Sopkombuis sorg vir veel meer as honger magies

Martie en Fred is reeds ‘n paar jaar gelede oorlede, en Yolindie en haar man, Riaan, bestuur dié skip sedertdien.

Vir die kinders van Claremont, Johannesburg, is Fred en Martie se sopkombuis veel meer as ‘n plek waar hulle iets vir die honger kan kry. Maretha Botes vertel hoe Yolindie Oberholzer en haar span omsien na honderde kinders en hul gesinne.

‘n Halfeeu terug het Yolindie se ouers, Fred en Martie Hughes, ‘n plan gemaak om honger kinders in hul gemeenskap te voed. Sommer so op die sypaadjie in ‘n ry, het die outjies gesit en wag vir hul sojamaalvleis en pap wat tannie Martie in die karige kombuis van hul rooibaksteenhuis gemaak het.

Vinnig het die honger gesiggies se getalle gegroei en later was daar swanger mammas wat ook nood gehad het. Later het tannie Martie die skole gekontak en gesê hulle moet afkondig dat hulle in die middae by haar huis ietsie te ete kan kry. Die storie van tannie Martie en haar sopkombuis is in ‘n plaaslike koerant gepubliseer en ‘n politieke party het ‘n stuk grond geskenk waar hulle eers uit ‘n dubbelverdiepingbus kos gemaak het, en vandag geboue het van waar hulle ‘n hele sorgsentrum bedryf.

Martie en Fred is reeds ‘n paar jaar gelede oorlede, en Yolindie en haar man, Riaan, bestuur dié skip sedertdien. Dis ‘n arm gemeenskap dié. Dwelm en alkoholmisbruik vier hoogty. Soveel ouerlose gesinne waar die oudste kinders na die kleintjies omsien, want pa is al voor geboorte vort, en ma is dood weens ‘n “overdose”.

Nou raak dit boonop winter. ‘n Harde, koue hoëveldse winter wat nie onderskei tussen kleur of ras nie. Yolindie vertel: “Ons oumense gaan dood van die koue. Hulle moet kies tussen elektrisiteit of iets om te eet. Kinders loop met snotneuse, sonder kouse of musse om hul snags warm te hou.”

Deur die kwartaal stuur die sopkombuisspan toebroodjies na die plaaslike skole sodat die kinders eerste pouse iets in hul magies kan kry. Ná skool wag daar ‘n warm maaltyd by die sopkombuis. Naweke en vakansies is die deure óók oop, want sonder tannie Lindie (soos Yolindie onder die kinders bekend is) se eetdingetjie sal die meeste van die kinders honger gaan slaap. Vrydagaande is jeugaand, sodat niemand nodig het om in die strate rond te lê, of tuis verniel te word omdat die oueres dronk is nie. Volgens Yolindie is daar 625 kinders, 152 bejaardes en 500 gesinne by hul organisasie geregistreer. Hulle gee daagliks tussen 250 en 300 kinders kos.

“My ma het op haar sterfbed dertien jaar terug aan my gesê: ‘Moet nooit dat my kinders honger ly nie’. Hierdie sopkombuis was haar alles,” vertel Yolindie.

Fred en Martie se sopkombuis sien na honderde kinders en hul gesinne om. (Foto: Verskaf)

Haar ouers het self baie swaar gekry. Toe haar pa sy werk verloor het, was daar nie ‘n ander keuse as om Claremont toe te trek nie.

“My ma was aan die begin kwaad. Sy wou eers nie hier wees nie. Toe het daar op ‘n dag eers een, toe twee, toe ‘n hele paar kinders aan die deur kom klop vir ‘n broodjie. En my ma het aan my pa gesê sy weet waarom die Here hulle hier gesit het. Hulle moes vir sy kinders sorg.”

(Foto: Verskaf)

Yolindie het eers in die korporatiewe wêreld gewerk. Die kennis wat sy daar opgedoen het, pas sy vandag toe by die sopkombuis. Hulle boeke is altyd in orde. Die BEE-status is op 83%. Die inligting oor elke gesin en kind wat gevoed en versorg word is 100% volledig. Daar’s ‘n plan vir elke uitdaging. As daar nie ‘n plan is nie, word daar een gemaak.

Omdat die gemeenskap brandarm is, het die span vinnig besef dat ‘n winkel, hoe goedkoop ook al die produkte, nie sal werk nie. Hulle het ‘n mahala-winkel op die been gebring. Die kinders (en grootmense) word aangemoedig om herwinbare vullis bymekaar te maak. Wanneer hulle dit na die winkel bring kan hulle iets neem. Daar is iets van alles. Sanitêre doekies vir die tienermeisies sodat hulle nie moet skool mis nie, skottelgoed- en wasgoedseep, speelgoed, lekkergoed.

“Wat vir ons opvallend en eintlik so hartverskeurend is, is dat klein kindertjies hier inkom, hul sakkie vullis bring, verby die speelgoed en lekkergoed stap om vir ouma of mamma seep of suiker te kry,” sê Yolindie.

Die meeste ouers in die Claremont-gemeenskap is ongeletterd en kan glad nie kinders met hul huiswerk help nie. Hiérvoor tref tannie Lindie ook voorsorg. Huiswerkhulp is elke middag beskikbaar vir dié wat dit nodig het.

(Foto: Verskaf)

Die span het ook ‘n ooreenkoms met skole om seker te maak dat kinders almal skoolklere het. Ou en stukkende klere word na die sentrum gestuur waar vroue, vrywilligers (soms uit die gemeenskap), die klere heelmaak, terugstuur na die skool se klerebank waar “sopkombuis-kinders” dan vir hulle klere kan gaan haal.

By die sentrum word ook wonderlike stories van hoop gebore. Soos dié van Isabel* (19) wat alles in haar vermoë gedoen het om matriek klaar te maak. En sy het dit met lof gedoen, sê Yolindie.

Dié dogter was in ‘n hoërskool in die Roodepoort-omgewing, die enigste skool waar Yolindie vir haar kon plek kry. Dit was moeilik, want daar was nie geld vir handboeke nie. Isabel het gesorg dat sy elke pouse haar maats se handboeke leen sodat sy kan huiswerk en ekstra werk doen. Ná skool het sy saam met ‘n maat huis toe gegaan sodat sy uit handboeke kon leer vir toetse, en opdragte kon doen. Saans het sy by kerslig, soms by die straatlig, haar werk gedoen. Op ‘n dag het Yolindie die hoof gaan sien. Sy het Isabel na die kantoor geroep en gevra dat sy al haar boeke aan die hoof wys. Hy was in trane en het daardie dag gesorg dat Isabel elke boek kry wat sy nodig gehad het om haar skoolloopbaan te voltooi. Isabel sou kort ná Yolindie se onderhoud met Maroela Media gehoor het of sy ‘n beurs by ‘n sjefskool in Johannesburg losgeslaan het.

Yolindie sê daar is altyd behoefte aan befondsing, maar ook aan hande wat kan help, en harte wat kan bid. Met die winter wat reeds lywe aan die bibber het, is die behoefte vir veral komberse, musse en kouse groot.

“Ons soek nie fênsie komberse nie, want dan word dit gesmous vir dopgeld. Ons soek gewone grys komberse (hondekomberse). En kouse! ‘n Kind of oumens wat kouse aan die voete en ‘n mus op die kop het wanneer hulle bed toe gaan, sal oorleef,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rian ·

Wel gedaan en dankie vir jul onbaatsugtige diens aan die gemeenskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.