Span van ‘STROOP’, ‘Kingdoms’ weer internasionaal vereer

“Kingdoms of Fire, Ice and Fairytales” is die nuwe dokumentêr van bekroonde rolprentmakers Bonné de Bod en Susan Scott. (Foto: Verskaf)

Plaaslike rolprentmakers Susan Scott en Bonné de Bod het weer ʼn handvol toekennings vir hul jongste rolprent, Kingdoms of Fire, Ice and Fairytales ingeoes.

Die gedugte span is onlangs op die Impact DOCS-rolprentfees in die VSA vereer. Dié fees gee erkenning aan buitengewone prestasies in die maak van dokumentêre rolprente.

Die rolprentfees het inskrywings uit 30 lande ontvang en het pryse vir beste dokumentêr, beste kinematogrofie, beste draaiboek en beste titelontwerp aan Kingdoms toegeken. De Bod is ook vir haar aanbieding en stemwerk in Kingdoms of Fire, Ice and Fairytales vereer.

Scott en De Bod is bekend vir hul bekroonde debuutrolprent STROOP – Journey into the Rhino Horn War wat die Suid-Afrikaanse renosterstropery-krisis gedokumenteer het.

Die duo het met Kingdoms ʼn nuwe rigting ingeslaan deur ʼn reis na drie magiese wildernisgebiede te onderneem.

Bonné de Bod in die Noordpool. (Foto: Susan Scott/Kingdoms.)

Kingdoms ondersoek ongerepte wildernisse: Yellowstone, die wêreld se grootste nasionale park in die VSA, die ikoniese Swartwoud en die ysvelde van die Noordpoolsirkel.

“Dit is ʼn ongelooflike prestasie aangesien daar hierdie jaar rolprente was met stemwerk wat gedoen is deur Hollywood-swaargewigte soos Woody Harrelson, Liam Neeson, Samuel L Jackson en Juliana Margulies,” het Scott oor De Bod se toekenning gesê.

“Hierdie toekenning gee erkenning aan haar talent en vermoë om ʼn verbintenis met die kykers te maak, maak nie saak waar sy in die wêreld is nie.”

Kingdoms of Fire, Ice and Fairytales is vroeër bekroon met die New Yorkse kinematografieprys vir die beste reis- en natuurdokumentêr. Die rolprent is ook amptelik gekies vir ʼn hele aantal rolprentfeeste wêreldwyd.

In die VSA is Kingdoms op die gesogte Jackson Wild-rolprentfees bekendgestel en is ook by die komende International Wildlife-rolprentfees (IWFF) benoem in die kategorie vir beste dokumentêr.

Dié rolprentfees het vanjaar 65 flieks gekies, met Kingdoms wat gekies is vir die amptelike geselligheid op 8 Mei wanneer ʼn groot openbare buitelugvertoning in die Ogren Baseball Park in Missoula, Montana, plaasvind.

Kingdoms of Fire, Ice and Fairytales is die eerste keer op Showmax in Desember 2020 uitgereik en is tans beskikbaar op DStv Catch Up. Die fliek word ook in Mei en Junie op M-Net se Movies 1 (DStv-kanaal 104) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.