Só plaas Natasha kollig op entrepreneurswese, onderwys

Natasha Joubert, Mej. SA 2023. Foto: Mej. SA/Facebook)

As sakevrou het Natasha Joubert, Mej. Suid-Afrika 2023, nog altyd geglo dat entrepreneurskap die hart van innovasie en ekonomiese groei is.

Daarom wil sy tydens haar kroningsjaar geleenthede help skep waar entrepreneursgeeste kan floreer, soos met die bekendstelling van haar amptelike Mej. SA-veldtog, genaamd die Natasha Joubert Collective (NJC).

“Mej. SA se wenners en naaswenners word die geleentheid gegun om ʼn platform te skep waardeur hul sake kan bevorder wat hul na aan die hart lê. Dit is dikwels gebaseer op hul persoonlike agtergronde en ervarings,” verduidelik Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. SA-organisasie.

“My veldtog is redelik wyd, daarom noem ek dit die Natasha Joubert Collective. Onderwys en entrepreneurskap lê my na aan die hart, en albei sal die primêre fokus van my onderneming wees,” het Natasha oor haar inisiatief gesê.

“Ek glo in tweede kanse en sien dit as my verantwoordelikheid om ʼn beter Suid-Afrika te skep deur geleenthede en moontlikhede te fasiliteer vir individue en gemeenskappe wat ʼn tweede kans verdien, hetsy in die vorm van onderwys, entrepreneurskap, voedselsekerheid, armoede, mode of water en sanitasie.”

Natasha, ʼn BCom-bemarkingsbestuur-gegradueerde en eienaar en modeontwerper van Natalia Jefferys, sê onderwys sal egter altyd een van haar grootste passieprojekte bly, daarom sal ʼn groot deel van NJC se fokus daaraan toewy word.

Dít sluit in vennootskappe met maatskappye en skenkers om geld vir beurse en leerprogramme te gee, asook om te help met die verbetering van skole in die vorm van infrastruktuur, biblioteke en mentorskap.

Ook toegang tot veral tersiêre onderrig, lê haar na aan die hart en dit het haar nog voor haar kroning gemotiveer om as sakevrou hande met verskeie maatskappye te vat om studiebeurse aan hulpbehoewende studente toe te ken.

Natasha het voorheen aan Maroela Media gesê dat sy onlangs tot die besef gekom het dat haar eie grootwordjare ʼn meer realistiese blik van die algemene Suid-Afrikaner se lewe is en iets is waarmee mense kan vereenselwig.

Sy het verder gesê dat sy deeglik bewus is van die finansiële stryd wat baie Suid-Afrikaners in die gesig staar, en glo dat deur kragte saam te snoer, daar geleenthede geskep kan word om ander te kan bemagtig.

“My pa het sy werk verloor toe ek 16 jaar oud was en is kort daarna oorlede. Ek moes vinnig self plannetjies rondom finansies beraam. Almal se verhale lyk natuurlik anders, maar ek ken teleurstelling, verlies en finansiële uitdagings, en wil daardie kennis gebruik om ander te help.”

  • Volg Mej. SA hier om meer oor Natasha se projek te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.