Solidariteit Jeug sit hand by met vakkeuses

Felicia Richardson en Mareli Bothma van Solidariteit Jeug. (Foto: Maroela Media)

Wanneer dit by vakkeuses kom, sit heelparty leerders (én dalk ʼn paar ouers ook) met hul hande in die hare: Hoe besluit jy watter vakke die beste by jou toekomsplan pas? Watter vakke gaan jou in staat stel om jou drome na te jaag? Wat is die beste vakkeuse vir jou omstandighede?

Met behulp van Solidariteit Jeug se nuwe aanlyn vakkeuseportaal wat pas bekendgestel is, kan kinders ʼn ingeligte besluit oor hul loopbaan neem.

Mareli Bothma, bestuurder van Solidariteit Jeug, het tydens die bekendstelling erkenning aan Paul Maritz, voormalige bestuurder van dié organisasie, gegee. Volgens Bothma is dit te danke aan Maritz se visie dat die portaal tot stand gekom het.

“Maritz het ʼn droom gehad om vakinligting in videoformaat aan te bied en nou het ek die voorreg om hierdie projek amptelik bekend te stel.

Tydens die bekendstelling van Solidariteit Jeug se vakkeuseportaal. (Foto: Maroela Media)

“Terwyl hy nog aan stuur van sake was, het Maritz ʼn behoefte geïdentifiseer en gesien dat daar êrens dalk ʼn stukkie van die reisreëlings is wat kort. Hy het besef dat dit iets is waarmee Solidariteit Jeug kan help en toe die bal aan die rol gesit.”

Die geleentheid het by die Solidariteit Beweging se kantoor in Pretoria plaasgevind en dit is deur onderwysers, leerders en lede van die beweging bygewoon.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, was ook by die geleentheid en hy het tydens sy toespraak gesê vakkeuses vorm ʼn onlosmaaklike deel van ʼn kind se toekoms. Daarom is inisiatiewe soos Solidariteit Jeug se vakkeuse-portaal van uiterste belang.

“Die woord ‘vakkeuse’ kan nie los gesien word van die woord ‘toekoms’ nie, want wat is dit dan anders as om ʼn toekoms te bepaal deur die keuses van jou vakke.”

Vakkeuse-video’s wat op die portaal beskikbaar is, sluit in: rekenaartoepassingstegnologie, ontwerp, musiek, besigheidstudies, tegniese wiskunde, meganiese tegnologie, ingenieursgrafika en -ontwerp, robotika, verskeie tale, gasvryheidstudies en visuele kuns.

Klik hier om Solidariteit Jeug se vakkeuseportaal te besoek, of gaan na Solidariteit Jeug se webwerf en klik op “#Vakkeuses”.

In hierdie video kan jy ook ʼn voorsmakie van die portaal se inhoud en aanbieding kry:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.