Solidariteit Jeug se voorman is ʼn ‘groot denker’ met ʼn groot hart

paul-maritz

Paul Maritz is die hoof van Solidariteit Jeug. Foto: Verskaf.

Deur Mia Slabbert

Daar is iets aan die manier hoe hy met jou praat – duidelik, selfversekerd en volwasse.

Die 25-jarige Paul Maritz kan maklik nog as ʼn groentjie gesien word, maar daar is iets aan sy teenwoordigheid wat jou aandag trek, wat jou weer laat kyk, wat jou laat omdraai en weer laat luister.

“Mense is altyd verbaas as hulle hoor dat ek eintlik ʼn introvert is. Ek voel baie tuis in my skoene, ek weet waarheen ek op pad is, en ek vind maklik vrede in myself. Ek is meer van ʼn denker as ʼn voeler,” skerts Maritz met sy halfskaam, maar selfversekerde glimlag.

Hierdie blondekop Johannesburger het vanjaar die leisels geneem by Solidariteit Jeug, wat spesifiek daarop gefokus is om jongmense vir die werkplek voor te brei en toe te rus.

“Ek het ʼn besonderse liefde vir debat en werk al vir baie jare met jongmense vir jongmense. Ek sien Solidariteit as ʼn groeiende organisasie wat ʼn positiewe impak op Suid-Afrika het. Ek voel tuis hier en dit is my voorreg om vir ander jongmense die geleentheid te bied om ook hier tuis te voel,” gesels Paul rustig met die warm winterson wat oor sy gesig dans.

Paul is in Florida gebore en is dus ʼn gebore en getoë Johannesburger. As die middelkind van drie moes hy van jongs af reeds leer om sy sê te sê. Sy kreatiewe manier van dink en redeneer het mense van vroeg al laat kennis neem van sy sterk persoonlikheid en karakter. As hoofleier in die laerskool en onderhoofseun in die hoërskool het hy sterk standpunt ingeneem oor die regte van jongmense.

“In 2009 en 2010 het ek op nasionale vlak aan debatkompetisies deelgeneem en ek was die skrywer van ʼn produksie vir die 2010 Tienertoneelkompetisie. Dit klink soos ʼn cliché, maar jongmense en hul potensiaal maak my baie opgewonde.”

Sy passie is om jongmense te sien groei tot die beste weergawes van hulself.

“Wanneer jongmense die skool of universiteit verlaat, is daar so baie dinge wat hulle in ʼn kort tydperk moet leer. Daar word deesdae van ʼn mens verwag om met al die kennis by die werkplek in te stap. Ons lewe nie meer in ʼn tyd waar tweede kanse in die werkplek gegee word nie. Daarom moet jongmense by Solidariteit Jeug aansluit sodat niks hulle onkant betrap wanneer hulle eendag begin werk nie. Ons is jou mense wat in jou taal praat.”

Dié 25-jarige spog met ʼn BTh-graad en honneursgraad in Bybeltale en ʼn meestersgraad in diviniteit. Hy was die nasionale wenner in debatkompetisies in 2014 en 2016. Hy was ook telkens as die beste spreker op nasionale vlak aangewys. Paul het vir drie agtereenvolgende termyne op die studenteraad van die NWU se Potchefstroomkampus gedien, een termyn as tesourier en twee as voorsitter.

Ten spyte daarvan dat sy pos by Solidariteit Jeug hom daagliks afhanklik maak van die sterkste koppie koffie in die kantoor, vind hy steeds energie vir sy M-studies in etiek aan die NWU. Hy preek oor naweke in gemeentes van die Gereformeerde Kerk wat ʼn aflospredikant benodig. Dan is Paul boonop die direkteur van Agenda wat staan vir die Afrikaanse gemeenskaps- en debataksie en wat Afrikaanse debatkompetisies landwyd reël.

Volgens Paul is dit sy missie om sterk standpunt in te neem om normaliteit in Suid-Afrika te verkry, veral wat die werkplek betref.

“Dit is vir my baie belangrik dat mense poste en posisies beklee omdat hulle talentvol is. Dit behoort die enigste maatstaf te wees as dit kom by geleenthede vir alle jongmense in Suid-Afrika. Jongmense moet ook baie vinnig leer om die verantwoordelikheid te aanvaar om hul eie drome en toekoms te laat gebeur. Hulle beskik oor die vaardighede en nou moet hulle dit laat werk vir hulself.”

Paul is mal oor Suid-Afrika, sy plek én jou plek is hier. Daarom is hy passievol oor Solidariteit Jeug en wil hy alle jongmense aanmoedig om deel daarvan te word.

Hy is ʼn ywerige digter en die woorde van een van sy onlangse gedigte weerspieël sy hart sprekend:

Die wilg en die stroom

 “Ek is ‘n wilg, geplant langs ʼn mooie stroom;
aan die oewer het my wortels ‘n plek gevind
teen watergrens myself aan ‘n toekoms verbind
hier kon ek voorspoedig oor toekomsjare droom.

 Al die jare lê my wortels nog op dié een plek:
In tye van droogte was my wortels ver van water,
en het die mense vir my agtergeblewenheid geskater.
In tye van vloed het die water om my ganse stomp gegaan,
en die stroom het gevra waarom ek sy vloei teenstaan,
maar al die jare lê my wortels net hiér uitgestrek.”

– Paul Maritz

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.