Só help 3D-drukkers Covid-19 beveg

‘n Voorbeeld van die gesigskerms wat gedruk word (Foto: 3DCommunity,co.za)

Te danke aan 3D-drukker-tegnologie kan gesigskerms gedruk word om mense wie se werk deel vorm van noodsaaklike dienste in die geveg teen Covid-19 by te staan.

Dié inisiatief is in die Tsjeggiese Republiek begin en van daar af het dit oor die hele wêreld versprei om die pandemie te help beveg.

Michael Scholtz, wat ʼn groot rol speel in Suid-Afrika se 3D-drukker-gemeenskap, sê die projek se missie is om die skakel tussen mense wat gesigskerms kan druk, en mense wat dit nodig het, so glad en vinnig moontlik te maak.

Enigiemand met die nodige kennis en wat gemaklik is met ʼn 3D-drukker kan help om aan die maskers te druk.

‘n Voorbeeld van die maskers wat gedruk word (Foto: 3DCommunity,co.za)

“Dit is ʼn liefdadigheidsprojek. Die laaste ding wat ons wil doen, is om geld te maak. Ons wil net die maskers en skerms by die mense uitkry wat dit nodig het,” sê Scholtz aan Maroela Media.

“Ons doel is om die kurwe af te plat deur die verspreiding van die koronavirus stop te sit. Hoe vinniger ons die verspreiding van die virus onder beheer kry, hoe vinniger kan ons die veiligheid van Suid-Afrikaners verseker en alles weer normaal laat verloop.”

Talle organisasies en ondernemings het al ingespring om die tekort aan maskers te help oorkom.

Die Universiteit van Pretoria (UP) se MakerSpace-sentrum is ook besig om dié 3D-gedrukte gesigskerms te druk. Lede van die privaatskoolgroep Curro het ook laat hoor dat hulle hul 3D-drukker mobiliseer om die land uit die krisis te help.

“As land is ons almal saam in hierdie ding; ons voel dit is ons plig as opvoeders van die volgende generasie om die leiding te neem en ʼn voorbeeld te stel van hoe ons kan help waar moontlik,” sê Andries Greyling, uitvoerende hoof van Curro Holdings.

Scholtz sê dié maskers en skerms is nie medies gesertifiseer nie, maar dit kan goed werk vir ander beroepslui wat in aanraking kom met baie mense, soos verkoopsassistente by winkels, aptekers, ambulanswerkers, polisiebeamptes en brandweerpersoneel.

Michael Scholtz (Foto: Skermgreep uit die video)

Die inisiatief moedig ook mense aan om self na hul plaaslike kleinhandelwinkel of polisiestasie te gaan en die skerms aan die bestuurders voor te lê.

“Die groot boodskap hier is dat as jy ʼn 3D-drukker besit, is jy slim en bevoorreg genoeg om inisiatief te neem om ander in jou gemeenskap te help. Jy kan ʼn verskil in jou gemeenskap maak net daar waar jy is,” sê hy.

Scholtz sê dit is belangrik om te weet hoe ʼn 3D-drukker werk voordat jy die gesigskerms begin druk. Alle skerms en maskers moet aan ʼn sekere standaard voldoen sodat dit voldoende beskerming bied vir die risikovlak waar dit gebruik gaan word.

Hy sê dit neem sowat een uur om ʼn gesigskerm te druk, en sowat sewe uur om ʼn masker te druk. Die gesigskerm is die algemeenste, aangesien dit minder tyd vat om te maak en dit kos tussen R30 en R40 elk om te druk.

“Mense doen dit uit hul eie sak, met filament tot hul beskikking. Ons het ʼn uiters beperkte hoeveelheid skerms en ʼn verskriklike groot aanvraag. So, ons wil help om die pad van die vervaardiger na die gebruiker so kort moontlik te maak, sodat almal veilig en gesond kan bly,” sê Scholtz.

Vir meer inligting, besoek hul Facebook-blad of webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Werner

Hou maar die jubelsange dit is net vir die opkomende boere