Sol-Tech: ‘n kampus wat werk

Sol-tech

Foto: Adéle Changuion

[promosie-artikel]

Die Solidariteit Beweging se tegniese kollege, Sol-Tech, het in 2013 sy kinderskoene vir grootmensskoene verruil toe hy die huidige groter kampus in gebruik geneem het. Vandag, drie jaar later en in sy tiende bestaansjaar, is dit een van die suksesvolste kampusse in Suid-Afrika, wat met trots kan sê: “Ons kampus werk!”

“Daar is verskeie uitstaande kenmerke wat maak dat Sol-Tech so goed funksioneer”, sê Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech. Sukses lê in gehalteopleiding, goed opgeleide personeel, goeie opleidingstoerusting en deeglik gekeurde en toegewyde studente. Die verdere kombinering van belangrike elemente soos kameraadskap onder studente, die vooruitsig van ʼn seker toekoms ná voltooiing van studies, en die aanvraag vanuit verskeie industrieë, om maar net enkele voorbeelde te noem, dra verder by tot die sukses en langtermynvolhoubaarheid. “Saam met harde werk en genade van Bo is dit wat ’n kampus suksesvol laat werk”, verduidelik Van Deventer.

Van die uitstaande kenmerke wat Sol-Tech op geoliede ratte laat loop, sluit in: 

Personeel

Sol-Tech se hoof, Philip Minnaar, reken: “Een van Sol-Tech se uitstaande kenmerke is beslis ons span goed opgeleide en toegewyde personeel. Elkeen is onmisbaar, goed gekwalifiseerd en met hope toewyding, ervaring en ʼn passie vir studente en tegniese opleiding. Elkeen is ʼn kenner en ʼn mentor wat wil help om die jongmense wat by Sol-Tech instap, tot selfversekerde jong volwassenes te begelei.

Kampuskamerade

David-en-Markus-SolTech-studente-Medium.jpg

Marcus Maartens en David Nkosi (foto: solidariteit.co.za)

Kameraadskap onder studente is iets wat gereeld op Sol-Tech se kampus opgemerk kan word. Die kampus se studente funksioneer as ’n hegte gemeenskap en help mekaar waar nodig. ʼn Onlangse voorbeeld van so ʼn kameraadskap wat met deursettingsvermoë as gemene deler ontstaan het, is tussen twee studente wat gehoorgestremd is.

Sol-Tech is nie werklik ingerig vir studente wat gehoorgestremd is nie, maar in Marcus en David se geval was hul deursettingsvermoë en die rigting waarin hulle wou studeer, van so ‘n aard dat hulle wel geakkommodeer kon word.

Marcus Maartens kan liplees (een van die voorvereistes om genoegsame vordering tussen horende studente te maak), maar David Nkosi kan feitlik glad nie liplees nie en het ʼn tolk benodig om hom met gebaretaal te help. David is weer akademies baie sterk. Uit die aard van albei studente se deursettingsvermoë en vasberadenheid om by Sol-Tech te studeer, ondanks hul gebrek, het Marcus en David se paadjies gekruis.

Marcus help vir David deur alles wat in die klas gesê word, deur gebaretaal te tolk en David help vir Marcus met die akademie. Sodoende is al twee in staat om hul studies by Sol-Tech met sukses voort te sit. Op kampus is Marcus en David egter deel van die res van die studente en dra hul kameraadskap by tot ’n kampus wat werk, gee dit hoop vir studente met uitdagings, en wys dit dat al die studente saamwerk vir ’n gemeenskaplike doel – ’n toekoms in Suid-Afrika.

Vir die volledige storie oor Marcus en David, soek gerus die sleutelwoorde: Marcus en David op www.Solidariteit.co.za.

Studente staan uit

Sol-Tech is ʼn gerespekteerde instansie wat gehalteopleiding aan al die studente bied en loopbaangeleenthede skep deur sy goeie naam en goeie verhoudinge in verskeie industrieë. Talle groot maatskappye het al toerusting vir die kollege geskenk om sodoende vir studente praktykgerigte blootstelling te gee, asook om deure oop te maak vir praktiese indiensopleiding en uiteindelike aanstelling van studente binne die maatskappy.

“Instansies soos Sol-Tech is egter net so doeltreffend soos wat gemeenskappe en industrieë se betrokkenheid is. Deur terug te ploeg in die gemeenskap, help ons mekaar om suksesvol te wees,” verduidelik Van Deventer.

As voorbeeld van so ’n betrokkenheid het CNC Clear Cut verlede jaar ’n massiewe skenking aan Sol-Tech gemaak, naamlik ’n plasma-snymasjien ter waarde van R750 000. Die stuk masjinerie bevat uiters gevorderde tegnologie wat metaalprofiele vinnig, uiters akkuraat en netjies kan uitsny.

Groot en bekende maatskappye in Suid-Afrika stel al hoe meer Sol-Tech-studente aan en wil ook graag ’n bydrae tot opleiding maak. So het die bekende ZZ2-boerdery onlangs Sol-Tech-studente aangestel en sommer dadelik een van hul trekkers ook geskenk vir verdere opleiding.

Welstand geniet voorkeur

Buiten die hoëgehalteopleiding wat Sol-Tech bied, voeg hulle bykomende waarde toe tot die welstand van elke student. Spesiale dienste word beding met maatskappye soos onder andere Capitec en Medihelp. Studente kry onderskeidelik goedkoper bankkoste op rekeninge van Capitec en bekostigbare mediese dekking by Medihelp, pasgemaak vir studente.

Werktoekoms ná studie

Sol-Tech se “diens” aan die studente stop egter nie die dag wanneer hy of sy klaar gestudeer het nie. ’n Baie belangrike praktiese fase lê dan nog voor. Ajani is ʼn onafhanklike plasingsmaatskappy wat uitsluitlik Sol-Tech-studente by goedgekeurde werkgewers plaas om praktiese indiensopleiding te doen. Ajani is in hierdie stadium waarskynlik die enigste maatskappy wat hierdie tipe diens lewer, met meer as 230 studente wat net in 2015 vir indiensopleiding in die industrie geplaas is.

Aangesien Sol-Tech seker maak dat studente by ʼn erkende instansie geplaas word om praktiese ervaring op te doen, kry 56,7% van die kollege se afgestudeerde studente ná voltooiing van hul vaktoets dadelik werk by dieselfde instansies waar hulle hul prakties gedoen het omdat hul kennis, vaardigheid en werksetiek van beter gehalte is.

Buiten die afgestudeerde studente wat by Sol-Tech reguit in ʼn loopbaan instap, kry ʼn verdere 35,4% van afgestudeerde studente binne ses maande ’n vaste werk, wat ’n suksessyfer van 92,1% gee. 

(Trekker)wiele rol

ʼn Goeie kwalifikasie van ʼn gesaghebbende tegniese opleidingsinstelling soos Sol-Tech is een van die beste maniere waarop werksoekers hulself beter vir die huidige arbeidsklimaat kan toerus.

Tydens ʼn onlangse opname onder Sol-Tech-studente is daar bevind dat die grootste groep respondente, 83%, aangedui het dat Sol-Tech goeie waarde vir geld bied en dat hul opleiding ver bo dié van ander opleidingsinstellings uitstaan.

Sol-Tech gaan steeds van krag tot krag met hul gehalteopleiding en bly op hoogte van die jongste tegnologie asook nuwe kursusse wat aanvullend tot die reeds gevestigde kursusse aangebied word. Die nuutste toevoeging tot die kollege se lys is ’n kursus in trekkerwerktuigkunde. Met hierdie stap begin Sol-Tech om ook na die groterwordende behoeftes van die landbousektor om te sien.

Bou saam met ons ’n toekoms en ondersteun Solidariteit. SMS bloot ONSBOU na 34802. (SMS’e kos R2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.