Só word drome waar

Lynette Beer. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (so gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie), poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig en inspireer. Lynette Beer, ʼn lewensverrykingspesialis, praat lesers ’n bietjie moed in om 2021 storm te loop.

Kom vanjaar by jou passie uit

Dié tyd van die jaar is dit tog so normaal om Nuwejaarsvoornemens te maak. Dikwels lyk hulle nogal dieselfde as laas jaar s’n:

  • Jy wil ontslae raak van die tjoepie om jou middellyf en gesonder lewe – dalk nie net by die gim aansluit nie, maar ten minste twee maal ’n week daar uitkom.
  • Jy wil ernstig begin spaar vir ’n vakansie om óf Namibië toe te gaan óf Mauritius toe.
  • Jy wil inskryf vir ’n kursus wat jou loopbaan ’n tree verder gaan vat, want dis al hoe jy bevorder gaan word. Ensovoorts.

Het jy geweet dat jy jou drome kan waar maak deur jou oë toe te maak en te begin visualiseer?

Dis wetenskaplik bewys dat die regte manier van visualisering jou lewe kan verander. Die sleutel is om te weet hoe jou brein werk en om bewus te word van hoe jy hom self geprogrammeer het – dikwels onder die invloed van mense naby jou.

Daar is drie breinfeite waarvan jy bewus moet wees:

  1. Jou brein maak geen verskil tussen dinge wat gebeur het en dinge wat jy jou verbeel nie. Daar is selfs bewys dat mense wat ’n sekere oefenroetine gereeld visualiseer, nuwe breinbane bou wat hul vaardighede vanself opskerp.
  2. Die brein reageer baie vinniger op emosies as op feite. As jy jou brein wil herprogrammeer, moet emosies deel van die bestanddele wees.
  3. Sien die brein as ’n groot sif wat sekere boodskappe uitblok en ander deurlaat.

Dis presies hier waar slim visualisering inkom. Maak jou oë toe en sien hoe jy gaan lyk as jy reeds jou doel bereik het – die fikser, gesonder jy, met jou afgehandelde graad of diploma in die hand.

Sien hoe jy vóél in jou nuwe lyf. Identifiseer al die positiewe emosies wat met jou sukses saamgaan: die glimlag op jou gesig, die tevredenheid en die trots, die rustigheid en die gesonde selfbeeld wat deel uitmaak van die prentjie.

Moenie haastig wees met hierdie visualiseringsproses nie. Kry jou prentjie voor jou oë en dink hom, droom hom, raak met hom aan die slaap en word met hom wakker. Skryf elke aand een goeie ding neer wat die afgelope dag gebeur het. Kyk of jy dit later kan uitbrei na twee of drie dinge toe. Só leer jy jou brein om goeie dinge raak te sien en herprogrammeer jy sy filtreerstelsel.

Kom vanjaar by jou passie uit, maar onthou ook dat dit altyd van binne af kom. Passie is eintlik net energie. Dis wanneer jy energiek voel terwyl jy iets doen wat jy regtig geniet. Jou doel in die lewe is om jouself op dié plek te kry waar dit wat jy doen, vir jou energie genereer.

Solank as wat jy glo dat passie van buite af kom, gaan jy tevergeefs wag op ’n mens of ’n iets wat jou ’n hupstoot moet gee. Dit gaan nie gebeur nie. Niemand gaan die televisie kom afskakel of jou tekkies vir jou aantrek nie. Jy sal dit self moet doen.

Raak bewus van jou gewoontes – die goeies én die slegtes. Verstaan waar hulle vandaan kom:  Elke gewoonte het iets wat daartoe aanleiding gee: ’n patroon wat herhaal en ’n beloning (al is die beloning dikwels negatief) aan die einde. Moenie fokus op die stres wat jou slegte gewoonte veroorsaak nie – raak eerder bewus van jou herhalende patrone en die emosies wat jou probeer weghou van jou doel.

Onthou, jy gaan nie sommer lus kry om uit jou gemaksone te beweeg nie en verskonings gaan vanself na vore kom. Vir sulke tye het jy ’n mantra nodig wat sê: Ek gaan dit in elk geval doen. Wanneer jou hand die wekker wil dooddruk en jy jouself wysmaak dat jy te min geslaap het en te moeg is om jou kop op te lig, moet jou mantra inskop en jou uit die bed uit kry.

Dis ook wanneer jy jou droom en jou prentjie van jou nuwe, glimlaggende self moet oproep en sê: Wag vir my, hier kom ek!!

  • Bestel nou jou FroueVonds A5-dagbeplanner vir 2021 met inspirasiestukke uit die pen van Lynette Beer. Met die aankoop verseker jy dat die FroueVonds studiegeleenthede vir behoeftige meisies en vroue moontlik kan maak. R50 van elke dagbeplanner word teruggeploeg in die FroueVonds. Plaas jou bestelling by: https://bit.ly/3gYOekW

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.