Solidariteit Beweging vier 120 jaar met dankdiens, feesnaweek

Die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto: VTM)

“Die feesviering in geheel is eintlik een groot dankgeleentheid wat ʼn mens in herinnering roep. Dit is om saam dankie te sê vir al die jare van genade.”

So sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, oor die Solidariteit Beweging se viering van sy 120ste bestaansjaar op 4 en 5 Junie by die Voortrekkermonument in Pretoria.

Tydens dié naweek sal personeel, lede, ondersteuners en vriende, asook hul gesinne byeenkom om hierdie besondere mylpaal saam met Solidariteit te vier, én om as gemeenskap dankie te sê vir dekades van genade.

“Enige mens weet dat dankbaarheid teenoor God en dankbaarheid wat ons teenoor mekaar bewys, die toppunt van alle dinge is. ʼn Mens moet dankbaar wees en saam rondom die Here se Woord getuig.

“Die feesnaweek, en in besonder die dankdiens, is ʼn geleentheid waarin ons in dankbaarheid vir die Here sê ons sien dat ons in afhanklikheid van Hom bou. Ons sal self, maar nie sonder Hom nie,” sê Noëth verder.

Volgens hom sou ʼn mens vir so baie dinge kon dankie sê: vir geleenthede,  mense oor soveel jare, gawes wat daar is om te bou in mense, materiële dinge, leierskap en uitdagings wat ʼn mens kan hanteer.

“Een van die grootste dinge waarvoor ons dankbaar moet wees, is die verlossingswerk in Christus wat ons dwing tot roepingsgehoorsaamheid in ons tyd. Omdat ons in die verbond aan God gebind is, sê ons ook ons is verbind aan mekaar en daarom leef ons ons dankbaarheid uit.”

Die feesnaweek skop af met ʼn verskeidenheid van gesinsaktiwiteite, soos skyngevegte en ʼn wynproe by Fort Schanskop, Voortrekkerspeletjies, ʼn skattejag deur die Trekroetetuin en laatmiddag-pretloop.

Besoekers kan ook uitsien na jeugaktiwiteite, wat ʼn pretdraf of -stap, hindernisbaan en pingpong insluit wat op dié dag aangebied word, asook ʼn musiekkonsert Saterdagaand.

Op Sondag word die feesnaweek afgesluit met ʼn dankdiens onder leiding van Noëth.

“Ons is gemeenskapsinstellings en leef binne gemeenskappe. Gemeenskappe saam is dankbaar vir wat oor soveel jare gedoen kon word en wat ons biddend vra ook in die toekoms gedoen sal word.”

  • Wil jy graag die Solidariteit Beweging se 120ste bestaansjaarviering bywoon? Klik hier om te registreer. Registrasies sluit op 1 Junie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Die Afrikaanse monumete soos Voortrekker en taal moet geprivatiseer word sodat nati nie sy rasse haat handjies op dit kan kry nie.

anniekiewiet ·

Vertel meer van Solidariteit se ontstaan en werk deur die jare, asseblief.

Sarie ·

Dit is nie nodig om negatief te wees as jy die wereld sien soos dit regtig is. En die geskiedenis ken van voor dit geweisig was nie.

JohanR ·

Dink Nathi Mthethwa se klein brein sal twee keur dink voor daar probeer word om die naam van die Voortrekker Monument te verander!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.