Só word renosters se honger gestil

Plaaswerkers laai die Hoop Gras af . Foto: Verskaf

Plaaswerkers laai die Hoop Gras af . Foto: Verskaf

Die Hoop Gras-projek, onder leiding van AgriSA, het welkome verligting vir honger renosters in Limpopo gebring. Die projek, in samewerking met twee gemeenskapsorganisasies, Rhino Connect en Limpopo Rhino Security Group (LRSG), het nagenoeg 1 000 bale gras by verskeie renosterplase in die provinsie afgelewer, wat as gevolg van die droogte nie genoeg voer vir die diere het nie.

“Mens besef dit nie altyd nie, maar dis nie net beeste en ander wildsoorte wat as gevolg van die droogte honger ly nie. By navraag het talle boere, wat ook renosters op hul plase het, hul hande opgesteek en om hulp gevra,” vertel Tersia Jooste, direkteur by Rhino Connect.

Die Hoop Gras-projek het in Januarie afgeskop toe die stigter van die projek, dr. Annelize Geldenhuys, die inisiatief geneem het om mense en ondernemings bewus te maak daarvan dat gesnyde gras baie meer werd is as wat mens besef.

Met waterskenkings aan boere reeds in plek, het Geldenhuys met die idee vorendag gekom om boere met voer vir hul diere te help. Gesnyde gras, wat gewoonlik in hope in asdromme beland, kan veel eerder verwerk word vir voer.

Huiseienaars en ondernemings wat gras sny, kan kuddes help voer sonder bykomende koste of moeite. AgriSA het onmiddellik ingespring om Geldenhuys se droom ʼn werklikheid te maak en die Hoop Gras-projek op Facebook begin.

Vyf versamelpunte is binne ʼn week geskep, waar mense hul gesnyde gras kan aflewer. Die projek het vinnig gegroei en daar is reeds versamelpunte vir gras in Ladysmith, KwaZulu-Natal en Stellenbosch in die Wes-Kaap waar mense gras kan skenk.

Die gras vir die Limpopo-boere is vanaf Agri Roodeplaat vervoer waarna dit by ʼn sentrale punt net buite Polokwane afgelaai is en toe na die boere versprei is.

“Renosterboere gebruik sowat 10 bale per dag om hul renosters te voer en dus sal die 1 000 bale wat gelewer is, regtig vir ʼn lang ruk ʼn groot verskil maak,” sê Karin Venter, woordvoerder van Rhino Connect.

Gedeeltes van Limpopo gaan tans gebuk onder ʼn droogte as gevolg van ʼn baie swak reënseisoen. Hoop Gras het aangedui nog gras sal aan boere verskaf word volgens behoefte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.