Só kan jy tydens dié Kersseisoen ʼn verskil maak

Elme Churr kuier saam met kleuters van Tjokkerjol Speelgroepie (Foto verskaf deur Helpende Hand)

Solidariteit Helpende Hand wil die feesgety op ’n hoë noot afskop en ’n positiewe kettingreaksie van stapel stuur om te sorg dat behoeftige kleuters nie hierdie Kersseisoen honger ly nie.

“Die meeste kinders kan nie wag vir die Desembervakansie om te begin nie,” sê René Roux, Solidariteit Helpende Hand se adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie. “Vir die behoeftige kinders vir wie Helpende Hand sorg, lyk die prentjie egter heeltemal anders. Die #StopHonger-projek voed tans 8 000 behoeftige kleuters elke skooldag by hul skole. Ongelukkig, wanneer die skole gedurende die vakansietye sluit, ontvang hierdie kinders dikwels nie daaglikse gesonde maaltye nie. Gedurende Desember verloor hulle dikwels sowat 8% van hul liggaamsmassa. Vir Helpende Hand is dit onaanvaarbaar en wil ons die feestyd vir die kinders in ons gemeenskap ’n bietjie makliker maak met ons #GeeOmGeeAan-projek.”

Roux sê deur ons #GeeOmGeeAan-projek moedig Helpende Hand sakeondernemings en bevoorregte gesinne aan om nie-bederfbare kos vir behoeftige kinders in te samel.

“Ons het begin deur kleuterskole in Centurion en Pretoria-Oos te vra om kos na hul skole te bring en in ruil daarvoor het hulle ’n Kersfees-CD van Coleske Artists ontvang.”

Kleuters van Tjokkerjol Speelgroepie by die berg kos wat hulle ingesamel het (Foto verskaf deur Helpende Hand)

Die kleuterskole waar die projek afgeskop het is Tjokkerjol Speelgroepie, Tjokkies Baba- en Kleuterakademie, Stadsjapies en Prinsies en Prinsessies. ’n Soortgelyke poging is ook by die Solidariteit Beweging se hoofkantoor gehou. Die sanger Elme Churr is die ambassadeur van die projek en het Tjokkerjol-kleuters met ’n optrede verras.

Roux verduidelik Helpende Hand glo dat een goeie daad na die ander lei, en dit is presies wat met hierdie projek gebeur het.

“Dit was vir my ’n riem onder die hart om te sien hoe die kleuters se gesiggies ophelder, nie net die wat ontvang het nie, maar die wat die geleentheid gekry het om te kan gee. Dit is baie belangrik vir ons kinders om te leer hoe om te gee en hoe om reg te gee. Dit is ook belangrik vir hulle om na ’n instansie soos Helpende Hand te kan kyk en weet dat daar hoop is vir ’n toekoms waarin hulle nog eendag ’n groot rol gaan speel en ’n groot verskil gaan maak. Hierdie projek was ’n seëning vir ons behoeftige gemeenskap hierdie jaar en ons staan in dankbaarheid voor God en die Coleske Artists.”

Volgens Roux is een ton mielies, 600 piesangs en meer as 2 000 kositems tot dusver ingesamel.

“Ons oproep om instansies en ander skole en kleuterskole is om hul kinders en mense te leer hoe om terug te gee. Die verskil wat een blikkie kos kan maak word ver onderskat. Wat vir my uitgestaan het is dat die een kleuterskool so opgewonde was om te kan gee en in te samel dat hulle hul eie berg van kos gebou het en die kinders vir die kos gebid het en gevra het dat dit sal gaan waar dit nodig is. Helpende Hand voorsien vir die gemeenskappe wat dit werklik nodig het,” sê Roux.

Roux doen ’n beroep op sakeondernemings en kleuterskole wat nog nie gesluit het nie om soortgelyke insamelings te hou en aan hul naaste Helpende Hand-tak te skenk. Andersins, besoek www.stophonger.co.za om betrokke te raak deur ’n plegbelofte te onderteken en te onderneem dat ’n kleuter nie honger gaan slaap nie.

“Helpende Hand daag jou hierdie Kersseisoen uit om kos by mekaar te maak sodat daar ook genoeg is vir die nuwe jaar wat kom. Jy kan selfs ook die kos gee aan iemand in jou omgewing wat jy weet dit nodig het. Daar is so baie bejaarde tehuise en kinderhuise om ons wat ons hulp en liefde benodig,” sluit Roux af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.