Spar, radiostasie spring in om ouerlose huishouding te help

Amy, staan tans aan die hoof van haar gesin. Sy is maar net 15 jaar oud. (Foto verskaf)

Die Spar Women’s Virtual Challenge het onlangs ʼn huishouding onder die leiding van ʼn 15-jarie meisie gehelp, ná ʼn pleidooi van Jacaranda FM se Good Morning Angels-span.

Amy*, wat self nog ʼn leerder is, staan tans in as hoof van haar huisgesin. Die gesin bestaan uit haar 12-jarige sussie, 10-jarige boetie en ʼn 22-jarige suster wat verstandelik gestremd is. Hulle ma is in die hospitaal opgeneem om behandeling vir vlak-4-kanker te ontvang. Amy se pa is nie betrokke by die gesin nie.

Benewens haar eie skoolwerk moet Amy ook omsien na die behoeftes van haar boetie en susters, help met huiswerk, kosmaak en die huis skoonhou. Sy werk boonop oor naweke om ʼn inkomste te verdien om te help om huur en elektrisiteit te betaal. Sy doen dit alles terwyl sy steeds verseker sy kry goeie punte op skool.

ʼn Onderwyseres van een van die kinders, Angelique Barnard, het na die Good Morning Angels-span van die Gautengse radiostasie uitgereik om die gesin finansieel by te staan.

“Hulle is die wonderlikste kinders wat ek nog ooit ontmoet het. Hulle het goeie maniere en is boonop altyd vriendelik. Die kinders presteer met hulle skoolwerk en hulle huiswerk is op datum te midde van die omstandighede,” het Barnard vir die span in haar versoek geskryf.

Volgens Barnard werk die ouer suster wel, maar sy verdien slegs R900 per maand en ʼn toelaag van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa).

“Hulle het nie genoeg kos vir vier mense nie. Ek en my man het probeer help deur tweedehandse klere en skoene in te samel en kruideniersware te koop, maar ek het gehoop Good Morning Angels kan ook help met geskenkbewyse vir kruideniersware, elektrisiteit en om hulle huur te help betaal.”

Barnard sê dit pla haar geweldig dat die vier kinders op hulle eie moet probeer oorleef. “Hulle kan nie van mekaar verwyder word nie, hulle sal nie sonder mekaar oorleef nie. Ek huil in my hande as ek dink aan hulle omstandighede en hoe gelukkig en bevoorreg ons steeds is.”

Dit is hierdie pleidooi wat die span agter Spar se virtuele wedloopuitdaging dadelik geïnspireer het om te help. Amy se verhaal van veerkragtigheid in die aangesig van hartseer en teëspoed was veral vir hulle besonders. Om die gesin se las te help verlig, het Spar onderneem om hulle van Mei tot Desember met ʼn maandelikse geskenkbewys vir kruideniersware ter waarde van R3 000 by te staan. Die algehele skenking beloop R25 000.

Amy se triomf oor haar omstandighede spreek direk tot die tema van vanjaar se Spar Women’s Virtual Challenge, wat omskryf word in die hutsmerk #IRise. Die 2022-aflewering van die wedloop is ʼn huldeblyk aan die talle vroue en meisies wat hulself in diens aan ander opoffer en bo hulle daaglikse uitdagings uitstyg.

“Om ʼn verskil te maak in die lewe van die gemeenskappe wat ons bedien, is lank reeds ʼn integrale deel van Spar se kultuur. Ons is deel van ons gemeenskappe en word diep geraak deur gemeenskapslede se verhale van veerkragtigheid,” het Retha Ingenbleek, wedlooporganiseerder en hoof van borgskappe by Spar Noord-Rand, gesê.

“Hoewel die lot van Amy en haar broer en susters nie ʼn geïsoleerde geval is nie, hoop ons dat ons bydrae ʼn bietjie verligting en hoop aan ʼn gesin in nood sal bied.”

Die gesin het ekstra ondersteuning gekry uit die Good Morning Angels-fonds, wat sal sorg dat hulle huur van die volgende sewe maande, wat R35 000 beloop, gedek sal word. Verder dra die Angels ook by tot die elektrisiteitsrekening van Amy se gesin wat altesaam R14 000 is tot Desember.

‘n Virtuele uitdaging wat wil help

Die Spar Women’s Virtual Challenge se belofte van ondersteuning aan Amy en haar broer en susters is deel van die jaarlikse geleentheid se breër doelwit om die lewens van Suid-Afrikaners te verbeter. Elke jaar neem die virtuele padwedloop ʼn liefdadigheidsaak aan wat ʼn groter kwessie in die samelewing takel.

Vir elke inskrywing in vanjaar se Spar Women’s Virtual Challenge sal ʼn pak sanitêre doekies geskenk word om ʼn meisie in die skool te hou deur die Spar Petals Project.

Inskrywings vir vanjaar se Spar Women’s Virtual Challenge beloop R120 per persoon, en as deel van die inskrywingsfooi sal elke deelnemer ʼn virtuele uitdagingspak ontvang. Die pakkie sluit ʼn amptelike virtuele uitdaging-T-hemp, toegang tot die My Virtual Challenge– digitale tydskrif, ʼn gesigsokkie (buff) en ʼn medalje in.

Vir meer inligting en om vas te stel hoe om in te skryf, besoek www.sparvirtualchallenge.co.za. Inskrywings is beperk tot 60 000 deelnemers. Bespreek jou dagboek vir Saterdag 3 September om aan die virtuele uitdaging in jou omgewing deel te neem.

Besoek ook Spar Women’s Virtual Challenge se Facebook-blad of Instagram vir meer inligting oor vanjaar se uitdaging en die liefdadigheidsake wat die uitdaging ondersteun.

*Amy is ‘n skuilnaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Janine ·

Sjoe.. mens kla oor simpel goed, en dan lees jy die. My hart breek vir almal wat sukkel! :'(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.