Solidariteit vereer toponderwysers

Carla Botha is as die laerskole se onderwyser van die jaar aangewys. (Foto: Verskaf)

Carla Botha, ʼn gr. 1-onderwyser aan Laerskool Skuilkrans in Pretoria, en Jacobus (Kosie) Smit, ʼn hoërskoolonderwyser in fisiese wetenskap in Despatch, is as die Solidariteit Onderwysgilde se twee wenners van sy eerste Onderwyser van die Jaar-kompetisie aangewys.

Die doel van hierdie kompetisie was om ʼn geleentheid aan skoolgemeenskappe te bied om aan hulle onderwysers erkenning te gee.

Botha sê sy is verantwoordelik om die regte grondslag te lê vir elke kind wat deur haar hande gaan, nie net ten opsigte van daardie leerder se skoolloopbaan nie, maar ook hulle verhouding met die skool self. Sy is van mening dat ʼn kind se gesindheid teenoor skoolvakke reeds in gr. 1 bewerkstellig word.

“Ek het reeds vroeg in my lewe besluit om ʼn onderwyser te word. Vir my is dit meer as stories lees en somme maak. Jy maak elke jaar jou hart vir ʼn nuwe groep kinders oop. Mag al my gr. 1’s altyd onthou hoe ek hulle laat voel het.”

Kosie Smit is die hoërskole se onderwyser van die jaar. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het sy prys aan hom oorhandig. (Foto: Verskaf)

Smit is op Despatch gebore, waar hy ook gematrikuleer het en waar hy tans sy droom as departementshoof en onderwyser in fisiese wetenskap uitleef.

Hy is deur sy leerders en kollegas as besonder passievol beskryf, nie net ten opsigte van sy vakgebied nie, maar ook ten opsigte van die kinders wat by hom onderrig ontvang het.

“Ek staan in die onderwys om ʼn verskil in kinders se lewens te maak. Ek geniet dit die meeste om klas te gee – nie net om feite aan die kinders oor te dra nie, maar ook lewenslesse, en om aktiwiteite saam met hulle te ervaar,” sê Smit.

Skoolgemeenskappe is die geleentheid gegun om onderwysers vir die gesogte Onderwyser van die Jaar-toekenning te nomineer.

Nadat sowat 700 onderwysers hulle nominasies aanvaar het, is die top-40-kandidate aangewys waarna die publiek die geleentheid gegun is om vir hulle gunstelingonderwyser te stem. Vanuit die sowat 10 000 stemme wat in hierdie ronde ontvang is, is die top-10-kandidate vir hoër‑ en laerskole onderskeidelik aangewys, waarna die wenners in elke kategorie deur ʼn paneel kenners gekies is.

“Dit is geen geheim hoe hard onderwysers werk en hoeveel opofferings hulle maak nie. Onselfsugtig en met soveel deernis werk hulle nagte en naweke om om aan ons kinders die beste onderrig en afrigting te bied wat hulle kan.

“Hulle dra nie net kennis oor nie, maar ook waardes en lewenslesse, sodat ons kinders ʼn beter toekoms kan hê. In die moderne gejaag van die samelewing neem ons dit so maklik as vanselfsprekend aan, en daarom het Solidariteit se Onderwysgilde besluit om ʼn kompetisie van stapel te stuur wat onderwysers vereer en aan hulle erkenning gee,” het Anlia Archer, bedryfspesialis en organiseerder by Solidariteit se Onderrigsektor, gesê.

Albei wenners het  ʼn R10 000-kontantprys ontvang en R5 000 vir die betrokke skool om vir projekte vir sy behoeftige leerders aan te wend. Vir die opknap van die betrokke onderwyser se klaskamer het elke wenner R5 000 ontvang. ʼn Verdere R5 000-geskenbewys vir grafiese ontwerp asook ’n R1 000-geskenkbewys vir drukwerk en R500 vir ʼn A2-fotoskilderboek was by die prys ingesluit.

“Die reaksie van die publiek om hierdie geleentheid aan te gryp en erkenning aan hulle onderwysers te gee, was oorweldigend. Dit is ʼn goeie aanduiding van die waarde van onderwysers in ons gemeenskappe.

“Hulle passie en die ywer waarmee hulle elke taak aanpak, raak die mense om hulle en inspireer hulle ook. Dit was vir ons ʼn voorreg om hierdie geleentheid vir hulle moontlik te kon maak,” het Archer bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Ek raak so jaloers wanneer kinders in graad een sulke fantasiese onderwysers kry.
My graad een juffrou was bitter erg, en my hele skoolkoopbaan was een groot marteling en gemors gewees.
Daar was nie een dag wat ek van skool gehou het nie, al het ek later wonderlike onderwysers gehad.

Di ·

Baie dankie aan Solidariteit vir hierdie pragtige gebaar om die top onderwysers te vereer. Ek haal my hoed af vir elke onderwyser/es wat elke dag met die kinders werk. Sonder julle sou die kinders nie ‘n toekoms gehad het nie. Kinders kyk op na die onderwysers nes hulle opkyk na hulle ouers, julle speel dus ‘n belangrike rol in die kinders se lewens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.