Só maak jou skenkings ʼn verskil

Suzette Van Rooyen, rekreasiekundige van Helpende Hand by die Ons Sentrum in Pretoria-Noord (Foto verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkels dra by tot verskeie afdelings in Helpende Hand danksy die publiek se skenking van items wat in ʼn werkende en goeie toestand is.

“Elke Ons Winkel is afhanklik van skenkings uit hul gemeenskap, maar die Ons Winkels kan net jou skenking verkoop as dit in ʼn goeie of werkende toestand is. Ja, die winkels neem enige iets wat in jou pad staan, mits dit in werkende toestand is en weer verkoop kan word,” sê Marné du Plessis, bemarkingshoof van die Ons Winkels.

“Indien winkels goeie gehalte items as skenking ontvang, kan hulle op hul beurt ook goeie gehalte items verkoop. Hoe meer items van goeie gehalte die winkels ontvang, hoe minder moeite is dit om stukkende items of elektriese ware, wat nie werk nie, weg te ry – want dit is ook ʼn realiteit.”

Sy sê items wat in ʼn goeie en werkende toestand is, kan gou weer ʼn nuwe baas vind. Fondse kan dus makliker gegenereer word en in ʼn korter tydperk in jou gemeenskap teruggeploeg word.

Die fondse wat uit die winkels gegenereer word, word slim bestee om Solidariteit Helpende Hand te help om voorspoed in gemeenskappe te verseker. Verskeie streek- en gemeenskapsprojekte word uit die Ons Winkels befonds. Elke winkel word dus volgens streek verdeel en die fondse uit hierdie winkels gaan elke maand na die betrokke gesamentlike streeksfonds. Hierdie streeksfonds word gebruik om projekte in daardie streek se verskeie gemeenskappe te finansier. Daar is in elke streek Helpende Hand-personeel wat verantwoordelikheid neem om projekte te reël en van stapel te stuur. Hierdie personeel bestaan uit ʼn streeksorganiseerder (SO), ʼn assistent SO, ʼn maatskaplike werker en vrywilligers as daar ʼn Helpende Hand-tak of ʼn dorpsverteenwoordiger is wat hand opsteek en graag wil help.

“Helpende Hand is baie afhanklik van ons streekspersoneel omdat hulle op grondvlak saam met die lede van die gemeenskap moet saamwerk om ʼn sterker en beter gemeenskap te bou,” sê Du Plessis. Projekte soos rekenaaropleiding of ʼn groentetuin is tipiese projekte wat deur verskeie streke aangepak word. Hoe meer suksesvol die Ons Winkels in ʼn streek is, hoe meer streeksfondse is beskikbaar om te benut en terug te ploeg in die spesifieke streek of gemeenskap.

Fondse uit die winkels maak dit ook vir Helpende Hand moontlik om maatskaplike werkers in diens te neem om uitdagings in gemeenskappe te takel, asook om gemeenskappe te help om tot hul volle potensiaal te ontwikkel. Helpende Hand se maatskaplike dienste-afdeling bestaan uit ʼn span maatskaplike werkers en hulp- maatskaplike werkers wat in elke provinsie oor Suid-Afrika heen geleë is. ʼn Maatskaplike werker van Helpende Hand speel ʼn sleutelrol in die ontwikkeling van ʼn gemeenskap en vervul onder andere die volgende take:

  • professionele hantering van maatskaplike aangeleenthede in samewerking met geregistreerde kinderbeskerming- en ander organisasies;
  • evaluering van hulpversoeke deur middel van ʼn deeglike assesseringsproses en aanbevelings wat volhoubare oplossings bied. (Die assessering behels die voltooiing van ʼn omvattende assesseringsvorm – hierdie proses stel die maatskaplike werker in staat om saam met die persoon na volhoubare oplossings te soek en waar nodig na die korrekte instansie of organisasie te verwys waar die saak getakel kan word);
  • uitbou en versterking van netwerkverhoudings binne die onderskeie gemeenskappe deur gemeenskapsforums met onder andere die volgende rolspelers te stig: skole, kerke, kinderbeskerming- en ander organisasies; en
  • verbind gemeenskapslede aan mekaar.

ʼn Persoon of gesin kan verskillende behoeftes ervaar soos byvoorbeeld voedselnood, maatskaplike ondersteuning binne gesinsverband of materiële nood. In baie gevalle kan die nood aangespreek word deur die bystand van ʼn Ons Winkel – die maatskaplike werker verseker egter dat sodanige hulp op ʼn gestruktureerde wyse verleen word en die Ons Winkels-rentmeesters van skenkings wat deur die gemeenskap ontvang word.

Die Ons Winkels dra ook by tot die Helpende Hand Studietrust (HHST) wat rentevrye studielenings aan hulpbehoewende Afrikaanse studente bied wat anders nie sou kon bekostig om te gaan studeer nie. Die HHST is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie.

Die HHST administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse wat deel is van die Studietrust namens verskeie donateurs. Die HHST het reeds meer as 11 000 toekennings aan 4 750 studente gemaak. Elke student moet jaarliks aansoek doen om ʼn lening, want lenings word nie outomaties toegeken vir die volle duur van ʼn student se kursus nie. Dit beteken verskeie lenings kan aan ʼn student toegeken word afhangend van die duur van hulle kursus.

“Só dra die Ons Winkels by tot verskeie afdelings van Helpende Hand, van streeksprojekte tot maatskaplike werkers en rentevrye studielenings. Die Ons Winkels is ʼn wonderlike konsep omdat soveel gemeenskappe reg oor die land bygestaan en versterk kan word deur die projekte wat deur die loop van elke jaar plaasvind. Indien jy dus wonder of jy jou tweedehandse items aan jou naaste Ons Winkel moet skenk, is die antwoord beslis ja. ʼn Finansiële bydra aan ons projekte is dalk nie vir jou moontlik nie, maar jy kan steeds ʼn verskil maak deur jou bruikbare items te skenk,” sê Du Plessis.

Besoek www.onswinkel.co.za vir meer inligting oor die Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.