Span trotseer Kilimanjaro om brandslagoffers te help

Trots en triomfantelik op die piek van Kilimanjaro. (Foto: Verskaf)

Moeg en uitgeput, maar trots en triomfantelik.

Só voel die span van die Avela‑stigting nadat hulle pas teruggekeer het van ʼn uitmergelende ses dae om berg Kilimanjaro uit te klim – en daarmee saam R1,85 miljoen vir kinders met ernstige brandwonde in te samel.

“Die laaste agt ure van die klim tot by Kilimanjaro se piek was uiters uitdagend,” sê Cami Palomo, spanleier en stigter van die Avela‑stigting. “Die span moes temperature van -20 °C en selfs kouer, asook ʼn wind van sowat 80 km/h, trotseer. Behalwe hiervoor was ons erg ontwater omdat ons waterbottels kliphard gevries was.”

Op 23 Junie het die Avela-span uiteindelik die piek bereik.

So moeilik soos dit was, was elke tree die moeite werd, sê Palomo. “Ons het deur die nag geklim om te piek en die gevoel toe ons die volgende oggend net voor 08:00 die piek bereik… Dit is ʼn ervaring wat elkeen van ons vir ewig sal bybly. Die uitsig en grootsheid van die yslandskap om ons en die verligting was onbeskryflik.”

Die Avela-span het bestaan uit 12 moedige klimmers wat dié uitdaging aangedurf het om Suid-Afrikaanse kinders met ernstige brandwonde te help. Die span het deur hierdie projek R1,85 miljoen ingesamel wat nou gebruik gaan word om ʼn lasermasjien vir die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto se brandwondeenheid aan te koop.

“Die masjien help om die vel se elastisiteit te verbeter en versag die voorkoms van brandletsels,” verduidelik Palomo. Dié Lumenis Ultra‑lasermasjien word danksy Palomo en haar span reeds met groot sukses by die Rooikruis-Oorlogsgedenkhospitaal vir Kinders in Kaapstad gebruik.

Daar is tans talle kinders in Gauteng wat hierdie behandeling dringend nodig het, maar nie kan bekostig om na Kaapstad te reis nie.

Palomo sê dit is juis hierdie passie om brandslagoffertjies te help wat die span tree vir tree deur die uitdagende omstandighede bergop gedra het. “Daar was net geen manier dat ons nié daardie piek sou bereik nie. Daar was net te veel op die spel. Hierdie kinders het ons aangespoor om letterlik en figuurlik nuwe hoogtes te bereik,” sê sy.

Kam Pillay, ʼn dokter van Kaapstad en een van die Kilimanjaro-spanlede, sê sy is nog besig om tot verhaal te kom ná hul bergklimsukses. Pillay het ook aan ʼn vorige Avela-ekspedisie na berg Everest deelgeneem.

Die span moes uiters uitdagende omstandighede trotseer om die piek van Kilimanjaro te gebruik. (Foto: Verskaf)

“Ja, ons is trots en verheug, maar wat ons deurgemaak het, was ʼn totale aanslag op die sintuie en dit vat tyd om alles te verwerk. Wat ek wel kan sê, is dat ons as sterker mense by daardie berg afgekom het, want ʼn mens moet diep binne jouself grawe om sulke uiterstes te oorkom.”

Die Avela‑stigting is ʼn nie-winsgewende organisasie gebaseer in Kaapstad wat kinders met brandwonde help op hul pad na fisieke en geestelike herstel. Die stigting werk saam met verskeie organisasies wat spesialiseer om jong brandwondslagoffers en hul families te help en samel voortdurende geld in om hierdie kinders die mediese behandeling te laat kry wat hul nodig het.

Die stigting is vernoem na Avela, ʼn babadogtertjie wat net sewe maande oud was toe haar ouerhuis in ʼn brand verwoes is. Avela het ernstige brandwonde opgedoen, terwyl haar ma in die brand dood is. Avela se vegtersgees het haar egter deur haar moeilike herstelpad gedra en sy is ná maande in die hospitaal met haar familie herenig.

Palomo het in 2015 die Avela‑stigting op die been gebring en dit na dié dapper dogtertjie vernoem.

Buiten die Kilimanjaro-klim, het die stigting verskeie ander projekte om kinders met brandwonde te help. Besoek hul webtuiste vir meer inligting of klik hier om ʼn bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.