Só gaan dit met ‘kieskeurige bedelaar’ wat trouvrou soek

Ammiël Smith is hard op soek na sy trouvrou

Dié “bedelaar” het in 2015 die verkeer in die Rosestad byna tot stilstand gedwing. Die “kieskeurige” Ammiël Smith (26), soos hy in die media bekend gestaan het, het met sy kartonbordjie by ʼn verkeerslig gaan staan met ʼn enkele doel: Hy soek ʼn trouvrou.

Hy het destyds aan Maroela Media gesê hy soek egter nie sommer enige trouvrou nie. Sy moet ʼn “plain Jane” wees wat spontaan is; een met ʼn sin vir humor én ʼn atletiese liggaamsbou. Gewig is vir hom boonop ook ʼn gewigtige saak, sy moet mooi na haarself kyk.

Sy kartonbordjie het immers gelees: “Op soek na my trouvrou. (Geen ou tannies of kansvatters).”

Smith het onlangs aan Maroela Media vertel daar wás ʼn klomp vroue wat hom gekontak het, en hy het selfs ʼn kortstondige verhouding met een van dié vroue “wat bó die ander uitgestaan het” aangeknoop. Maar dié verhouding het helaas nié gehou nie, en intussen het hy geleer die meeste mense is nie so gelukkig om hul trouvrou sommer so in die verkeer te ontmoet nie.

“Daar was baie vroue wat my ná die tyd gekontak het, en een van die meisies het uitgestaan. Ons verhouding het egter nie uitgewerk nie. Ek het ná ons verhouding verbrokkel het gaan vrywilligerswerk doen by ʼn kinderhuis in Indië en daar ook ʼn wonderlike meisie ontmoet, maar ons verhouding het ook nie uitgewerk nie. Intussen het ek besef liefde werk dalk nié soos ek dink dit doen nie; ek moes introspeksie doen,” vertel hy.

Smith, ʼn laerskoolonderwyser wat intussen van Bloemfontein na Vryburg in Noordwes verhuis het, sê hy het sedert 2015 baie meer oor die lewe geleer.

“Ek was teleurgesteld dat baie mense nie meer die mooi in enigiets kan raaksien nie. Sommige mense het my gekritiseer en dit is jammer. Maar ek het wél waardevolle lesse geleer: Die tannies het gesê ek moenie op die straat staan en soek na ʼn meisie nie, ek moet op my knieë gaan en bid. So dis presies wat ek doen, ek bid vir ʼn meisie. Ek hoop egter my gebede word vinnig verhoor, ek word darem ook nie jonger nie,” terg hy.

Hy sê hy het intussen ook besef dat liefde “op die regte tyd” sal kom. “Dinge sal op die regte tyd en op die regte plek gebeur. En ek weet daar is nog baie wat ek moet leer; ek moet werk aan myself ook omdat ek alles vir ʼn vrou sal wil gee,” sê hy.

Is hy steeds “kieskeurig”? “Ek hou steeds van ʼn meisie wat mooi na haarself kyk,” sê hy. “Dit is bloot waarvan ek hou.”

Smith is te sien in VIA se WMJ-projek wat gereeld humoristiese video’s op sosiale media deel. Kyk na dié video’s op VIA se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

nie-jou-trou-vrou ·

“Ek was teleurgesteld dat baie mense nie meer die mooi in enigiets kan raaksien nie.”
– net so was van die “groter”dames dalk teleurgesteld dat hy teen die syfers op die skaal vas kyk. Hy sien ook duidelik nie die mooi raak nie. want die MOOI van ‘n vrou is haar HART nie haar gesiggie of lyfie of die syfers op die skaal nie.

madam fiefie ·

nie-jou-trou-vrou so bek kort jam ek stem saam met jou dalk wil die HERE vir hom n trou vrou gee maar hy wil dit nie raak sien nie want hy kyk eerste na die nommers op n skaaL en nog n ding wat my briesend maak is dat ander mense mollige mense oordeel en aanneem omdat hul vet is hul is slordig ek kan n paar meisies uitwys wat vet is maar beter lyk as van die maer meisies en sommige mense eet hul so ander het nie dalk n probleem wat nie verander kan word nie. JUST SAYING die man is nie GOD om te oordeel nie asook ek ook nie dis maar net my opinie

Vermeende ·

Alles in die lewe gaan oor keuses en selfs jou gewig met die uitsondering matuurlik, ek hoop die jong man kry waarna hy soek.

humor ·

Neewat ek hou baie van die man. Enige man sal hou van n vrou met selfrespek en wat omsien na haar skoonheid. Vroulikheid is sekerlik die mooiste, skoonste iets op aarde en moet deur ons manne sowel as ons vroue gerespekteer word. Daar is geen probleem met ons mollige dames nie solank vroulikheid net seevier.

Bee ·

Ek dink hys pragtig! En dis sy keuse om nie n vetvrou te vat nie; ek stem saam met hom, Mnr Smith hou by jou standaarde!! Ek self het n sekere standaard in mans selfs. Ek bly eerder alleen as om my standaarde te verander of te laat val. Jou droomvrou sal kom! En jy sal beter op die stel van 7eLaan lyk as die wat nou daar is! Jys beslis filmstêr materiaal!

m ·

My standaarde ook baie hoog wat mens betref. Sterkte seun hoop jy kry waarna jy soek. Goeie mense is baie skaars.

B-man ·

Ek dink hy het homself in die voet geskiet deur tannies uit te sluit. Hulle kon hom beslis ‘n ding of twee gewys en geleer het. Hy hoef mos nie met een te trou nie… My pa het altyd gesê dat dit ‘n sonde is om vir ‘n gewillige vrou ‘nee’ te sê.

Kom Ons Boks ·

Jy klink self soos ‘n wyse man. Ek onthou ook my Pa wat iets genoem het rondom sneeu op die berg, vuur in die kaggel…

Too high ·

Toemaar skat hierdie ‘ ou tannie’ het baie beter gedoen as jy, en ons het BAIE hoër standaarde as die bietjie wat jy kan gee. Jy is darem vrek desperaat as jy met ‘n karton met ‘n geskrabbel op ‘n vrou moet soek .. jy moet bly wees as ‘n ou tannie in jou belangstel~

Karma ·

@Kom Ons Boks en B-man – julle is nou sowaar as die heilige vet weet nét wat dié ou dik tannie nodig het op ‘n Woensdag wat blouer-as-‘n blouwille-Maandag is. Lekker gelag vir julle twee se opmerkings.

Ag nee wat, dié ou bogsnuitertjie moet maar elders vir hom loop vrou soek. Boeta, nog nooit gehoor van “skoonheid vergaan, maar deug bly staan” nie? Soos die seuntjie vir sy Pa op ‘n troue gevra het: “Pappa, hoekom kyk almal so vir die bruid?”, waarop Pappa sê: “Dit is omdat sy die bruid is en alle bruide mooi en jonk is”. Seuntjie antwoord toe: “Maar Pappa, waar kom al die ou lelike, vet tannies dan vandaan?”.

Lief ·

Liefde kom vir meeste mense nie net spontaan nie, hy het die regte ding gedoen om aktief te soek. Soek en jy sal vind.

OuTannie ·

Ai boet, al was jy die laaste man in die wêreld sou die “ou tannie” maar verby gehou het.

amvi ·

Wel op 26 is hy ook al vir baie kinders ‘n OOM. Haha kort voor lank sal hy ‘n vrou se soeke na trouman lees wat se “geen ou oompies nie”. Dan sal hy waarskynlik nog ongetroud wees.

Marcel ·

Soos wat dit vir my klink is hy die probleem en nie noodwendig die dames nie.

christa ·

Hou aan met soek, jy sal haar kry. Moenie jou standaarde verlaag nie. Al is ‘n vrou vet, kan sy klere dra wat by haar figuur pas en iets doen van haar kant af om maerder te word. Dis gewoonlik die getroudes wat hulself so verwaarloos en dan huil as arme man oor die draad loer.

Eish ·

Née ou seun, met die gegriffelde kartonnetjie van jou klassifiseer jy jouself as n bedelaar. Die Engelse sê :” Beggars can’t be choosers.” Onse taal sê: ” Moenie n gegewe perd in die bek kyk nie.”
Née wat jong, die Oom wens jou toe n lekker mollige stukkie Afrikanermeisie toe, sonder fieterjasies wie se koppie reg aangeskroef is.

Vet Meisie van die platteland ·

ai oom, so wens ek hom ook toe, een wat kan koeksisters bak en lekker malva poedings.

humor ·

Ek glo elke dame begeer ook en dit is deel van die wese van die vrou om saam met die skone vroulikheid so n ietsie verleidelikheid uit te straal. Dit mag net nooit oordryf en aangeplak wees nie dan raak dit goedkoop en selfs walglik. Wat is dan fout as die jongeman dit as stadaard stel. Miskien is dit die slonskouse wat so suur klink.

Marts ·

Boetie, jy sal haar kry, maar onthou jy sê nooit nee vir n pensioenaris nie, hoor. Jou waardes en ‘guts’ is oulik…

Wian ·

“… ek word darem ook nie jonger nie.” Nee gits boeta, jy’s nog ‘n baba op 26. Nog BAIE tyd om vrou te vat. Verbaas my altyd hoe haastig sommige jongmense vandag is om te wil staan trou haha. Ek self is op 37 nog enkellopend, maar glo die regte een sal my pad kruis in goeie tyd. Intussen werk ek aan myself en groei as mens. Hou moed.

Johann ·

Oulik, boeta. Jy het almal aan die praat gekry en mense weer laat lag ook. Jy mag sê waarvan jy hou, maak nie saak wat ander mense daarvan dink nie. Of jy gaan kry daarvan jy hou, is natuurlik ‘n ander saak. My enigste raad is om te onthou dat die mens wik, maar God beskik. So, moenie jouself blind staar teen jou ideale beeld van ‘n vrou nie, maak eerder jou opsies oop deur wakker te wees vir die regte vrou wat vir jou gestuur sal word.

Koeksuster ·

Klink vir my jy soek eerder ‘n skouperd as ‘n vrou. Maar kyk ek neem jou nie kwalik nie want een van die 2 moet mooi wees en breins hê in ‘n verhouding en klink my nie dis jy nie! Ek wonder altyd of dink mense dat Vetmense ‘n botteltjie skaapvet in die yskas hou om aan te peusel? Ek ken vetmense wat beeldskoon, vroulik en goed versorg is en boonop nog ‘n goeie persoonlikheid het. Soos die gesegde gaan… jy kan maer word maar jy kan nie ‘n beter persoonlikheid kweek nie. Sterkte jongman vir jou perfekte idee van ‘n trouvrou…maar onthou op die einde kom alles tot niks.

Liamari ·

Ek het in my lewe baie van hierdie tipe outjies raakgeloop. Daar is niks fout om voorkeure en standaarde te he nie, dit is immers belangrik om aangetrokke tot jou maat te voel. Die probleem egter met hierdie tipe ouens is dat hulle so veroordelend is teenoor alle meisies is wat nie in sy boksie pas nie. Hy sal tien teen een nooit eers vriendskappe aankoop of eens gesels met meisies wat nie in daai boksie pas nie. Hierdie veroordelende houding skrik almal af, selfs die meisie wat wel mooi en maer en oulik genoeg is. Want diep binne het hierdie “perfekte” meisie ook die vrees vir die dag dat sy dalk gewig optel met ‘n swangerskap of iets dergeliks en dat hierdie outjie haar dan gaan verstoot…

E.K. - ek sê net! ·

Dis een ding om uitsoekerig te wees maar as twee verhoudings alreeds nie uitgewerk het is dit reg dat jy introspeksie doen – dalk lê die fout nader aan die huis

humor ·

“Baievan hiedie tipe outjies raak geloop.” Dus het jy ook baie op jou kerfstok. Hoekom??

Kariené ·

Jammer om te sê maar my en my dogter se lys vir ‘n “goeie” ordentlike boerseun, vind jy ook nie meer in ons land nie. ‘n Ordentlike Godvresende jong man met integriteit, volkstrots wat nog boonop vir ‘n vrou kan sorg en oor ‘n gesonde IK beskik, kan mens ook al op jou maag skryf.

vlak in die pan ·

Kyk ek lees die jong man se artikel so en hoe meer ek lees hoe minder stel ek belang in hom. Jy praat van standaarde, maar in dieselfde asem praat jy van die mooi in die lewe. Nou seun kom ek se so vir jou, maer maak nie mooi nie, mooi maak nie slim nie, sportief maak nie spontaan nie. Jou lysie is opgestel deur opervlakkige attributes en dit is waar jou grootste fout le. Jy kan hoe mooi wees, maar jou hart pomp kwaad. Ek sien dit self elke dag, die mooiste maerste meisie met n hart van vrot. soek liewers iemand wat slim is, wat jou emosinele groei kan bevorder.

Tammy ·

Die jongman is pragtig en slim ook!!! Hy weet wat hy in die lewe wil he. Hy het standaarde! Hy is n absolute bonus. Los hom uit hy mag kies wat hy wil he. Wie wil n dik vrou he wat onversorg lyk al dra sy wat? Die meeste dames word al hoe dikker soos die jare aanstap en as hulle eers n man gevang het gee hulle niks meer om hoe hulle lyk of optree nie. Ek ondersteun hom tenvolle, want hy het n sterk persoonlikheid wat na vore kom in die feit dat hy nie skaam is om te se wat hy soek nie. Tweede beste is nie goed genoeg nie!!

j ·

Die mannetjie moes die ou tannies gevra het om te help soek vir die regte vrou. Hulle sou hom ook sommer mooi reggehelp het oor hoe om dit reg te doen.

Francie ·

Terwyl jy wag, kan jy jouself nuttig aanwend in die samelewing ( soos jy reeds het) , en so al werkende nadink waarom die verhoudings nie uitwerk nie. Jy is heelwaarskynlik só ingestel op wat jy wil hê dat die meisies jou selfsugtig en arrogant vind.
Steek jou hand in eie boesem, dit sal nie die laaste keer wees wat jy sal nodig hê om te doen nie.

jackie ·

ek wil nie snaaks wees nie mense gaan my dalk aanval hoekom is dit dat mense altyd n mens wil judge oor jou lyf daar is soveel meisies wat bietjie oorgewig is maar hulle is meisies en vrouens met goue en sagte harte. en n baie goeie persoonlikheid wat van as die ou nou n girl ontmoet wat het waarna hy soek maar net omdat sy bietjie oorgewig dan gaan hy nie eers na haar rigting kry kyk nie….rerig??? moenie n mens judge net by sy cover nie kyk wat is binne .dis maar net my eie opinie

jakkie ·

ek wil nie snaaks wees nie mense gaan my dalk aanval hoekom is dit dat mense altyd n mens wil judge oor jou lyf daar is soveel meisies wat bietjie oorgewig is maar hulle is meisies en vrouens met goue en sagte harte. en n baie goeie persoonlikheid wat van as die ou nou n girl ontmoet wat het waarna hy soek maar net omdat sy bietjie oorgewig dan gaan hy nie eers na haar rigting kry kyk nie….rerig??? moenie n mens judge net by sy cover nie kyk wat is binne .dis maar net my eie opinie

Tassie ·

Vreemd genoeg, is daar net 2 kante van die kommentare. Mense wat aan die ou se lippe hang en dink hys baie oulik en ander wat dit as pot snert vind( eks vir die 2de een) maar ek dink dis baie onnodig om aan te neem dat meerderheid dames net dik en ongeskik raak na hul trou? dis nie altyd die saak, maar steeds is dit die se verskoning wat n aanhanger is van die knaap is. Jy as mens is wie jy is, of jy nou mollig is of lyk soos n riet. Solank jou man of vrou jou net opreg life het is die saak reg! – ek weet my maat het my opreg life… en hy hoef nie op straat vir my gaan soek het nie! liefde is spontaan en kom soms wanneer mens dit die minste verwag :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.