Soms, as jy ophou soek, vind jou drome jou

Magdel in New York toe sy besef het dinge moet verander. (Foto: Verskaf)

Deur Tanya de Vente-Bijker

So baie kan in een jaar gebeur. Jou lewe kan een oomblik nog doelloos lyk, en net die volgende oomblik wag ʼn splinternuwe avontuur op jou.

Magdel Steyn het behoorlik die korporatiewe leer geklim. Sy het al op ʼn baie jong ouderdom met haar talente begin woeker en het sukses na sukses in haar loopbaan bereik. Tog het sy in haar persoonlike lewe vele teleurstellings en terugslae beleef. Sy het bly wonder hoekom sy enkellopend deur die lewe moet gaan. Sy was gelukkig, maar het tog na een bly smag om die lewe se oomblikke mee te deel.

In die afgelope twee jaar het haar lewe verander. Na baie jare van enkellopend wees, het sy haar reisgenoot ontmoet en in November vanjaar het sy op ʼn vliegtuig na Nederland geklim om nuwe werksavonture aan te pak.

Magdel vertel sy het reeds aan die einde van 2019 geweet en besluit dat dit tyd is om sekere veranderinge in haar lewe te maak. “Nee, dis nie maklik wanneer jy vir jouself werk nie,” erken sy.
Sy was vroeg Maart 2020 in New York waar alles binne vyf dae heeltemal verander het. “Ek het die Saterdagoggend, voordat ek die Sondag moes terugvlieg, in New York rondgestap om die beste te probeer maak van ʼn week wat glad nie verloop het soos ek dit beplan het nie. Ek onthou hoe ek op ʼn bankie in Madison Square Park gaan sit het en ʼn lang gesprek met die Here gehad het. Ek het geweet my lewe moet verander, ek het geweet wat ek moet doen en dat dit tyd was vir ʼn nuwe begin. Vir jare lank het ek aan my drome gewerk terwyl ander geslaap het. Dit het my op baie maniere ʼn voorsprong gegee en ook ʼn paar ongelooflike geleenthede. Maar dit was nie meer genoeg nie. Die groeipotensiaal het minder geword en ek het my passie begin verloor vir wat ek gedoen het, want ek verkies om uitgedaag te word. Ek het geweet ek moet my toekoms in God se hande laat.” Min het sy geweet hoe dit sou uitspeel, of wat vir haar sou wag.

In Suid-Afrika bly drie renosterwesies wat sy aangeneem het op ‘n plaas agter, sy gaan gereeld terugkom vir hulle. (Foto: Verskaf)

Magdel werk al vir 21 jaar en het verskeie ongelooflike projekte en geleenthede op haar kerfstok. Sy het op 14-jarige ouderdom as krieketskeidsregter gekwalifiseer. Na skool het sy BA Sportkommunikasie aan die Universiteit van Johannesburg studeer en toe ook nagraads twee kursusse gedoen; een in sportreg en een in kontrakreg. Sy het na afloop van haar studies aan ʼn sport skoolprojek gewerk, maar moes hoor haar idees is “tien jaar te vroeg”.
Die resessie in 2008 het boonop haar planne kortgeknip en sy het ʼn tutor vir ʼn seuntjie met outisme geword. “Dit was en bly tot vandag toe een van die beste tye van my lewe.” Sy het weer aan ʼn nuwe projek begin werk oor vroeë kinderontwikkeling, maar moes keer op keer op keer hoor dat sy (al weer) twintig of dertig jaar te vroeg met haar idees is.

In 2009 het haar familie deur ʼn baie moeilike en traumatiese tyd gegaan en in 2010 het haar ouers Kaap toe getrek. “Vir my was dit ʼn geleentheid op ʼn tweede kans.” Sy het die mediawêreld as ʼn bemarker betree en het ʼn rekordbedrag in vyf maande ingesamel. Na ʼn paar besige jare in die mediawêreld het sy einde 2016 haar eie sakeonderneming begin, maar teen die einde van 2019 kon Magdel voel sy is in ʼn gemaksone vasgekeer.

Daardie oggend in New York het sy skielik gewonder oor almal wat altyd haar projekte as tien of twintig jaar te vroeg bestempel. Wat as die ander mense tien of twintig jaar agter was?

Die blomme het sy in New York in die winter raakgesien en besef sy moet blom waar sy geplant is. (Foto: Verskaf)

“Skielik het ek die mooiste blom uit die hoek van my oog gesien. Als rondom my was nog winter, behalwe die blom, en ek het besef dat waar daar ʼn wil is, is daar ʼn weg. Ek moet blom waar ek geplant is. Ek het met ʼn rustige hart op daardie vlug terug na Suid-Afrika geklim. Ek het geweet daar is veranderinge om te maak, maar vir die eerste keer in ʼn lang tyd was ek reg daarvoor …”

En toe ontmoet sy vir Natie Engelbrecht deur ʼn gemeenskaplike vriend. “Oor ʼn paar koppies koffie kort voordat Natie Nederland en ek New York toe is, het ons oor die hele skuif van ‘sukses na betekenisvol’ gepraat en besef dat beide met dieselfde idee vir ʼn projek sit. Ons het gedink ons sou verder gesels wanneer ons weer terug is in Suid-Afrika,” vertel Magdel.

Maande later het hy vir Magdel vertel dat hulle juis ontmoet het toe hy deur ʼn baie moeilike en donker tyd gegaan het. Vir hom was sy die een wat sy lewe kom red het.

Omdat Magdel soveel vrede in haar hart gehad het dat sy alleen is, het sy nie eens besef dat sy besig is om ʼn reisgenoot te vind nie. “Net toe ek ophou soek na liefde, toe vind dit waarna ek gesoek het my.”

Magdel en Natie in Nederland. (Foto: Verskaf)

Sy het die afgelope paar maande baie meer op konsultasiewerk begin fokus. “Ek is geseënd met ʼn helicopter view-aanslag, so ek sien eers die groot prentjie en werk dan agteruit ʼn aksieplan van daar af uit. Ek verstaan die internasionale uitbreiding van besighede en produkte en Natie is ʼn advokaat wat in internasionale handel en belasting konsulteer. Ons het ʼn paar projekte waaraan ons saamwerk.” Dit is juis die internasionale projekte wat hulle laat besluit het om vir die volgende jaar in Nederland en in Suid-Afrika te bly. Hulle het reeds ʼn woonstel in die Kaap en sit nou huis op in Haarlem, Nederland.

Vandag kyk sy met diep dankbaarheid terug na hoe haar lewe in die afgelope jaar uitgespeel het. En sy is reg – reg vir haar nuwe avontuur en die geleentheid om voluit te kan leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.