Spanwerk, alles vir ses sussies!

 kind-inkleur-stocksnap-pixabay.jpg

(Foto: StockSnap/Pixabay)

Deur Suzette Oosthuizen

Ettienne druk die foon dood nadat hy gegroet het en sak moeg terug op die bank. ʼn Gevoel van moedeloosheid oorweldig hom vir ʼn oomblik en hy wonder hoeveel oproepe soos dié gaan hy nog kry. In sy hart weet hy dat Afrikaner-armoede ʼn toenemende werklikheid is, en dit raak hom net soveel dieper as hy hoor dit is die kinders wat die swaarste kry. Tog glo hy daar is hoop as almal saamstaan, ʼn enkeling se hande is net soveel sterker in ʼn groter entiteit. Hy’s egter verlig dat dit amper tyd is vir sy Helpende Hand-takvergadering, en hy weet, saam sal hulle oplossings vind.

Toe dit Ettienne se spreekbeurt is, vertel hy van Ester se oproep. Haar bure, op die plaas langsaan,  het ses dogters. Die kinders was twee jaar laas in die skool. Hulle moet onderskeidelik in graad 1 tot graad 7 wees. Hoewel die kinders se pa op die plaas werk en hul verblyf gratis kry, sukkel hulle geweldig baie. Kos en klere is daar eintlik nie. Die ma versorg die kinders en werk tans nie. As hulle eers weer terug is in die skool, is daar ʼn moontlikheid dat sy ʼn werk kan kry by een van die plaaslike kettingwinkels.

 kinders-skool-verf-pixabay-lenahelfinger.jpg

(Foto: Lenahelfinger/Pixabay.com)

Nadat Ettienne die span mense vertel het van Ester se bure, is daar vir eers stilte.  Een-een begin hulle ʼn bydrae lewer. Phillip, wat by die plaaslike verkeersafdeling werk, maak ʼn voorstel om te reël dat die pa sy swaarvoertuiglisensie bekom. Dit sal vir hom meer geleenthede bied. Elsa, wat betrokke is by Ons Winkel, noem dat sy sal kyk vir klere vir die kinders. Ook word daar aangebied om ʼn rygeleentheid vir die kinders te reël skool toe en terug. Hulle kwalifiseer ook vir kospakkies uit die Helpende Hand se Josef-silo. Die plaaslike Helpende Hand- maatskaplike werker maak dadelik werk van die saak en tree in verbinding met die skool waar die kinders vroeër ingeskryf was. Ettienne voel sommer ligter en diep dankbaar vir hierdie instansie waarvan hy met trots ʼn vrywilliger kan wees. Dis die krag van gemeenskappe!

Nadat die kinders teruggekeer het skool toe, begin vervoer ʼn uitdaging raak. Dit is ses kinders wat elke dag in een voertuig moet pas. Al die weldoeners gee opreg om, maar prakties raak dit moeilik. Vir elke uitdaging vind hierdie groep mense egter ʼn oplossing. In ʼn stadium is al die taklede ingedeel en elkeen kry ʼn beurt om die ses sussies by die skool te kry! En soms word ʼn huurmotor gereël. Dit is egter ʼn duur oefening. Taklede gaan selfs sover om vriende en ondersteuners te nader om finansieel by te dra. Hoewel dit nie altyd maklik is om die agterstand in te haal nie, is die kinders dolgelukkig in die skool en motiveer dit net die taklede om te werk aan ʼn volhoubare plan.

Die maatskaplike werker dien ʼn aansoek in by die Helpende Hand Bemagtig-ʼn-Kind-fonds om gedeeltelik by te dra tot die kinders se vervoer. Die aansoek word goedgekeur en saam met die Helpende Hand-tak se bydrae, asook die pa se onderneming om elke maand by te dra soos hy kan, is dit ʼn wen-wen-situasie en kan die kinders sonder moeite elke dag by die skool kom.

Helpende Hand stap ʼn pad met die gesin om seker te maak die kinders kry ʼn goeie opvoeding en hoop ook om daardeur die armoedekringloop te verbreek.

As jy vandag hier lees en wil help, besoek gerus www.bemagtignkind.co.za. Jy kan vandag ʼn verskil maak – ʼn lewensveranderende, ewigdurende verskil.

  • Alle name in die artikel is skuilname om die kinders se identiteit te beskerm.
  • Suzette Oosthuizen is die hoof van sentrums en nasionale takke by Solidariteit Helpende Hand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.