scary.

Godfrey Makhubela se ma het hom reg grootgemaak en hy verdien elke pennie van daardie R20 000.

Well done Godfrey, we need more positive people like you.

SjN ·

Dankie Godfrey, as almal se gesingheid maar soos joune was, geniet jou kersgeskenk.

Pandora ·

Nee regtig!!! Dit is een van die meer positiewe berigte en mense kerm oor die spelling van ‘n van.

wonder ·

Stem saam. Mense is meer geplae oor die spelling as die goeiedaad, geen wonder ons land sal nooit reg kom nie. Wel gedaan jong man.

Hendrika ·

Dit noem mens naaste liefde meer van hierdie soort liefde in Suid-Afrika sal ‘n hele omkeer hê waar elkeen vir mekaar omgee. Goeie nuus vir ‘n slag. Laat hierdie ‘n pragtige voorbeeld vir almal wees.

andre ·

Watter verskil maak dit of dit Scott of Stott? Julle ken haar in elk geval nie. Pleks daarvan dat julle saam met haar bly is dat sy veilig is en dat Godfrey so n pligsgetroue persoon is, kerm julle oor haar van….

Ronel ·

Wat maak dit saak of haar van Scott of Stott is, jy mis die hele punt van die mooi storie Stotter!

waarheid ·

Dankie vir die mooi berrig!
Dit doen iets vir ‘n mens.

Nita ·

My motor het in die winter, toe dit reeds donker was, in spits verkeer gaan staan. My motor was sywaarts gedraai en moeilik sigbaar. Skielik het n taxi langs ons gestop en twee wonderlike, hulpvaardige mans het die motor vir ons vinnig uit die pad gestoot. Ek is hulle ewig dankbaar.

#held ·

ek kry sommer hoendervleis om te dink daar is nog mense met goeie harte!!! jys ‘n HELD Godfrey en jou voorbeeld spreek BAIE hard!!! mag jy geseën word op jou pad voorentoe.

Staak saam ·

Hierdie storie kon maklik tragies anders gewees het.
Dit is net menslik om iemand in nood te help, hierdie weldoener ken die gevaar waarin hulle was maar dan moet ons ook net se dat dit is waarvoor hy opgelei is, hy weet hoe om in verkeer sy werk te doen.
Vir my is hierdie nie n heldedaad nie maar beslis n vooitjie werd.
Ek wonder nou net, as hy blank was sou hy ook R20 000 werd gewees het.

SA publiek delf nou al so diep om te bewys dat SA min ras kwessies ervaar maar rassisme is lewendig in hierdie land.

Hierdie weldoener het goed gedoen en staan as voorbeeld vir baie mense.

Hannes ·

Daar is nog goeie mense in SA gee sy no ons dit kan stoor as iets met ons gebeur hy sal help of raad gee welgedaan baie dankie vir voorbeeld gestel vir ieder en elk

Pretoria Man ·

Dankie vir plasing van goeie nuus berig. En dankie mnr Makhubela vir jou goeie daad.

GM ·

Mag die man uit sy sokkies uit geseën word!
Die insameling is ‘n wonderlike idee, maar in vandag se tyd moet mens maar liewer nie bekendmaak hoeveel note mens aan iemand gee nie, veral nie as daar ‘n foto van die man geplaas word nie? Sommige familielede en verlore ‘vriende’ het ‘n manier om geld te ruik.

Wondernet ·

Ek wil asb nie gekruisig word nie, maar sy glimbaadjie en trok sê SANRAL as ek reg lees, wat beteken dat hy deel van die N1 reaksie span is, i.e. dit was net sy normale werk wat hy gedoen het? So dis amper dieselfde as om n polisieman te prys omdat hy jou gehelp het toe iemand jou wil roof… Nogsteeds n goeie storie, al is hy nou nie so groot held soos wat uitgemaak word nie.

Pers Heks ·

Waar op die trok staan daar SANRAL? Volgens my kennis word die baadjies deur SANRAL uitgegee sodat die wegsleepdienste meer opsigtelik is!!!

Nadine ·

Ek het die berig op ‘n ander nuusplatform ook gelees en daarin het hulle genoem dat hy van diens af was.

SoosDitIs ·

Hoe swel my hart nou hier in my keel in. Daar is nog goeie mense daar buite, bittermin maar daar is.

Pers Heks ·

Ai tog Bevraagteken … en toe tel jy nie ook die 3 e’s in “verkeeer”op nie!!

Carine ·

Ai mense so goeie storie Vergeet van spelfoute. Daar sal altyd iemand wees om fout te soek. Godfrey daar is soveel wat by jou kan leer?

Maria ·

WENS en almal is so ….baie dankie…baie mooi….mag Here jou seen

At Dippenaar ·

Oplaas goeie nuus. Daar is nog samaritane daarbuite. Knap gedaan Godfrey.

Marlize ·

Min mense is so gaaf en bedagsaam. Welgedaan aan die man, daar is nog goeie opregte mense daar buite.

Paja ·

Dankie Kat vir die plasing en Godfrey vir jou kosbare hulp..maak my opgewonde om sulke nuus te lees…dankie Media

Piet Pompies ·

Uitstekend….. goeie werk se beloning is groot, baie groot.

Tokkolos ·

Godfrey
Jy laat die ou Tannie se hart warm klop
Met jou soort is daar hoop
Maar ai jul is min gesaai
Dankie dat jy die dame en haar kind se veiligheid eerste gestel het
En mag jy n voorbeeld vir almal wees?

Lydia ·

Dis dalk die geval van “dis nie wat jy doen nie, dis hoe jy dit doen!”. Die feit dat hy gesê het hy soek nie geld nie en dat hy besorg was oor hul veligheid moes klaar vir jou sê dat sy instink het haar vrees reeds opgetel. Was jy al in ‘n situasie wat jyself so onseker en verskrik was? Die oomblik wat iemand jou te hulp snel maak mens skoon paniekerig tot jy eindelik tot verhaal kan kom. Welgedaan Godfrey. Dankie dat jy die 1ste en ook moontlik die enigste kar was wat gestop het om te help.

Marie Visser ·

Dis waar wat God in sy Woord sê: Ek sal my engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë… ‘n Jong man uit die hart van God. Dankie Godfrey – God seën jou!

Hendrik ·

Ek dink dis die moeite werd om te noem dat dit n diens is wat SANRAL verskaf op die paaie. Die SANRAL logo is duidelik op die foto. Almal is vinnig om te kritiseer, maar die goeie word nooit genoem nie

Hannah ·

Dankie Mr. Makhubela asook ander Suid Afrikaners van alle rasse wat nooit vermeld word nie. Sulke goeie nuus berigte behoort ‘n voorblad koerantuitleg te kry. Ons hoor te min van goeie samewerkende gebeurtenisse.

Carin ·

Ja dankie aan SANRAL vir die gratis diens op die tolpad lewer.

Alma ·

Welgedaan mense soos die wat my hart warm laat klop.Bly hy word vir sy onbaatsugtige daad beloon.

Petro ·

Gee daai man ‘n Bell’s. Hier in die buiteland waar ek sit en ons land verteenwoordig is dit ‘n riem onder die hart om die storie te lees. Ja, wat as hy vir Sanral werk, hy kon net so wel na die anderkant gekyk het en nie gaan help het nie. Baie dankbaar die storie is verspry, so ‘n mens kan sien daar is hoop vir Suid Afrika. Geseende dag vir almal.

Pieter ·

Party mense is mos net gelukkig as hulle kan kla, fout soek en kritiseer. Kannie genoeg kla nie!!
Godfrey, well done mate – SA needs more people like you. You are a true inspiration to all.

Koos ·

Goed gedink Godfrey , kan net nie die beloning verstaan nie , Hy het net sy werk gedoen !

Sons ·

Wat n mooi storie. Daar is nog goeie mense daar buite. Mooi so Godfrey, mag die Here jou seen.

Carlien ·

As meer mense sy gesindheid het sal ons land weer oorloop van goedheid en guns, ons het dit so nodig!! Hou tog op kla oor mense se spelling, dit gaan oor die die daad hier en deesdae is goeie dade en menslikheid teenoor mekaar maar dun gesaai.. Kom ons begin by ons self en maak n verskil in mekaar se lewens ongeag ons vel se kleur.. Kom ons leer ons kinders dat dit goed is om vir mekaar omtegee. Vriendlikheid, geduld en bedagsaamheid kos niks, dis n keuse wat jy uit jou hart uit maak..

Griet ·

Sulke stories gee my hoop vir Suid Afrika. Is daar ‘n manier waarop ons van AL die politici kan ontslae raak, want ons, die gewone burgers, onder mekaar, gaan baie beter oor die weg kom met mekaar en saamwerk sonder die politici se opsweping oor die verskille tussen ons. Iemand al agter gekom, al wat politici doen is konsentreer op die verskille tussen ons, en nie op die goed wat ons SAAMBIND nie…. ??

Retha Roux ·

Ek het ook nou trane in die oë. Dankie Godfrey, in hierdie deurmekaar wêreld waar ons met vrees en paniek begroet word elke dag, is jy voorwaar’n engel gestuur van Bo.

Gesiggie ·

Godfrey… jy is een uit n miljoen…. daar is min van jou soort, baie dankie vir jou goedhartigheid teenoor die mense, en ook aan Cat Stott… jy het jou waardering op n baie mooi manier bewys”’ ons het meer sulke mense in die land nodig…. Well Done…

WILLIE ·

Sulke optrede spreek boekdele – wel gedaan.
Kan Maroelanuus nie eenkeer ‘n week ‘n “mooi storie” insetsel plaas nie. Daar gebeur baie mooi dinge in RSA maar dit verkoop nie die koerante nie – dus weet ons nie daarvan nie. Gee vir ons moed vir ons land en sy mense!!. Dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.