Só kan julle ander paartjies bedien

Foto: Brooke Cagle/Unsplash

Jy en jou maat wil ’n verskil maak aan die wêreld om julle, maar julle weet nie waar om te begin nie. Al ooit oorweeg om as ’n getroude paartjie ander getroude paartjies te bedien?

Deur Annelize Steyn

Skuif jy ongemaklik in jou stoel rond wanneer jy dít lees? “Nee, ek dink nie ek en my maat is opgewasse hiervoor nie. Ons baklei oor simpel goed en ek het nou nog nie die onderdanigheid-ding mooi onder die knie nie …”

Is dit gedagtes soos dié wat deur jou kop maal? Julle kán ’n verskil in ander paartjies se lewens maak, selfs al is jul eie huwelik nie perfek nie. As jy al ’n paar huweliksherdenkings onder die knie het, sal jy weet: ’n Suksesvolle huwelik verg wérk! Daar moet mikpunte gestel word en opofferings gemaak word. As julle dit weet, is julle waarskynlik toegerus om ander paartjies te help.

Om saam as ’n paartjie ander te dien, het voordele. Deur bedieningsgeleenthede aan te gryp, kan jul geloof as paartjie saam groei en dit kan lei tot wonderlike spirituele intimiteit.

Maar natuurlik gaan dit eindelik oor die voorreg om te kan gee – sonder om iets terug te ontvang.

Hoe doen julle dit?

  1. Skep ’n maandelikse oplossing vir ouers

Ons almal weet dat afspraakaande (date nights) ’n uitdaging is, veral vir ouers wat nie ’n ondersteuningstelsel het nie. En wanneer ons eindelik die commitment gemaak het om gereeld ’n afspraakaand te hou, kom ons voor ’n ander hekkie te staan: Wat maak ons met die kinders?

Inisieer ’n maandelikse baba-oppasserdiens vir paartjies in jou kerk. Kry ’n ongetroude gemeentelid of meer sonder kinders wat bereid sal wees om kinders een keer per maand op te pas en pretaktiwiteite soos musiek, handwerk of flieks te organiseer, sodat ouers nie nog dié kopseer hoef op te los nie. Sodra die kinders en oppassers mekaar begin ken, sal dit ook vir hulle ’n aand word om na uit te sien en die ouers het ’n paar uur waarin hulle weet dat hul kinders veilig is en hulle gehaltetyd saam kan bestee.

  1. Begin ’n mentorskapprogram

As julle kerk dit nog nie het nie, gesels met jul kerkleier daaroor om ’n mentorskapprogram te stig.

Wat dit behels, is dat paartjies met ervaring kan aanbied om ’n jonger, onervare paartjie onder die vlerk te neem en sodoende hul ervaring en kennis deel. Dit word gedoen in paartjie-verband, maar hulle kan ook afsonderlik deur julle gelei word (die jonger vrou deur die ouer vrou of die jonger man deur die ouer man). Dit hoef ook geensins bepaal te word deur lewensjare nie. ’n Jonger paartjie kan byvoorbeeld ook mentors wees vir ’n ouer paartjie wat onlangs getroud is.

As leiers van die mentorskapprogram kan julle ’n lys opstel van almal in jul kerk wat bereid is om mentors te wees en almal wat graag van mentors gebruik wil maak en Kupido speel om dié paartjies wat die beste by mekaar pas (ten opsigte van persoonlikheid, beroep of woonadres) met mekaar in kontak te bring.

  1. Skep ’n biblioteek vir getroude paartjies

Skep ’n spesifieke plek in jul kerk waar paartjies boeke, CD’s, DVD’s en allerlei ander oulike bronne kan leen om hul huwelik te versterk. Die boeke kan temas dek soos die versterking van die huwelik, om ontrouheid te oorkom, seks, kommunikasie, finansiële uitdagings en ander kwessies waarmee paartjies stoei.

Julle hoef nie self al die boeke aan te skaf nie – vra die gemeentelede om ou boeke vir dié doelwit te skenk. En is daar iemand in jul kerk wat berading hanteer? Dié persoon se besigheidskaartjie kan voorin elke boek geplaas word. Dit is ’n projek wat min administrasie verg en dit kan werk op ’n eerlikheidstelsel en ’n boek waar elke bron uitgeteken en weer ingeteken word.

  1. Hou afspraakaande by die kerk

Paartjies weet dat afspraakaande ononderhandelbaar is, maar soms breek die hoe, waar en wanneer hul spoed.

Neem hierdie kopseer weg deur een keer per kwartaal ’n afspraakaand by die kerk te hou. Dié geleentheid kan verskeie vorme aanneem.

Wys ’n romantiese buitelugfliek, kry ’n inspirerende spreker of huur ’n musikant wat romantiese musiek lewer. Breek weg van seminare of inligtingsaande en maak dit pret, iets vir paartjies om na uit te sien. Voorsien ook ’n ete en dek die tafels mooi met linne en kerslig. Dit gaan harde werk verg en dalk wil julle dit in die begin slegs een keer per jaar doen. Natuurlik sal julle nie alles self kan behartig nie en sal julle die hulp van vrywilligers moet inroep, maar die beplanning daarvan sal julle self moet doen.

  1. Skep kleiner fokusgroepe in jul kerk

’n Kerk bestaan uit verskeie mense wat verskeie uitdagings moes (en steeds moet) oorkom. Hou jul oor op die grond, luister na mense se wroegings en bepaal waar daar ’n behoefte is onder die mense in die kerk waaraan julle behoort.

Is alkoholmisbruik ’n probleem? Dalk armoede? Miskien is daar talle geskeide persone in jul kerk? Skep egskeidingsberading wat kan hulp bied aan diegene wat stoei met die nagevolge van ’n egskeiding of diegene wat steeds sukkel om oor ’n egskeiding in die verlede te kom.

Natuurlik het julle opgeleide persone nodig om groepe soos dié te fasiliteer.

  1. Maak ’n bohaai van huwelike

Die huwelik is ’n wonderlike Goddelike instelling en waarlik iets om te vier. Dit het nie net ’n impak op die twee mense wat daarbinne staan nie, maar dit kring uit na ’n wyer gemeenskap en los ’n nalatenskap vir die kinders wat daaruit gebore word.

Herinner die mense in jul gemeente hoe wonderlik hierdie instelling werklik is, deur ’n bohaai te maak van huweliksherdenkings.

Inisieer ’n gebruik in jul kerk waar paartjies wat ’n mylpaal-huweliksherdenking bereik, vorentoe geroep word gedurende die preek en geseën word met blomme, ’n geskenkbewys (wat, byvoorbeeld, bestee kan word op ’n ete) en ’n mooi kaartjie.

Laat graveer ’n goue plaatjie vir elke paartjie in jul kerk wat hul Goue huweliksherdenking gevier het en installeer dit iewers op die kerkterrein.

Publiseer die herdenkings van gemeentelede in boekies, nuusbriewe en op jul webtuiste en plaas ’n foto van die paartjies wat dit vier, op die sosiale media. Vier ook die Intiem-huweliksweek wat jaarliks vanaf 1-7 September plaasvind.

Dus, waar en hoe begin julle met jul inisiatief?

Ted Louw, outeur en direkteur van Married People gee die volgende wenke:

  • Kry die guns van jul kerkleier. Dit is eintlik voor die hand liggend, maar ons wil tog uitlig dat dit belangrik is vir jul kerkleier om te weet wat julle van plan is om te doen en om sy/haar goedkeuring hiervoor te kry.
  • Identifiseer jul raakvatters. Elke kerk het raakvatters. Daardie mense wat jou gaan help om die taak gedoen te kry. Jy en jou maat het dalk wonderlike visie, maar sukkel om dit uit te voer. Tannie San ken die hele wêreld en weet presies wie om te skakel as jy ’n groot tent vir ’n funksie nodig het. Ou Miem weet presies hoe om die Vrouediens bymekaar te kry vir verversings en Oom Daan kan in ’n oogwink ’n tegniese probleem uitsorteer.
  • Kry ’n kernspan bymekaar. As julle, byvoorbeeld, ’n kwartaallikse afspraakaand wil laat realiseer, het jy ’n span nodig. Mense wat saam met julle sterk voel oor jul visie en bereid is om julle te ondersteun in die praktiese uitvoering van jul planne.
  • Bid gereeld. Natuurlik sal julle nooit so iets aanpak sonder gebed nie. Moenie net vir die Here vra om jul planne te seën nie. Bly ook stil en luister na Sy stem deur dit alles. Praat met hom vóór julle jul bediening stig, gedurende die vestiging-proses en ná elke geleentheid.
  • Hou ’n vergadering. Maar onthou: Niemand is lus vir ’n uitgerekte, omslagtige vergadering nie! Hou dit kort en eenvoudig en tref die res van die reëlings op jul WhatsApp-groepie. Maak seker almal is bewus van die strategie.
  • Moenie bang wees om raad te vra nie. Ons kan soms só opgewonde raak oor ons eie idees, dat ons nie die foute of swak punte in ons planne kan raaksien soos iemand anders kan nie. Vra raad en neem kritiek ter harte. Toets ook jul planne op ’n bereidwillige proefkonyn en wees oop vir leiding en voorstelle.
  • Skep die kalender. As dit kom by ’n effektiewe huwelikstrategie, is dit nodig vir julle om vroeg reeds datums op die kalender te bespreek. Op dié manier kan paartjies byvoorbeeld die datums vir kinderoppassery vroegtydig op hul kalenders aanteken en hul afspraakaande daar rondom reël.
  • Bemarking! Dis baie belangrik vir julle om te bemark om toe te sien dat die boodskap verder versprei word. Onthou ook dat paartjies geneig is om hul huwelike heel laaste te plaas – ná kinders en werk. As julle wil aandag trek, moet julle kreatief wees en ’n boodskap van dringendheid by hulle tuisbring.

As God dit op jul hart plaas om ’n verskil te maak in huwelike, moet dit nie ignoreer nie. Dit is ’n wonderlike voorreg om paartjies te inspireer en dalk ook ’n huwelik te red, dus, gryp die geleentheid aan met beide hande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.